Delf dieper deur RomeineVoorbeeld

Delf dieper deur Romeine

DAG 14 VAN 25

Die wet is goed, maar dit kan nie van die sonde red nie (Romeine 7:14-25)

Maar, in afsluiting van die vyfde hoofdeel lig Paulus ook die eksterne probleem van die wet uit, deurdat die wet op sigself niemand van die sonde kan red nie. Dit wet self is dus goed, maar die mens se sondigheid beperk die wet se effektiwiteit tot openbaarmaking van die sonde, maar nie ‘n instrument van verlossing nie.

Hoekom? Want, sê Paulus baie persoonlik: “ek, in my sondige aard, is uitverkoop aan die sonde.” Hy verstaan sy eie optrede nie. Wat hy wil, doen hy nie; maar juis wat hy haat, dit doen hy.

As die wet hom dus van sy sonde oortuig, erken hy dat dit goed is. Dit is presies wat die wet moet doen, en hy het nodig om dit te hoor, soos elkeen van ons.

Maar, dit is nie die punt van verlossing vir hom nie. Dit wys hom net wat fout is in hom, soos ‘n streng onderwyser (‘n “tugmeester” soos Calvyn gesê het), sodat hy sy toevlug kan neem tot die verlossing wat net Christus kan gee.

Die rede vir dié toedrag van sake is dat daar niks goeds in hom as mens woon nie. Hy kan hom verbly oor die wet van God, maar daar is ‘n ander wet, die wet van die sonde, wat in sy ledemate oorlog voer met die wet van God, en hom dwing om sy ellende voor die Here uit te roep:

“Ellendige mens wat ek is! Wie sal my tog red uit hierdie doodsbestaan?”

En Paulus antwoord dadelik:

“Aan God die dank – deur Jesus Christus, ons Here!”

Dit is waar sy redding lê, in Christus!

Hy sluit af met ‘n slotsom wat ook die volgende hoofstuk se tema inlei:

“So dien ekself dan met my verstand die wet van God, maar met my sondige aard die wet van die sonde.”

Hy het die Gees van Christus nodig om vir hom oorwinning te gee oor sy sondige natuur. Saam met die oortuiging van sonde wat deur die Gees kom (vgl. Joh. 16:8), gee die Gees immers ook die vermoë om die sonde af te lê.

Die Gees word dus die agent van verandering. Die wet kon nooit daarin slaag om verandering te bring nie, weens ons sondige aard. Maar die Gees sal slaag omdat Hy die sonde binne in ons kom oorwin. Hy verander ons dus van binne, teenoor die wet wat net van buite af kan werk.

Boodskap en betekenis

Romeine 7 verken die funksies van die wet, maar beklemtoon steeds dat gelowiges deur Christus vrygemaak is van die wet se heerskappy. Paulus verduidelik dat die wet nie sonde is nie, maar slegs openbaar wat sonde is en trouens wys hoe uitermate sondig die mens se sondige natuur is. Die wet, hoewel goed, kan dus nie van sonde red nie, aangesien die sondige aard van die mens dit dwarsboom. Paulus beskryf die innerlike stryd tussen die begeerte om God se wet te gehoorsaam en die mag van sonde wat in sy sondige natuur werk. Hierdie stryd lei hom tot die erkenning dat verlossing slegs deur Jesus Christus moontlik is. Die wet kan mense bewus maak van hulle nood vir verlossing, maar uiteindelik is dit slegs die genade van Christus deur die geloof wat ware vryheid en oorwinning oor sonde bring.

Dag 13Dag 15

Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Romeine

Delf dieper deur Paulus se meesterlike uiteensetting van die evangelie in Romeine. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Romeine met insiggewende kommentaar op die kernwaarhede van redding deur geloof, die vreugde van 'n regte verhouding met God, en die krag van die Heilige Gees. Dit lei jou om die praktiese implikasies van jou geloof te ontdek, die beloftes van God te omhels, en jou lewe in Sy diens te stel. Of jy vir die eerste keer Romeine lees of jou bestaande kennis wil verdiep, hierdie plan sal jou inspireer en lei na 'n vars verhouding met die Here Jesus Christus.

More

Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: bybelskool.com