Delf dieper deur RomeineVoorbeeld
Ek leef nie meer onder beheer van die wet of die sonde nie (Romeine 7:1-13)
Die vyfde hoofdeel van Paulus se boodskap strek van Romeine 7:1-25 en handel oor die wet en sy funksies. Paulus beskryf eers die vryheid wat gelowiges geniet van die slawerny van die wet omdat hulle aan Christus onderworpe is (7:1-6) en volg dit op met ‘n verdediging van die wet deur uit te wys dat dit die sonde is wat die oorsaak is van die stryd wat woed in ons (7:7-25).
Dit help baie om die volgende in gedagte te hou om sin te maak uit Paulus se gedagtegang in hoofstuk 7-8:
- Let op dat Paulus in die eerste perikoop Romeine 7:1-6 van die gemeenskap van gelowiges praat in die meervoud. Hy kontrasteer hier die mense onder die wet met die mense onder beheer van die Gees wat ’n inleiding is op wat gaan volg in hoofstuk 8.
- In die tweede perikoop Romeine 7:7-25 praat hy van homself (outobiografies) in die enkelvoud as voorbeeld van ‘n mens in wie die sonde stryd voer.
- In Romeine 8:1-3 gebruik hy ook die enkelvoud om te korrespondeer met Romeine 7:7-25 en te wys dat die wet van die Gees elke gelowige vrygemaak het van die wet van sonde en die dood.
- Daarna praat hy in Romeine 8:4-17 verder in die meervoud, waar hy van die effek van die heerskappy van die Gees op die gemeenskap van gelowiges praat.
Die dood vir die sonde bring vryheid van die wet (7:1-6)
In die vorige hoofstuk het Paulus afgereken met die gedagte van sommige wat dink dat ons maar sonde kan doen, want ons is nie meer onder die wet nie, maar onder die genade. “Hoegenaamd nie!”
Maar, hy wil steeds die boodskap van die vryheid van die wet verkondig, en gebruik ‘n voorbeeld van ‘n huwelik waar die huweliksmaats net aan mekaar gebonde is solank hulle albei leef. Wanneer een sterwe, is die ander een onthef van hul maat. Hulle is vry om met iemand anders te trou.
Die huwelik tussen ons en die sonde – by wyse van spreke – is nou opgehef deur ons dood vir die sonde. Dieselfde geld ons verhouding met die wet. Ons is nou vry om in ‘n nuwe verhouding aan Christus te behoort en diensbaar aan Hom te wees: “in die nuwe bedeling van die Gees, en nie in die ou bedeling van die letter van die wet nie.”
Hierdie kontras tussen die lewe onder die beheer van die Gees en die lewe onder die beheer van die wet sal in hoofstuk 8 verder geneem word.
Die wet is goed en openbaar wat sonde is (7:7)
Paulus weet dat sommige dan kan dink dat daar fout is met die wet, en dit wil hy voorkom. Die wet is nie sonde nie. Weereens: “Hoegenaamd nie!”
Die wet is immers goed en openbaar die sonde vir wat dit is.
Ek kies hier vir die outobiografiese standpunt – Paulus wat van sy lewenstryd as gelowige teen die sonde praat – teenoor die standpunt wat dit sien as ’n beskrywing van die onverloste mens en sy verslawing aan die sonde. Die eerste persoon enkelvoud oortuig my daarvan.
Die sonde kry egter ironies genoeg ‘n vastrapplek in ons deur die wet (7:8-13)
Die probleem met die wet is dat die sonde – ironies genoeg – deur die wet ‘n vastrapplek in ons kry. Trouens, weens ons uitermatige sondigheid, wek die wet allerlei begeertes in ons op, iets wat nie sou gebeur het, as ons sonder die wet sou gewees het nie.
Die sonde mislei ons verder op gruwelike wyse deur die ware aard van die sonde vir ons te verberg, dws dat dit die dood vir ons beteken.
Paulus hanteer dan die vraag of dit wat goed is, die wet, dan vir hom die dood gebring het. Want, dit is hoe mense daaroor kon dink. Weereens antwoord hy: “Hoegenaamd nie!”
Want, die wet was nodig om hom van sonde te oortuig, en is daarom dus goed, regverdig en heilig.
Boodskap en betekenis
Paulus verduidelik die gelowige se vryheid van die slawerny van die wet deur Christus. Soos die dood 'n huweliksband oplos, het ons dood vir die sonde ons bevry van die wet, sodat ons nou in die nuwe lewe van die Gees kan leef. Hierdie vryheid beteken egter nie dat die wet verkeerd of sondig is nie.
Inteendeel, die wet is goed, heilig en regverdig, omdat dit sonde ontbloot. Ironies genoeg gee die wet aan sonde 'n vastrapplek in ons, omdat dit deur ons sondige natuur begeertes en opstand teen God aanwakker. Tog dien die wet as 'n onmisbare instrument om ons van die vernietigende aard van sonde te oortuig en ons te lei na die verlossing wat in Christus gevind word.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Delf dieper deur Paulus se meesterlike uiteensetting van die evangelie in Romeine. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Romeine met insiggewende kommentaar op die kernwaarhede van redding deur geloof, die vreugde van 'n regte verhouding met God, en die krag van die Heilige Gees. Dit lei jou om die praktiese implikasies van jou geloof te ontdek, die beloftes van God te omhels, en jou lewe in Sy diens te stel. Of jy vir die eerste keer Romeine lees of jou bestaande kennis wil verdiep, hierdie plan sal jou inspireer en lei na 'n vars verhouding met die Here Jesus Christus.
More
Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: bybelskool.com