Delf dieper deur RomeineVoorbeeld
Deur die evangelie is daar redding vir elkeen wat glo (Romeine 1:1-17)
Paulus skryf hierdie brief waarskynlik van Korinte af naby die einde van sy derde sendingreis, ongeveer in die jaar 57 n.C. in die 3 maande wat hy in Griekeland deurgebring het (Hand. 20:2-3). Hy is op pad met die dankoffers wat gemeentes in Masedonië en Agaje bygedra het vir die gemeente in Jerusalem (vgl. Rom. 15:25-26 met 1 Kor. 16:1-7) .
Hy stuur die brief waarskynlik saam met Febe (Rom. 16:1-2 – Kenchreë is die oostelike hawe in Korinte), ook omdat hy graag met hulle hulp die evangelie verder sou wou vat na Spanje toe (Rom. 15:22-33).
Die brief is gerig aan die gemeente in Rome, waarvan, hoewel hy nie by hulle stigting betrokke was nie (Jode uit Rome het op Pinksterdag die evangelie gehoor, wat moontlik tot die stigting van die gemeente van Rome aanleiding gegee het – vgl. Hand. 2:10), baie mense aan hom bekend is (Rom. 16:3-16).
Na Paulus se inleidende groeteboodskap (1:1-7), dank hy God vir die geloof van die gelowiges in Rome (1:8-10) en gee twee redes vir sy skrywe (gedikteer aan Tertius – Rom. 16:22) :
- Hy wil Rome besoek (1:11-15).
- Hy wil die boodskap van die evangelie bevestig dat daar redding is vir almal wat glo (1:16-17).
Paulus groet die gemeente in Rome (1:1-7)
Let op die manier waarop Paulus homself bekend stel. Hy is: “’n dienskneg van Christus Jesus, ‘n geroepe apostel, en afgesonder vir die evangelie van God.” Die verkondiging van hierdie evangelie is die spil waarom sy lewe draai.
Die inhoud van hierdie evangelie is deur die vroeëre profete in die heilige Skrifte belowe. Die evangelie van Jesus Christus is dus volledig in ooreenstemming met die heilige Skrifte.
Die inhoud van hierdie belofte in die Skrifte is vervul deur die geboorte van Christus Jesus. Hy is na die liggaam uit die nageslag van Dawid gebore, d.w.s. ware mens. Maar, Hy is ook op grond van sy opstanding uit die dood, soos aangedui deur die Gees van heiligheid, die Seun van God, d.w.s. ware God.
Jesus Christus self, ons Here, het Paulus in genade as apostel geroep om mense uit al die heidenvolke tot geloofsgehoorsaamheid te bring.
Paulus dank God vir die geloof van die gelowiges in Rome en wil hulle besoek (1:8-12)
Anders as met die Galasiërs, prys Paulus hierdie gemeente vir hulle geloof. Hy wil hulle besoek om wedersyds in die geloof versterk te word.
Paulus wil sy roeping en hartsbegeerte nakom (1:13-15)
Hy wil met sy besoek, soos op ander plekke, sy roeping en hartsbegeerte om mense vir Christus te wen, by hulle nakom. Hierdie roeping sluit die Grieke en die nie-Grieke (heidene of onbeskaafdes), die wyses en die onverstandiges in (vgl. 1 Kor 9:19-23). Hy wil ook deur die gemeente gehelp word om na Spanje te reis (vgl. Rom 15:24).
Deur die evangelie is daar redding vir elkeen wat glo (1:16-17)
Let op hoe opgewonde hy oor die ingeboude Goddelike krag van die openbaring van die evangelie van Jesus Christus is wat mense vryspreek van die toorn van God en in die regte verhouding met Hom bring. Hy skaam hom nie vir dié evangelie nie, want die krag daarvan is vir Jode sowel as Grieke: “vir elkeen wat glo.” Sola fide – deur geloof alleen.
In dié evangelie word geopenbaar dat om in die regte verhouding met God te kom “geheel en al op geloof berus,” soos daar geskryf staan: “Die regverdiges, sal deur hulle geloof lewe.” (vgl. Hab. 2:4 NLV.
Boodskap en betekenis
Romeine 1:1-17 verkondig die kernboodskap van die evangelie: redding deur geloof in Jesus Christus, beskikbaar vir alle mense, Jode sowel as Grieke. Paulus stel homself as ‘n geroepe apostel en dienskneg van Christus voor, afgesonder vir die evangelie wat in die Skrifte belowe en in Christus vervul is. Jesus is beide mens (uit die nageslag van Dawid) en God (deur sy opstanding bevestig). Paulus loof die Romeinse gelowiges vir hul geloof en deel sy begeerte om hulle te besoek, wedersyds in die geloof te versterk, en sy roeping na die heidene voort te sit. Hy beklemtoon die evangelie se krag om mense vry te spreek en hulle in ‘n regte verhouding met God te bring, gebaseer op geloof alleen ("Sola fide"). Die kern van hierdie evangelie is dat "die regverdige deur geloof sal lewe."
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Delf dieper deur Paulus se meesterlike uiteensetting van die evangelie in Romeine. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Romeine met insiggewende kommentaar op die kernwaarhede van redding deur geloof, die vreugde van 'n regte verhouding met God, en die krag van die Heilige Gees. Dit lei jou om die praktiese implikasies van jou geloof te ontdek, die beloftes van God te omhels, en jou lewe in Sy diens te stel. Of jy vir die eerste keer Romeine lees of jou bestaande kennis wil verdiep, hierdie plan sal jou inspireer en lei na 'n vars verhouding met die Here Jesus Christus.
More
Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: bybelskool.com