Delf dieper deur RomeineVoorbeeld
Ons is deur Christus dood vir die sonde, en lewe deur sy opstanding (Romeine 6:1-14)
Ons is steeds besig met die vierde hoofdeel van Paulus se boodskap wat handel oor die implikasies van die regte verhouding met God.
God en die sonde word hier as’t ware as twee magte of kragvelde geteken wat teenoor mekaar staan. Ons is uit die kragveld van die sonde geneem – die dinge waaraan God ons oorgegee het (Rom. 1:24-32) – en geplaas in die kragveld van God.
En dit is waar ons moet lewe, in die kragveld van God.
Sy belofte is dat: “As ons inderdaad met Hom saamgegroei het in 'n dood soos syne, sal ons ook met Hom saamgroei in 'n opstanding soos syne.”
Dit is waarhede wat ons daagliks vir onsself moet toereken: “Beskou julleself dan so dat julle in Christus Jesus dood is vir die sonde, maar lewend vir God.” (Rom. 6:11). Ons is nie meer slawe van seksuele immoraliteit, skandelike seksuele begeertes of korrupte denkwyses nie, maar slawe van God en die lewe wat die Here Jesus Christus gebring het.
Teenoor God se oorgawe van die mensdom aan die sonde, omdat hulle Hom verwerp het, gee Hy dié wat in Christus glo twee genadegawes:
- Ons het deur die doop deel gekry aan Christus se kruisdood. Ons is daardeur nou self dood vir die sonde.
- Ons het deur die opstanding deel gekry aan die lewe vir God. Ons kan God nou dien.
Dit is hierdie eenheid met Christus wat ons ’n aandeel gee aan die sonde-dood en die opstandingslewe. En dit is ook net in ’n verhouding met Jesus Christus wat dit vir ons waar is en bly.
Dit het twee implikasies vir ons daaglikse lewe:
- Ons kan nie meer in die sonde voortlewe nie. Ons moet afreken met die sonde.
- Ons is nou in diens van wat God wil. Ons is sy slawe om net te doen wat Hy wil.
Daarom moet ons elke deel van ons sterflike liggame – en let spesifiek op dat hy hier nie net van ons siel of gees praat nie – in diens van God stel om heilig te lewe:
“Die sonde mag beslis nie oor julle heers nie; julle is immers nie onder die wet nie, maar onder die genade.”
Boodskap en betekenis
Paulus beskryf hier die radikale oorplasing van gelowiges van die mag van sonde na die mag van God. In Christus het ons deur die doop deel gekry aan sy dood, waardeur ons bevry is van die slawerny van sonde. Net so het ons deur sy opstanding deel gekry aan ’n nuwe lewe vir God, waarin ons vry is om Hom te dien en heilig te lewe.
Hierdie nuwe identiteit in Christus bring twee sleutel implikasies: ons kan nie langer in sonde voortleef nie en moet doelbewus die sonde afwys; en ons is nou slawe van God, geroep om ons hele lewens – liggaam, siel en gees – in diens van sy wil en heiligheid te stel. Hierdie transformasie is gewortel in die genade van God, wat ons nie net vrymaak van sonde nie, maar ook bemagtig om in oorwinning en gehoorsaamheid aan Hom te lewe.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Delf dieper deur Paulus se meesterlike uiteensetting van die evangelie in Romeine. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Romeine met insiggewende kommentaar op die kernwaarhede van redding deur geloof, die vreugde van 'n regte verhouding met God, en die krag van die Heilige Gees. Dit lei jou om die praktiese implikasies van jou geloof te ontdek, die beloftes van God te omhels, en jou lewe in Sy diens te stel. Of jy vir die eerste keer Romeine lees of jou bestaande kennis wil verdiep, hierdie plan sal jou inspireer en lei na 'n vars verhouding met die Here Jesus Christus.
More
Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: bybelskool.com