Delf dieper deur RomeineVoorbeeld

Delf dieper deur Romeine

DAG 7 VAN 25

Abraham is die geestelike vader van almal wat glo (Romeine 4:1-12)

Paulus verwys in Romeine 4 na die aartsvader Abraham as bevestiging van sy standpunt in hoofdeel twee dat God se genade deur geloof ontvang word en nie deur eie prestasie nie.

In die eerste perikoop (4:1-12) fokus hy op Abraham se geloofsverhouding met God en bevestig dit met Dawid se kommentaar op só ‘n verhouding in Psalm 32. Met die dubbele aanhaling in vers 3 en 9 uit Genesis 15:6 bevestig Paulus dat Abraham – die vader van die Jode na die vlees – God se regverdiging gekry het deur die geloof. Abraham het nie daarvoor gewerk nie, en kon ook nie staatmaak op sy wetsonderhouding nie. Die wet is immers eers in die woestyntyd aan die volk gegee.

God het Abraham egter in die regte verhouding met Hom gebring deur sy geloof, nie op grond van sy werke nie. Anders sou Abraham op sy werke kon roem. Hy kon hom dus net op God se genade beroem.

In aansluiting hierby haal Paulus vir Dawid in Psalm 32:1-2 as ‘n verdere outoriteit aan wat ook ‘n regte verhouding met God bevestig op grond van vergifnis, sonder enige eie verdienste:

“So noem ook Dawid die mens geseënd vir wie God regverdiging toereken, sonder werke: Gelukkig is hulle wie se wettelose dade vergewe, en wie se sondes bedek is; Gelukkig is die mens vir wie die Here die sonde hoegenaamd nie toereken nie.” (Rom. 4:6-8; vgl. Ps. 32:1-2)

Omdat Abraham in ‘n regte verhouding met God gebring is voor die besnydenis ingestel is, kan Paulus bevestig dat hierdie seën vir die besnedenes sowel as die onbesnedenes bedoel is.

Die besnydenis was ’n teken op grond van die regte verhouding deur die geloof. Só het Abraham die vader geword van alle mense wat op dieselfde wyse as hy – sonder die wet – in God geglo het sowel as vir mense wat as besnedenes gebore is – onder die wet – en in God geglo het.

Boodskap en betekenis

Romeine 4 beklemtoon dat Abraham as geestelike vader dien van almal wat in God glo, beide Jode en nie-Jode. Paulus bevestig dat Abraham se regverdiging nie deur werke of wetsonderhouding verkry is nie, maar deur geloof alleen. Hierdie geloof, 'n leë hand wat na God uitgestrek is, het hom in 'n regte verhouding met God gebring, gebaseer op God se genade.

Dag 6Dag 8

Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Romeine

Delf dieper deur Paulus se meesterlike uiteensetting van die evangelie in Romeine. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Romeine met insiggewende kommentaar op die kernwaarhede van redding deur geloof, die vreugde van 'n regte verhouding met God, en die krag van die Heilige Gees. Dit lei jou om die praktiese implikasies van jou geloof te ontdek, die beloftes van God te omhels, en jou lewe in Sy diens te stel. Of jy vir die eerste keer Romeine lees of jou bestaande kennis wil verdiep, hierdie plan sal jou inspireer en lei na 'n vars verhouding met die Here Jesus Christus.

More

Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: bybelskool.com