Delf dieper deur RomeineVoorbeeld
God verheerlik en versorg ons in sy onveranderlike liefde (Romeine 8:18-39)
Paulus sluit die sesde hoofdeel van sy boodskap af met die uitspraak dat God diegene verheerlik (8:18-30) en versorg (8:31-39) wat in die regte verhouding met Hom is.
Die skepping smag met vurige verlange dat God sy heerlikheid sal openbaar (8:18-25)
Let op hoe Paulus met hierdie gedeelte nie net die gevolge van die vryspraak van God vir sondige mense uitspel nie, maar ook vir die hele skepping. Dit is nie net God se kinders wat bevry sal word om in vrede met God en met vrye toegang tot Hom te kan lewe nie. Nee, dit is ook die skepping wat bevry sal word van ‘n sinlose bestaan.
Daarmee lê Paulus ook ’n direkte verband met Romeine 1:18-32 en die beskrywing van die verganklikheid en verydeling wat met die goddeloosheid en ongeregtigheid in die skepping ingekom het. Die mensdom is immers “oorgegee” aan seksuele immoraliteit, skandelike seksuele begeertes, en korrupte verwerplike denke, omdat hulle God verwerp het.
God het egter sy Seun Jesus Christus aan elkeen wat in Hom glo, “oorgegee” (Rom. 4:25; 8:32), sodat God hulle kan verlos deur die vryspraak wat Jesus vir hulle verwerf het deur sy kruisdood en opstanding en die Vader daarom hulle as mede-erfgename met Christus die koninkryk van God kan laat beërwe.
Die skepping wag nou met vurige verlange na die finale bevryding van die kinders van God, omdat dit ook sy eie bevryding sal beteken.
Interessant is dat die werk van die Gees nie net is om ons te oortuig van ons kindskap nie, maar die hoop in ons ook aan die brand te steek om saam met die skeping met volharding te wag op ons publieke aanneming as kinders van God, en die bevryding van ons liggame.
Die Gees kom ons tot hulp, en tree volgens die wil van God vir die heiliges in (8:26-30)
Soos die Israeliete aanvanklik die eerste gawes van hulle oes vir God gebring het as offer, gee God nou aan ons die eerste gawe van die oes van sy nuwe skepping, die Gees. Die Gees se getuienis saam met ons gees (Rom. 8:16) word aangevul met versugtinge en pleidooie van die Gees vir ons (Rom. 8:26) dat alles ten goede sal meewerk en ons gelykvormig sal wees aan Jesus Christus (Rom. 8:28).
Die Gees tree vir ons in deur vanuit ons hart, vanuit ons onverwoorde gedagtes, met God in gesprek te tree. Hy bring ons sugte voor God in die vorm van sy eie versugtinge, om dié dinge wat ons nie weet nie in goddelike terme aan die Vader te bring.
Daarom kan ons aanhou om te bid, selfs al is dit ‘n worsteling, selfs al weet ons nie presies wat ons moet bid nie. Want, dit is dan wat die wonder gebeur: “Hy wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, dat Hy volgens die wil van God vir die heiliges intree.”
En dit is daarom dat: “Ons weet dat alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet, diegene wat volgens sy voorneme geroep is.”
Paulus sê verder dat God intens besig is met ons lewens: “want Hy het diegene wat Hy reeds vooruit gekies het, ook vooruit bestem om gelykvormig aan die beeld van sy Seun te word, sodat Hy die Eersgeborene onder baie broers kan wees; en diegene wat Hy vooruit bestem het, het Hy ook geroep; en diegene wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek; en diegene wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.”
Die woordjie vir “vooruit bestem” (proginōskō) kan ook vertaal word as “vooruit geken.” Dit is omdat God ons vooruit geken het, van ons geweet het selfs nog voor ons gebore is, dat Hy ons bestem het om gelykvormig aan die beeld van sy Seun te word.
God wou hê dat Jesus nie alleen as mens in die hemel saam met Hom sal wees nie, maar dat daar ‘n skare broers en susters vir Hom sal wees, ‘n nuwe geloofsfamilie.
Jesus is die prentjie wat God vir almal van ons het. Hy is die Eersgeborene (prōtotokos), die sjabloon, die templaat, die “mold” van die tipe mens wat God van almal van ons wat in Hom glo, wil maak.
Daarmee word God se beeld in ons ook herstel (Gen. 1:27).
Omdat God vir ons is, kan niemand ons sy vryspraak ontneem nie (8:31-34)
Paulus kan dus nie anders as om met ’n lofrede af te sluit: as God vir ons is, wie kan teen ons wees?! Daar is geen aanklag of veroordeling wat ons die vryspraak van God kan ontneem nie.
Trouens, dit is Christus Jesus aan die regterhand van God sit en wat ook vir ons intree, soos die Gees dit hier op aarde in ons harte doen.
Niks kan ons skei van Christus se liefde nie (8:35-39)
Daar is geen swaarkry, of benoudheid, of vervolging, of honger, of naaktheid, of gevaar, of die swaard wat ons kan skei van sy liefde nie. Inteendeel, ons sal saam met Hom oorwinnaars wees.
“Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige, nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.”
Boodskap en betekenis
Paulus hef hier 'n lofrede aan op die heerlikheid en liefde wat God aan sy kinders skenk. Die skepping, wat tans gebuk gaan onder verganklikheid weens die sondeval, smag na die dag waarop God se kinders in volle heerlikheid geopenbaar sal word. Hierdie hoop word lewend gehou deur die Gees, wat nie net ons kindskap bevestig nie, maar ook vir ons intree met gebede wat ons swakheid oorkom.
God werk alle dinge ten goede mee vir dié wat Hom liefhet, want Hy het hulle vooruit geken en bestem om aan die beeld van Christus gelykvormig te word, sodat Jesus die Eersgeborene van 'n nuwe geloofsfamilie kan wees. Dié wat God geroep het, het Hy ook vrygespreek en verheerlik.
Paulus verklaar vol vreugde dat niemand die kinders van God kan beskuldig of van Sy liefde kan skei nie. Geen omstandighede, magte of skepsels kan die band verbreek wat deur Christus se offer gevestig is. God is vir ons, en daarom sal ons uiteindelik saam met Christus oorwinnaars wees, omring deur sy onveranderlike liefde.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Delf dieper deur Paulus se meesterlike uiteensetting van die evangelie in Romeine. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Romeine met insiggewende kommentaar op die kernwaarhede van redding deur geloof, die vreugde van 'n regte verhouding met God, en die krag van die Heilige Gees. Dit lei jou om die praktiese implikasies van jou geloof te ontdek, die beloftes van God te omhels, en jou lewe in Sy diens te stel. Of jy vir die eerste keer Romeine lees of jou bestaande kennis wil verdiep, hierdie plan sal jou inspireer en lei na 'n vars verhouding met die Here Jesus Christus.
More
Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: bybelskool.com