Delf dieper deur RomeineVoorbeeld

Delf dieper deur Romeine

DAG 23 VAN 25

Bemoedig, aanvaar en bou mekaar in eensgesindheid op (Romeine 15:1-13)

Paulus sluit in hoofstuk 15 die negende hoofdeel van sy boodskap oor die praktyk van die Christelike lewe af met die laaste twee perspektiewe. Die negende perspektief is dat gelowiges mekaar moet bemoedig en opbou in eenheid (15:1-6). Die tiende perspektief is dat hulle mekaar moet aanvaar soos Christus dit met hulle gedoen het (15:7-13).

Bemoedig en bou mekaar tot eensgesindheid op (15:1-6)

Die negende perspektief is dat gelowiges mekaar moet bemoedig en opbou in eenheid om só mekaar se belange te dien met die oog op wat vir die ander goed is. Soos Christus nie Homself behaag het nie, moet ons dit ook vir mekaar doen.

Paulus maak ‘n uitspraak van Dawid op Christus van toepassing dat, soos met Dawid van te vore, die beledigings wat vir God bedoel was, Hom getref het (Ps. 69:10). Daarin moet ons Christus navolg.

Paulus verduidelik dat hierdie toepassing van die uitspraak van Dawid op ons situasie vandag ook met die res van die Skrif gedoen kan word:

“Alles wat vroeër opgeteken is, is tog vir ons tot lering opgeteken, sodat ons hoop kan hê deur die volharding en die bemoediging wat ons uit die Skrif ontvang.”

Dit is hoe God volharding en bemoediging bewerk onder ons sodat ons eensgesind kan wees in ons gehoorsaamheid aan die Here Jesus tot lof van die Vader.

Aanvaar mekaar soos Christus julle ook aanvaar het (15:7-13)

Die tiende perspektief is dat hulle mekaar daarom sal aanvaar soos Christus hulle ook aanvaar het, tot eer van God.

Dit geld Jode en nie-Jode, want Christus het 'n Dienaar van die besnedenes geword ter wille van die waarheid van God, sodat Hy die beloftes aan die vaders kon bevestig.

Maar, terselfdertyd wou Hy die nasies beweeg om God oor sy ontferming te verheerlik. Paulus bevestig dit met vier aanhalings uit die Wet, Psalms en Profete:

·“Daarom sal ek U loof onder die nasies, en tot eer van u Naam sal ek 'n lofpsalm sing.” (2 Sam 22:50; Ps 18:50 – dit is uit dieselfde Psalm van Dawid wat beide in Samuel as in die Psalmboek opgeneem is)

  • “Wees bly, nasies, saam met sy volk.” (Deut 32:43)
  • “Loof die Here, alle nasies! Prys Hom, alle volke!” (Ps 117:1)
  • “Daar sal 'n loot van Isai kom, en Hy sal opstaan om oor die nasies te regeer; en op Hom sal die nasies hoop.” (Jes 11:10)

Paulus sluit af met ‘n innemende gebed:

“Mag die God van hoop julle deur julle geloof met alle blydskap en vrede vervul, sodat julle hoop oorvloedig kan word deur die krag van die Heilige Gees.”

Boodskap en betekenis

Paulus sluit sy boodskap oor die praktiese uitlewing van die Christelike lewe af met 'n oproep tot eensgesindheid en aanvaarding. Hy spoor gelowiges aan om mekaar op te bou en bemoedig te wees, en om nie hul eie belange eerste te stel nie, maar eerder dié van ander, soos Christus dit gedoen het. Deur die Skrif ontvang gelowiges volharding en hoop, wat hulle in staat stel om in eenheid tot lof van God te leef.

Verder beklemtoon Paulus dat gelowiges mekaar moet aanvaar soos Christus hulle aanvaar het, ongeag kultuur of herkoms. Christus het nie net die beloftes aan Israel vervul nie, maar ook die nasies ingesluit in God se genade, wat Paulus bevestig met aanhalings uit die Wet, Psalms en Profete. Hy sluit af met ’n gebed dat die God van hoop gelowiges met blydskap en vrede vervul, en hulle deur die Gees in oorvloedige hoop sal laat leef.

Dag 22Dag 24

Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Romeine

Delf dieper deur Paulus se meesterlike uiteensetting van die evangelie in Romeine. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Romeine met insiggewende kommentaar op die kernwaarhede van redding deur geloof, die vreugde van 'n regte verhouding met God, en die krag van die Heilige Gees. Dit lei jou om die praktiese implikasies van jou geloof te ontdek, die beloftes van God te omhels, en jou lewe in Sy diens te stel. Of jy vir die eerste keer Romeine lees of jou bestaande kennis wil verdiep, hierdie plan sal jou inspireer en lei na 'n vars verhouding met die Here Jesus Christus.

More

Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: bybelskool.com