Delf dieper deur RomeineVoorbeeld

Delf dieper deur Romeine

DAG 10 VAN 25

Adam is die oorsprong van dood en Christus van lewe (Romeine 5:12-21)

Die vierde hoofdeel van Paulus se boodskap strek van Romeine 5:12-6:23 en handel oor die implikasies van die regte verhouding met God wat veral in oorwinning oor sonde ervaar word.

Adam het sonde in die wêreld gebring en dus die dood (5:12-14)

Paulus plaas die verhaal van die versoening in die konteks van die sonde van Adam wat die hele mensdom geraak het, en die versoening wat Christus bewerk het wat op soortgelyke wyse die hele mensdom raak.

Die dood wat Adam se sonde gebring het, sê Paulus, het tot alle mense deurgedring, omdat almal uit hom voortspruit. Hierdie is een van die kerngedeeltes wat die erfsonde se bestaan motiveer.

Maar, die mensdom se sonde lê nie net in almal se sondige menslikheid nie, maar ook in hulle eie sonde: “omdat almal gesondig het.” En die straf vir die sonde is die dood.

Gevolglik, selfs in die tyd vóór die wet die mag van die sonde in sy volheid openbaar het, het die dood oor die mensdom geheers, en ‘n einde aan enige hoop op die ewige lewe gebring (Gen. 3:19: “stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer”).

Daarteenoor het Christus versoening gebring en dus lewe (5:15-21)

Adam – die oorsprong van die menslike geslag – word egter met Christus gekontrasteer – die oorsprong van die nuwe menslike geslag – wat die lewe moontlik maak vir alle mense wat in Hom glo. Jesus is in ’n baie spesifieke sin die nuwe mens waaruit God die nuwe lewe laat voortspruit.

Elkeen wat in Jesus glo, ontvang nou die oorvloed van ‘n nuwe lewe. En deur Jesus voer die genade nou heerskappy in hulle lewens eerder as die dood met die heerlike vooruitsig dat dit tot die ewige lewe lei.

Soos Paulus dit opsom:

“Net soos die sonde deur die dood geheers het, sal ook die genade deur die regverdiging heers en tot die ewige lewe lei deur Jesus Christus, ons Here.”

Boodskap en betekenis

Paulus kontrasteer die erfenis van sonde en dood wat deur Adam na die hele mensdom oorgedra is, met die oorvloedige genade en lewe wat Christus bring. Adam se ongehoorsaamheid het sonde en die dood in die wêreld gebring, wat alle mense raak omdat almal gesondig het. Selfs vóór die wet bestaan het, het die dood oor die mensdom geheers, 'n bewys van die ingrypende effek van Adam se sonde en die realiteit van erfsonde.

Daarteenoor het Christus deur sy gehoorsaamheid en versoeningswerk 'n nuwe geslag ingelei wat deur genade en lewe gekenmerk word. In Christus is daar oorwinning oor sonde, en sy genade bring regverdiging en die sekerheid van ewige lewe vir almal wat in Hom glo. Soos die sonde deur die dood geheers het, sal die genade deur regverdiging triomfeer, wat lei tot lewe deur Jesus Christus, die nuwe Adam.

Dag 9Dag 11

Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Romeine

Delf dieper deur Paulus se meesterlike uiteensetting van die evangelie in Romeine. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Romeine met insiggewende kommentaar op die kernwaarhede van redding deur geloof, die vreugde van 'n regte verhouding met God, en die krag van die Heilige Gees. Dit lei jou om die praktiese implikasies van jou geloof te ontdek, die beloftes van God te omhels, en jou lewe in Sy diens te stel. Of jy vir die eerste keer Romeine lees of jou bestaande kennis wil verdiep, hierdie plan sal jou inspireer en lei na 'n vars verhouding met die Here Jesus Christus.

More

Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: bybelskool.com