Delf dieper deur RomeineVoorbeeld
God gee die mensdom aan sonde oor weens hulle verwerping van die algemene openbaring (Romeine 1:18-32)
Die boodskap wat Paulus aan hulle bring, deel hy in tien dele op:
- Alle mense het gesondig: heidene en Jode (1:18-3:18)
- Mense word deur geloof in 'n regte verhouding met God gebring (3:19-4:25)
- Die resultaat van die regte verhouding met God is vrede met Hom (5:1-11)
- Die implikasies van die regte verhouding met God is oorwinning oor sonde (5:12-6:23)
- Die wet en sy funksies (7:1-25)
- Verdere implikasies van die regte verhouding deur geloof (8:1-39)
- God se plan om redding deur geloof alleen aan Jode en heidene aan te bied (9:1-33)
- Redding vir die Israeliete en die heidene in Christus (10:1-11:36)
- Hoe die gelowiges moet leef (12:1-15:13)
- Paulus en sy bediening (15:14-33)
Alle mense weet van God vanweë die algemene openbaring in die Skepping (1:18-20)
Die eerste hoofdeel van Paulus se boodskap strek van Romeine 1:18-3:18, en verkondig die boodskap dat alle mense gesondig het: heidene en Jode. Dit fokus op die mensdom se verwerping van God (1:18-32), sowel as die Jode wat nie God se oordeel volgens die wet geslaag het nie (2:1-3:8). Almal is dus sondig, Jood en heiden (3:9-18).
Paulus het so pas in Romeine 1:16-17 die sentrale opmerking gemaak dat die evangelie van verlossing ‘n openbaring van God is. Dit word nou opgevolg in Romeine 1:18-32 met ‘n soortgelyke stelling dat God se toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van mense ‘n openbaring van God uit die hemel is.
Hierdie gedeelte beskryf daarom die toorn van God oor die goddeloosheid (asebia) en ongeregtigheid (adikias) van die hele mensdom (hoofstuk 2 sal uitwys dat die Jode ook daaraan skuldig is, omdat hulle die wet oortree).
Die tragedie van die mensdom is dat hulle God nie as Skepper erken nie ten spyte van die algemene openbaring. Omdat God se wese en werke vir almal sigbaar is, kan niemand hom- of haarself egter verontskuldig dat hulle nie geweet het nie, want die kennis van God is van altyd af sigbaar. Trouens, in hoofstuk 2 sal Paulus uitwys dat die wet van God in die harte van alle mense geskryf is (Rom. 2:15).
God is dus in die Skepping sigbaar, en sy wil in ons eie hart. Die mensdom kies egter om eerder afgode te dien. Hulle verruil die aanbidding van God as Skepper vir die aanbidding van die skepping en sy skepsels.
Dit is ‘n integrale argument vir alles wat hierna gaan volg. Die gevolg van hierdie verwerping van God deur die mensdom is God se driedubbele "oorgee”-aksie aan sonde.
God gee die mensdom aan immoraliteit oor omdat hulle Hom verwerp (1:21-24)
God gee vanweë die verwerping die mensdom in die eerste plek oor aan seksuele immoraliteit (akatharsia) om mekaar se liggame op perverse en skandelike maniere te onteer (verse 24-25). Seksuele immoraliteit in al sy vorme is dus ‘n oordeel van God oor die sondigheid en afvalligheid van die mensdom.
God gee die mensdom aan skandelike drange oor omdat hulle Hom verwerp (1:25-27)
God gee vanweë die verwerping die mensdom in die tweede plek oor aan skandelike seksuele begeertes (pathê atimias) waar vrouens met vrouens en mans met mans teen-natuurlike seksuele omgang het en in hulleself die straf vir hulle dwaling ontvang.
Paulus gebruik die algemene woorde vir “manlik” (arsen) en “vroulik” (thelus) in sy beskrywing van selfdegeslag seksuele gedrag.
Dit is betekenisvol, want hy sou ander woorde kon gebruik het wat duidelik sou maak dat hy bv. van pederastie (mans wat seks het met seuns) praat. Die tipe selfdegeslag seksuele verkeer wat hier ter sprake is, is egter duidelik konsensueel en wederkerig en word nie as uitbuiting of mishandeling geteken nie. Vroue was in elk geval nooit by pederastie betrokke nie, maar tog word selfdegeslag seksuele verkeer tussen vroue ook afgewys.
Dieselfde geld die gebruik van “teen-natuurlik” (para fusin) om selfdegeslag seksuele gedrag in hierdie gedeelte te beskryf. Dit kom uit die Skeppingsverhale wat die huwelik tussen een man en een vrou as maatstaf neergelê het.
Soos William Loader sê: “With a fair degree of probability Paul would have had much in common with Philo and Josephus and other Jewish writers of his time, who, in addition to such common values, also equated the way things ought to be, nature (including what we might sometimes call convention), with how God made things to be, creation, and rejected excess.” (Sexuality in the New Testament).
God gee die mensdom aan korrupte denkwyses oor omdat hulle Hom verwerp (1:25-32)
God gee vanweë die verwerping die mensdom in die derde plek oor aan korrupte, onbetaamlike denkwyses (adokimov noun) wat na vore kom in allerlei sondige en onbetaamlike gedrag. Trouens, die mense doen nie net hierdie verwerplike dinge nie, maar praat dit goed dat ander dieselfde sondes pleeg.
God het dus besluit om die mensdom nie meer te beskerm van die vernietigende gevolge van hulle perverse keuse vir die skepping/skepsels eerder as die Skepper nie.
Boodskap en betekenis
In hierdie gedeelte beklemtoon Paulus dat God Homself aan alle mense openbaar deur die skepping, sodat niemand verskoning het om Hom te verwerp nie. Alhoewel die mensdom God se wese en werke kan raaksien, kies hulle doelbewus om Hom te ontken en eerder afgode en die skepping self te aanbid. Hierdie verwerping lei tot God se oordeel deurdat Hy die mensdom oorlaat aan die gevolge van hul sondige keuses. Dit sluit in seksuele immoraliteit, skandelike drange, en korrupte denkwyses wat tot allerlei sondige gedrag lei. Hierdie oorgawe wys dat die afvalligheid van die mensdom nie net tot morele verval lei nie, maar ook tot God se regverdige toorn oor hulle goddeloosheid en ongeregtigheid.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Delf dieper deur Paulus se meesterlike uiteensetting van die evangelie in Romeine. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Romeine met insiggewende kommentaar op die kernwaarhede van redding deur geloof, die vreugde van 'n regte verhouding met God, en die krag van die Heilige Gees. Dit lei jou om die praktiese implikasies van jou geloof te ontdek, die beloftes van God te omhels, en jou lewe in Sy diens te stel. Of jy vir die eerste keer Romeine lees of jou bestaande kennis wil verdiep, hierdie plan sal jou inspireer en lei na 'n vars verhouding met die Here Jesus Christus.
More
Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: bybelskool.com