Delf dieper deur RomeineVoorbeeld

Delf dieper deur Romeine

DAG 8 VAN 25

Abraham het God se beloftes deur die geloof toegeëien (Romeine 4:13-25)

In die tweede perikoop van hoofstuk 4 fokus Paulus op Abraham se geestelike vaderskap van almal wat glo, nie net dié wat deur die besnydenis deel van die Godsvolk geword het nie.

Paulus praat hier oor twee beloftes wat God aan Abraham gegee het: dat hy die wêreld as besitting sal ontvang, en dat hy die vader van baie nasies sal wees.

Abraham en sy nageslag het die belofte ontvang dat hulle die wêreld as besitting (“erfgenaam van die kosmos”) sou ontvang. Dit is ’n droom-belofte, dié visie waaraan gelowiges, veral in swaar tye, vasgehou het, ’n visie op ’n nuwe volmaakte werklikheid waar die regte verhouding met God in sy volle konsekwensies geniet kan word, en waar die sonde en die gevolge van die sonde geen invloed meer sal hê nie.

Paulus wys egter weereens onomwonde enige verdienste vir hierdie beloftes op grond van wetsonderhouding af, en daarmee ’n lewe gebaseer op die nalatenskap van die wet van Moses. Die regte verhouding met God sowel as sy beloftes word uit genade gegee, deur die geloof.

Geloof is ’n leë hand wat na God uitgesteek word, waarmee die genade van ‘n regte verhouding uit God se hand ontvang word. Anders sou geloof sy betekenis verloor en die beloftes hulle krag.

Deur geloof kon Abraham ook die tweede belofte ontvang, en dit is om die vader van baie nasies te word (Gen. 17:5) met die geweldige voordeel vir die nasies dat hulle daardeur ook kon deel in die beloftes van God deur geloof.

Dit gaan egter nog dieper: Abraham se geloof kom ooreen met die anderr beskrywings van God in die OT. God maak dooies lewend; Hy bring dinge uit niks uit (ex nihilo) tot stand. Net so het Abraham aan die belofte van God dat hy ’n kind sou hê, vasgehou, al was sy liggaam gedaan en Sara al te oud (vgl. Heb. 11:11-12). Dit is asof hy ’n kind uit die niks uit in aanskyn geglo het, omdat hy aan die God vasgehou het wat juis sulke dinge kan doen!

Let op hoe Paulus in vers 25 die ontvangs van hierdie beloftes aan Jesus se opstanding verbind. Dit is dus nie net die offerdood van Jesus wat die regte verhouding met God bewerk nie (Rom. 3:25-26), maar ook sy opstandingslewe (Rom. 4:24-25).

Dit is betekenisvol, omdat dit die opgestane Here is wat ’n teenswoordige krag in ons word om in die regte verhouding met God te kan lewe (vgl. Rom. 8:10-11 – “Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak … die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is”).

Daarbenewens word dieselfde “oorgee”-taal (in Grieks paradidōmi) as in Romeine 1 gebruik. God het Jesus “oorgegee” (paradidōmi) aan die kruisdood en opgewek ter wille van ons regverdigmaking. Ons word in Christus dus vrygemaak van die seksuele immoraliteit, skandelike seksuele begeertes, korrupte en verwerplike denke wat die mensdom gevange in hulle sonde hou.

Dieselfde gedagte sal ook in Romeine 8:32 gebruik om die sekerheid van ons verlossing aan die “oorgee” van Christus ter wille van ons vryspraak en oorwinning uit te spel.

Boodskap en betekenis

Paulus wys daarop dat die beloftes aan Abraham – om die wêreld as erfdeel te ontvang en om die vader van baie nasies te wees – slegs deur geloof vervul kon word. Abraham se geloof in God, wat uit niks skep en lewe uit die dood bring, is 'n inspirasie vir alle gelowiges. Dieselfde geloof verbind ons met Jesus se opstanding, wat nie net versoening van ons sonde bring nie, maar ook die krag gee om in 'n regte verhouding met God te leef. Paulus koppel hierdie geloof en genade aan God se oorweldigende daad van oorgawe in Christus, wat verlossing en regverdigmaking bewerk.

Dag 7Dag 9

Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Romeine

Delf dieper deur Paulus se meesterlike uiteensetting van die evangelie in Romeine. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Romeine met insiggewende kommentaar op die kernwaarhede van redding deur geloof, die vreugde van 'n regte verhouding met God, en die krag van die Heilige Gees. Dit lei jou om die praktiese implikasies van jou geloof te ontdek, die beloftes van God te omhels, en jou lewe in Sy diens te stel. Of jy vir die eerste keer Romeine lees of jou bestaande kennis wil verdiep, hierdie plan sal jou inspireer en lei na 'n vars verhouding met die Here Jesus Christus.

More

Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: bybelskool.com