Delf dieper deur RomeineVoorbeeld
Omdat ons in die regte verhouding met God is, kan ons heilig leef (Romeine 6:15-23)
Die feit dat ons nie meer onder die wet is nie, kan ons laat dink dat ons maar sonde kan doen, want ons is onder die genade. Paulus sê egter: “Hoegenaamd nie!”
Paulus som dus die vierde hoofdeel van sy boodskap op met die uitspraak dat ons óf slawe sal wees van die sonde, wat tot die dood lei, óf slawe van gehoorsaamheid aan God, wat lei tot ‘n regte verhouding met Hom.
Dit is immers God wat ons vry gemaak het van die sonde. Ons is nou “slawe” van die regte verhouding met God. Ons stel ons ledemate in diens van God om heilig te leef, nie in diens van onreinheid en losbandigheid nie. Ons is nou aan God en die regte verhouding met Hom gebonde.
Die vrug van losbandigheid was immers skandelik en die uiteinde daarvan die dood, soos ons in Adam dit kon raaksien. Noudat ons van die sonde vrygemaak is en diensbaar aan God geword het, lewer ons die vrug van heiligmaking, en die wonderlike uiteinde hiervan is die ewige lewe.
Die wonderlike boodskap is: “Die loon van die sonde is die dood; maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.”
Boodskap en betekenis
Romeine 6 verduidelik dat die regte verhouding met God radikale verandering bring in hoe gelowiges leef, deurdat hulle van die mag van sonde bevry is en vir God lewe. Paulus gebruik die beeld van twee heersers: sonde en God. Deur Christus se kruisdood en opstanding is gelowiges nie meer slawe van die sonde nie, maar slawe van geregtigheid, dws gehoorsaam aan die regte verhouding met God. Die vrug van hierdie gehoorsaamheid is heiligmaking, met die ewige lewe as uiteinde.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Delf dieper deur Paulus se meesterlike uiteensetting van die evangelie in Romeine. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Romeine met insiggewende kommentaar op die kernwaarhede van redding deur geloof, die vreugde van 'n regte verhouding met God, en die krag van die Heilige Gees. Dit lei jou om die praktiese implikasies van jou geloof te ontdek, die beloftes van God te omhels, en jou lewe in Sy diens te stel. Of jy vir die eerste keer Romeine lees of jou bestaande kennis wil verdiep, hierdie plan sal jou inspireer en lei na 'n vars verhouding met die Here Jesus Christus.
More
Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: bybelskool.com