Delf dieper deur RomeineVoorbeeld

Delf dieper deur Romeine

DAG 15 VAN 25

Die Gees van Christus gee oorwinning oor ons sondige natuur (Romeine 8:1-17)

Die sesde hoofdeel van Paulus se boodskap strek van Romeine 8:1-39 en handel oor drie verdere implikasies van die regte verhouding deur geloof (8:1-39):

  1. Die Gees van Christus gee oorwinning oor ons sondige natuur (8:1-17)
  2. God verheerlik diegene wat in die regte verhouding met Hom is (8:18-30)
  3. God sorg vir diegene wat in die regte verhouding met Hom is (8:31-39)

Christus het gekom om sonde in die mens te veroordeel (8:1-4)

Paulus neem die gevolgtrekking van Romeine 7:25 verder en verklaar die nuwe situasie wat daar nou vir elke gelowige tot stand gekom het: “Daar is dan nou geen veroordeling vir diegene wat in Christus Jesus is nie.“ Die oordeel van God is deur Hom gedra vir elke gelowige.

Die woordjie “in” beteken hier om verenig met of in assosiasie met Christus te lewe (Louw-Nida). Paulus brei hiermee uit op die metafoor van die huwelik wat hy in Romeine 7:1-7 gebruik het. Die “huwelik” met die sonde (en die wet) is beëindig. Jy (let op die enkelvoud) is nou in ‘n “huwelik” met Christus Jesus, want: “die wet van die Gees wat in Christus Jesus die lewe gee, het jou immers vrygemaak van die wet van die sonde en die dood.”

God het deur Christus se volmaakte lewe: “die sonde in die mens veroordeel”, sodat Hy aan die een kant die vereiste van die wet in ons kon vervul deur ons “dood” saam met Christus, en aan die ander kant ons aan Christus in ‘n nuwe lewe kon verbind om nou volgens “die wet van die Gees” te lewe, nie meer volgens “die wet van die sonde en die dood” nie.

Die sondige natuur bring die dood, maar die Gees bring lewe (8:5-13)

Paulus verduidelik dan die verskil tussen mense wat volgens hulle sondige aard leef (dink terug aan die lysie van sondes in Rom. 1:18-32) en dié wat volgens die Gees leef.

Dié wat volgens hulle sondige aard leef, bedink die dinge wat vir hulle sondige aard aanvaarbaar is, want hulle is in ‘n “huwelik” met hulle sondige aard. Die gevolg daarvan is die dood, want dit is ten diepste vyandskap met God in die oortredings van sy wet.

Dié wat volgens die Gees leef, bedink egter die dinge van die Gees, want hulle is in verbintenis met Christus deur die Gees, weereens soos in ‘n “huwelik”. Dit bring lewe en vrede. Trouens, hulle ontvang die getuienis deur die Gees dat hulle in die regte verhouding met God is, dat hulle aan Christus behoort.

Daarom kan ons nie anders as om deur die Gees die praktyke van die liggaam dood te maak nie, want ons is verbind aan Christus wat ons sterflike liggame lewend sal maak in die opstanding tot die ewige lewe.

Diegene wat die Heilige Gees het, is kinders van God (8:14-17)

Paulus fokus dan op die wonderlike realiteit van almal wat só deur die Gees van God gelei word:

  1. Hulle is kinders van God wat nooit weer verslawing hoef te vrees nie.
  2. Hulle het ‘n interne getuienis deur die Gees wat hulle kindskap bevestig.
  3. Hulle kan God as Vader aanspreek, want hulle is immers in ‘n regte verhouding met Hom.
  4. Hulle is erfgename van God en mede-erfgename van Christus wat nie net deel in sy lyding nie, maar ook in sy verheerliking.

Boodskap en betekenis

Romeine 8:1-17 beklemtoon die oorwinning en sekerheid wat gelowiges in Christus ontvang deur die werk van die Heilige Gees. Paulus verduidelik dat daar geen veroordeling is vir dié wat in Christus is nie, omdat die Gees vrymaak van die mag van sonde en dood. Die Gees gee lewe, verseker ons van ons kindskap as kinders van God, en versterk ons in ons swakheid deur vir ons in te tree. Gelowiges word nie net bevry van sonde nie, maar ook deel van God se familie, met die hoop op verheerliking en ewige lewe.

Dag 14Dag 16

Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Romeine

Delf dieper deur Paulus se meesterlike uiteensetting van die evangelie in Romeine. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Romeine met insiggewende kommentaar op die kernwaarhede van redding deur geloof, die vreugde van 'n regte verhouding met God, en die krag van die Heilige Gees. Dit lei jou om die praktiese implikasies van jou geloof te ontdek, die beloftes van God te omhels, en jou lewe in Sy diens te stel. Of jy vir die eerste keer Romeine lees of jou bestaande kennis wil verdiep, hierdie plan sal jou inspireer en lei na 'n vars verhouding met die Here Jesus Christus.

More

Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: bybelskool.com