Delf dieper deur RomeineVoorbeeld
God het almal onder die ongehoorsaamheid ingesluit, sodat Hy aan almal ontferming kan betoon (Romeine 11:1-36)
Die tweede saak wat Paulus aanraak oor die redding vir die Israeliete en die heidene is om te beklemtoon dat God almal onder die ongehoorsaamheid ingesluit het, sodat Hy aan almal ontferming kan betoon (11:1-32). Hy hanteer dit in sewe perspektiewe. Met die derde saak sluit Paulus die hoofstuk af deur te beklemtoon dat die enigste manier waarop ‘n mens op hierdie redding kan reageer, is, om die Here te prys (11:33-36).
God het nie die Israeliete verwerp nie en selfs vandag is daar 'n oorblyfsel wat glo (11:1-6)
Paulus vra dan ‘n opvolg vraag oor die Israeliete wat op die boodskap van die evangelie met ongehoorsaamheid en opstandigheid gereageer het: “Het God dan sy volk verstoot?” Sy antwoord is: “Hoegenaamd nie!”
Paulus is immers self ’n Jood en glo. Soos in die tyd van Elia is daar ‘n oorblyfsel wat volhard in die regte verhouding met God deur sy genade (1 Kon. 19:10, 14).
Die eerste perspektief is dus dat God nie die Israeliete verwerp het nie en steeds sorg dat daar 'n oorblyfsel is wat volhard. Dit is die ongehoorsames wat hulleself uitskakel deur nie in die Here Jesus Christus te glo nie. Hulle het die weg van geloof verwerp.
Die Israeliete wat nie glo nie, is verhard (11:7-10)
Die tweede perspektief is dat daar dus ‘n onderskeid is tussen die uitverkorenes van Israel en die “res”, want die uitverkorenes glo, en die “res” van Israel verwerp die weg van die geloof.
Paulus beskryf die “res” met woorde van Moses en Jesaja dat die Here hulle verhard het met ‘n trae gees, met oë wat nie sien nie, en ore wat nie hoor nie (Deut. 29:4; Jes. 29:10).
Daarby voeg hy Dawid se vervloeking van sy vyande – mense uit sy volk wat teen hom en teen God gedraai het – en vra dat hulle lewens uitmekaar sal val (Ps. 69:23-24; 35:8).
Dit onderstreep verder die erns van die boodskap van hierdie gedeelte.
Die Israeliete het nie so geval dat verlossing onmoontlik is vir hulle nie (11:11-12)
Die derde perspektief is dat die Israeliete nie so geval het dat verlossing onmoontlik vir hulle geword het nie. Hulle val het immers verlossing vir nie-Jode beteken. Die nie-Jode kan moontlik op hulle beurt sommige uit die Israeliete tot inkeer kan bring as die Jode agterkom wat dit vir nie-Jode beteken om in die regte verhouding met God te kom.
Paulus hoop dat die verlossing van nie-Jode sommige Jode sal prikkel om in Christus te glo (11:13-15)
Die vierde perspektief is dat Paulus hoop dat die verlossing van nie-Jode sommige Jode sal prikkel om in Christus te glo. Dit sal niks anders wees as lewe uit die dood!
Dat Jode verlore gaan weens ongeloof, moenie tot selfverheffing by gelowige nie-Jode lei nie (11:16-21)
Die vyfde perspektief is dat die feit dat nie-Jode gered word deur geloof, en Jode verlore gaan weens ongeloof nie tot selfverheffing aanleiding moet gee nie. Paulus gebruik die metafore van ‘n baksel deeg en ‘n mak olyfboom om dit te illustreer.
Die eerste gedeelte van die baksel deeg het volgens die wet aan die Here behoort en is aan Hom geoffer (Num. 15:17-21; vgl ook die soortgelyke gebruik met die graanoffer: Num. 2:14-15). Daardeur is die hele baksel van dié deeg geheilig.
Op soortgelyke wyse het die geloof van die eerste Jode ‘n heiligende invloed op die hele volk, soos dit ook deur die metafoor van die mak olyfboom geïllustreer word. Die wortel heilig die takke.
Dit is waarom die nie-Jode wat tot geloof kom, soos wilde olyftakke ingeënt kan word op die mak olyfboom. Die ongelowige Jode word weer van die mak olyfboom afgebreek weens hulle ongeloof. Die enigste manier om deel van die mak olyfboom te bly, is immers om in geloof te volhard.
Dit beteken egter nie dat gelowige nie-Jode hulle teenoor ongelowige Jode kan verhef nie. As nie-Jode soos wilde olyftakke ingeënt kon word op die mak olyfboom deur geloof, sal dit ook kan gebeur met die mak olyftakke wat deur hulle ongeloof afgebreek is.
Op almal rus die verantwoordelikheid om in geloof te bly, sodat hulle nie uitgebreek word nie. Ontsag teenoor God moet ons verhouding met Hom stempel, nie hooghartigheid teenoor ander nie.
God is goed vir alle gelowiges en streng met alle ongelowiges (11:22-24)
In aansluiting by die vorige perspektief brei Paulus in die sesde perspektief op God se goedheid sowel as sy strengheid (sy “kindness” en sy “harshness”) uit. God is streng met dié wat afvallig word deur ongeloof en goed vir dié wat in geloof in die verhouding met Hom volhard. Almal moet dus in God se “goedheid” bly deur in geloof te volhard.
God het almal onder die ongehoorsaamheid ingesluit, sodat Hy aan almal ontferming kan betoon (11:25-32)
Die sewende perspektief lig alle gelowiges in oor die misterie van die verharding wat oor Israel gekom het. Die verharding was sodat die volle getal van die heidene tot geloof kon kom. Daaruit moet nie afgelei word dat God al die Jode verwerp het nie.
Paulus haal beloftes uit Jesaja en Jeremia aan om sy punt te maak: “Die Redder sal uit Sion kom, en Hy sal die goddeloosheid uit Jakob verwyder. En dit sal my verbond met hulle wees wanneer Ek hulle sondes wegneem.” (Jes. 59:20-21; 27:9; Jer. 31:33-34)
Die beloftes van vergifnis en reiniging is natuurlik reeds vervul in die kruisdood van die Here Jesus Christus, maar dit bly steeds van krag vir almal uit Israel wat nog tot geloof sal kom, soos dit inderdaad ook vir gelowiges uit die heidene van krag bly: “Op hierdie manier sal die hele Israel verlos word.”
Die gawes en roeping van God is immers onherroeplik. Dit sal tot die voleinding so bly.
Paulus sluit hierdie uiters belangrike boodskap oor die toekoms van die Jode af met sy finale gevolgtrekking:
“God het almal onder die ongehoorsaamheid ingesluit, sodat Hy aan almal ontferming kan betoon.”
God moet geprys word vir sy wysheid in alles wat Hy beplan en doen (11:33-36)
Met die derde saak sluit Paulus die hoofstuk af. Die enigste manier waarop ‘n mens hierop kan reageer, is om die Here te prys. Sy oordele is ondeurgrondelik. Sy weë is onnaspeurbaar. Niemand het Hom ooit raad gegee of iets gegee waarvoor Hy hom sou moes vergoed. Sy wysheid en kennis is weergaloos.
“Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom kom die heerlikheid vir ewig toe! Amen.”
Boodskap en betekenis
In Romeine 11 verduidelik Paulus dat God sy volk, die Israeliete, nie finaal verwerp het nie. Hy beklemtoon dat daar steeds ‘n oorblyfsel is wat glo, en dat die harde harte van sommige Jode toegelaat is om die heidene die geleentheid te gee om tot geloof te kom. Hierdie proses is deel van God se misterieuse en genadige plan waardeur Hy aan almal ontferming aanbied.
Paulus gebruik die metafoor van ‘n olyfboom om te illustreer hoe gelowiges, beide Jode en heidene, ingeënt word deur geloof en slegs deur volharding in geloof in God se goedheid kan bly. Hy beklemtoon dat God regverdig, goed en genadig is, en dat sy plan vir redding alomvattend is. Die hoofstuk eindig met lof aan God vir sy onnaspeurbare wysheid en heerlikheid, wat alles omvattend en ewig is.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Delf dieper deur Paulus se meesterlike uiteensetting van die evangelie in Romeine. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Romeine met insiggewende kommentaar op die kernwaarhede van redding deur geloof, die vreugde van 'n regte verhouding met God, en die krag van die Heilige Gees. Dit lei jou om die praktiese implikasies van jou geloof te ontdek, die beloftes van God te omhels, en jou lewe in Sy diens te stel. Of jy vir die eerste keer Romeine lees of jou bestaande kennis wil verdiep, hierdie plan sal jou inspireer en lei na 'n vars verhouding met die Here Jesus Christus.
More
Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: bybelskool.com