Delf dieper deur RomeineVoorbeeld

Delf dieper deur Romeine

DAG 4 VAN 25

Blote kennis van die wet of die besnydenis kan jou nie red nie (Romeine 2:17-29)

Blote kennis van die wet bring jou nie in die regte verhouding met God nie (2:17-24)

Paulus brei verder oor God se oordeel uit, want hy weet baie Jode voel regverdig in hulle eie oë. Omdat hulle Jode is, en die wet van God ontvang het, dink hulle dat hulle God se wil kan onderskei. En dit is genoeg.

Die probleem is egter dat dit nie die kennis van die wet is wat jou in die regte verhouding met God bring nie, maar die doen van daardie wet. Dit help nie jy kan sê wat die wet verkondig nie, maar hou jou nie self aan daardie wet nie.

Paulus pas daarmee die eerste beginsel toe op die denke van die Jode – God se regverdige oordeel – en wys dat dit hulle ook insluit.

Paulus gebruik oortredings van die sewende of agtste gebod uit die tweede tafel van die wet (egbreuk en diefstal) om sy verbeelde Joodse gespreksgenoot te oortuig dat die doen van die wet belangriker is as die kennis daarvan. God oordeel immers regverdig. Presies wat die eerste beginsel in die eerste perikoop sê (2:1-11)

Dieselfde geld vir die oortreding van die eerste twee gebooie uit die eerste tafel van die wet (afgode). Dit help nie jy verafsku afgode nie, maar jy verryk jouself met gawes wat vir die tempel bedoel is nie (tempelroof). God se oordeel sal vir seker ook daaroor gevel word, want Hy oordeel regverdig.

As jy dus self skuldig is aan die oortredinge van die wet, moet jy liefs jou mond hou, want jy doen God daardeur oneer aan en gee die heidene aanleiding om God te belaster.

Die besnydenis alleen kan jou nie red nie (2:25-29)

Hy gaan nog verder en pas die tweede beginsel – dat God ook diegene onder die wet oordeel – toe op die Jode met verwysing na die idee dat die besnydenis hulle sal red van God se oordeel.

Paulus erken dat die besnydenis inderdaad van nut is, maar slegs as jy die wet nakom. As jy 'n oortreder van die wet is, het jou besnedenheid onbesnedenheid geword.

Om in die regte verhouding met God te kom, is ‘n saak van die hart en nie van die liggaam nie. Dit is ‘n geestelike of innerlike realiteit, en nie ‘n uiterlike of letterlike realiteit nie.

Jy kan miskien nog lof ontvang van mense as jy jou laat besny, maar vir seker nie van God nie. Hy oordeel die gedrag wat kom uit die hart.

Boodskap en betekenis

Paulus waarsku dus in Romeine 2 sy verbeelde Joodse gespreksgenoot dat niemand homself kan verontskuldig voor God nie, want almal is sondig. Soos hy dit gedoen het in Romeine 1 waar die oordeel oor die mensdom gevel is wat in opstand is teen God.

Let op dat God op twee maniere in hierdie hoofstuk uitgebeeld word:

  1. As ryk in goedheid, verdraagsaam en geduldig wat deur sy goedheid mense tot bekering wil lei (Rom. 2:4).
  2. As die Een wat regverdig oordeel en elkeen vergeld volgens sy dade, ook die Jode (Rom. 2:6). Dit sluit sy toornige straf in.

Dit beteken dat God niemand voortrek nie. Hy hanteer Jood en nie-Jood op dieselfde manier. Albei prentjies van God – genade en oordeel – is kante van God wat ons moet raaksien en erken. Ons kan nie net aan die een vashou nie.

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Romeine

Delf dieper deur Paulus se meesterlike uiteensetting van die evangelie in Romeine. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Romeine met insiggewende kommentaar op die kernwaarhede van redding deur geloof, die vreugde van 'n regte verhouding met God, en die krag van die Heilige Gees. Dit lei jou om die praktiese implikasies van jou geloof te ontdek, die beloftes van God te omhels, en jou lewe in Sy diens te stel. Of jy vir die eerste keer Romeine lees of jou bestaande kennis wil verdiep, hierdie plan sal jou inspireer en lei na 'n vars verhouding met die Here Jesus Christus.

More

Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: bybelskool.com