Delf dieper deur RomeineVoorbeeld

Delf dieper deur Romeine

DAG 9 VAN 25

Die regte verhouding met God red ons van sy oordeel (Romeine 5:1-11)

Die derde hoofdeel van Paulus se boodskap is Romeine 5:1-11 en handel oor die resultaat van die regte verhouding met God: vrede, vreugde en hoop.

Die regte verhouding met God bring vrede, vreugde en hoop selfs in lyding (5:1-5)

Let op hoe Paulus nou ook meesal praat van ons en nie jou of julle soos in die eerste paar hoofstukke nie, waarmee hy die gemeenskap van die gelowiges beklemtoon wat God geskep het tussen hulle. Let ook op hoe hy weer van die drietal: geloof (x2), hoop (x3) en liefde (x2) praat, maar die klem hier meer op die hoop laat val.

Hy bars uit in ’n lofsang en geloofsbelydenis oor die vrede wat daar nou tussen ons en God gekom het op grond van sy genade. Let op hoe hierdie genadegawe alles verander.

  • Aan die een kant bring dit die hoop dat ons deel sal hê aan die heerlikheid van God self.
  • Aan die ander kant kan ons ons ook verheug in ervarings van swaarkry, want dit bring volharding, wat lei tot betroubaarheid (beproefdheid) van geloof, wat net soseer as die ervaring van genade lei tot hoop.

Dit alles is moontlik omdat God se liefde in ons hart uitgestort is deur die Heilige Gees wat ons oortuig dat Hy in ons woon en in ’n verhouding met God kan laat groei.

Christus het vir ons gesterf en ons gered van God se oordeel (5:6-11)

Die res van hierdie deel neem die gedagte van die liefde van God verder. Dit is as gawe van die Heilige Gees aan ons gegee om ons op grond van die kruisdood van die Here Jesus Christus van God se oordeel te red waarvan Paulus in Romeine 1:18 gepraat het.

Jesus het op die regte tyd vir ons gesterf en ons met God versoen. Meer nog, Hy het dit gedoen toe ons nog sondaars was, en vir ons die dood oorwin deur sy opstanding sodat ons in daardie versoening wat Hy bewerk het, kan floreer vir ewig.

Boodskap en betekenis

Paulus verkondig die diepgaande vreugde en hoop wat voortvloei uit 'n regte verhouding met God deur geloof. Hy beklemtoon dat die genade van God vrede tussen ons en Hom bring, en hoop op deelgenootskap aan sy heerlikheid. Hierdie hoop, wat selfs in lyding versterk word, groei deur volharding en beproefdheid, wat die betroubaarheid van ons geloof bevestig. God se liefde, wat deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort is, verseker ons van sy teenwoordigheid en betrokkenheid in ons lewens.

Verder onderstreep Paulus die onmeetlike liefde van Christus wat op die regte tyd vir ons gesterf het, selfs toe ons nog sondaars was. Hierdie kruisdood en opstanding versoen ons met God, red ons van sy oordeel, en verseker ons van die ewige lewe in sy genade en liefde. Hierdie sekerheid skenk blywende vrede en vreugde aan gelowiges.

Dag 8Dag 10

Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Romeine

Delf dieper deur Paulus se meesterlike uiteensetting van die evangelie in Romeine. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Romeine met insiggewende kommentaar op die kernwaarhede van redding deur geloof, die vreugde van 'n regte verhouding met God, en die krag van die Heilige Gees. Dit lei jou om die praktiese implikasies van jou geloof te ontdek, die beloftes van God te omhels, en jou lewe in Sy diens te stel. Of jy vir die eerste keer Romeine lees of jou bestaande kennis wil verdiep, hierdie plan sal jou inspireer en lei na 'n vars verhouding met die Here Jesus Christus.

More

Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: bybelskool.com