Delf dieper deur RomeineVoorbeeld

Delf dieper deur Romeine

DAG 21 VAN 25

Wees aan gesag onderdanig, lewe in liefde, en beklee julle met Christus (Romeine 13:1-14)

Paulus skryf in hoofstuk 13 verder oor die praktiese implikasies van die regte verhouding met God wat Christus ons gee. Hy pas dit toe op die onderdanigheid wat ons aan die gesaghebbers en owerhede wat oor ons aangestel is (Rom. 13:1-7), sowel as die liefde wat ons teenoor ons medemense verskuldig is, soos die wet reeds uitgespel het (Rom. 13:8-10). Hy sluit af met ‘n oproep om ons met Christus te beklee en nie voorsiening te maak vir ons sondige aard om sy drange te bevredig nie (Rom. 13:11-14).

Elkeen moet aan die owerhede onderdanig wees (13:1-7)

Die vierde perspektief is dat elke mens onderdanig moet wees aan die gesaghebbers en owerhede wat oor hulle aangestel is ter wille van ‘n skoon gewete. Let op, dit is nie net gelowiges wat hieraan gehou word nie, maar alle mense.

God het dit so gewil dat daar gesaghebbers en owerhede sal wees wat orde in die samelewing bring deur wetstoepassing, direkte belastings soos persoonlike belasting, en indirekte belastings soos aksyns op aankope (vgl. die soortgelyke uitsprake van Jesus in Mrk. 12:13-17).

Dit is egter anders wanneer die owerhede boos is, soos Openbaring 13 ons leer, waar wysheid, volharding en geloof nodig is om bo alles aan die Here onderdanig te bly. Ons lojaliteit aan God moet altyd groter wees as ons lojaliteit aan mense (vgl. Hand. 5:29).

Lewe in liefde, want dit is die vervulling van die wet (13:8-10)

Die vyfde perspektief is om in liefde te leef teenoor ons medemense, soos die wet reeds voorgeskryf het. Die enigste verantwoordelikheid wat ’n gelowige teenoor sy medemens het, is om hulle lief te hê, soos die wet dit uitspel.

Let op dat Paulus hier vier van die gebooie van die tweede tafel van die wet aanhaal soos ’n mens dit in Deuteronomium 5:17–21 kry (vgl. ook Luk. 18:20 ). Hierdie gebooie, trouens elke gebod wat daar is, word in die opdrag tot die liefhê van die naaste soos jouself saamgevat (Lev. 19:18 ).

Let op hoe Paulus die liefde beide negatief (geen kwaad aandoen nie) as positief (volle uitvoering van die wet) uitspel in vers 10.

Leef soos Christus dit wil hê en moenie voorsiening maak vir jou sondige aard om sy drange te bevredig nie (13:11-14)

Paulus se sesde perspektief is om onsself met Christus te beklee en nie voorsiening te maak vir ons sondige aard om sy drange te bevredig nie.

Die motivering vir hierdie opdrag vind Paulus in die naderende finale verlossing (vgl. Rom. 8 – in Fil. 4 sal hy weer terugkom op dié gedagtes) wat beteken dat ons moet ophou met die werke van die duisternis en die wapenrusting van die lig opneem. Let op hoe die “geestelike oorlogvoering”-wapens hier met ’n heilige lewe te make het. In Efesiërs 6 sal Paulus verder hierop uitbrei (vgl. ook 1 Tes. 5; 2 Kor. 10).

Boodskap en betekenis

In Romeine 13 bespreek Paulus die praktiese implikasies van ’n regte verhouding met God deur drie oproepe te maak: om onderdanig te wees aan gesag, in liefde te leef, en met Christus beklee te wees. Hy bevestig dat gesaghebbers en owerhede deur God aangestel is om reg en orde in die samelewing te handhaaf. Daarom moet gelowiges hul respekteer, tensy hierdie gesag strydig is met God se wil. Paulus beklemtoon dat die liefde die naaste geen kwaad doen nie. Daarom is die liefde die vervulling van die wet.

Ten slotte roep hy gelowiges op om die werke van die duisternis af te lê, die wapenrusting van die lig op te neem, en hoe meer te leef soos Christus dit wil hê. Hierdie leefstyl is gemotiveer deur die verwagting van die naderende finale verlossing en ’n oproep tot heiligheid in elke aspek van die lewe.

Dag 20Dag 22

Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Romeine

Delf dieper deur Paulus se meesterlike uiteensetting van die evangelie in Romeine. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Romeine met insiggewende kommentaar op die kernwaarhede van redding deur geloof, die vreugde van 'n regte verhouding met God, en die krag van die Heilige Gees. Dit lei jou om die praktiese implikasies van jou geloof te ontdek, die beloftes van God te omhels, en jou lewe in Sy diens te stel. Of jy vir die eerste keer Romeine lees of jou bestaande kennis wil verdiep, hierdie plan sal jou inspireer en lei na 'n vars verhouding met die Here Jesus Christus.

More

Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: bybelskool.com