Delf dieper deur RomeineVoorbeeld

Delf dieper deur Romeine

DAG 5 VAN 25

God is betroubaar en regverdig, maar alle mense is skuldig voor Hom (Romeine 3:1-18)

Paulus sluit die eerste hoofdeel van sy boodskap af met ‘n paar vrae en antwoorde oor God se betroubaarheid en regverdigheid (3:1-8) en ‘n slotsom dat alle mense gesondig het en skuldig is voor God: heidene en Jode (3:9-18). Niemand kan hulleself dus verontskuldig nie. Daarom moet almal die boodskap hoor dat hulle slegs deur geloof in die regte verhouding met God deur Christus gebring word.

God is betroubaar en regverdig (3:1-8)

Uit Paulus se waarskuwing aan sy verbeelde Joodse gespreksgenoot in hoofstuk 2 – dat kennis van die wet, en die handhawing van die besnydenis op sigself vir jou niks in die sak bring nie – is dit natuurlik om volgende te vra of daar dan enige nut sou wees daarin om ’n Jood en ’n besnedene te wees?

Paulus begin daarom om in ’n volgende verbeeldingsgesprek (diatribe) te wys op die groot voordele van die wet en die besnydenis.

Dit is in die eerste plek ’n getuienis dat God se woorde aan die Jode toevertrou is. Hierdie feit is nie net ’n groot voorreg nie, maar beteken dat God Homself eerste aan hulle verbind het om aan hulle genade te bewys. En God sal nie aan daardie verbintenis aan die Joodse volk ontrou word nie, selfs al het sommige aan Hom ontrou geword (in hfst. 9 sal Paulus verder hieraan aandag gee).

In die tweede plek is dit nie God se skuld dat die Jode die wet oortree nie. Paulus haal as bewysplaas daarvoor die sonde van Dawid met Batseba aan waarin Dawid in Psalm 51:6 bely dat hy alleen skuldig is aan sy sonde van egbreuk. Dawid se sonde is dus nie God se skuld nie.

God se straf wys dat Hy regverdig is en die wet handhaaf. Hy sal altyd sonde straf as mense ongehoorsaam is aan sy wet, want sy toorn rus op almal wat die wet oortree, selfs al probeer mense valslik die boodskap van sy genade verdraai asof hy die wet opgehef het.

Alle mense is skuldig voor God (3:9-18)

Maar Paulus is net so duidelik daaroor dat uit hierdie bevoordeling nie afgelei moet word dat Jode daarom beter daaraan toe is as ander nie. Almal het immers gesondig – “is onder die sonde” – en kan nie deur wetsonderhouding die vryspraak van God kry nie, want niemand kan volmaak daarin slaag nie (behalwe die Here Jesus Christus natuurlik).

Die mag van die sonde is vir ons almal – Jode en nie-Jode – te sterk. Let op dat Paulus die woord sonde in die enkelvoud gebruik. Dit gaan nie net oor individuele lysies van sondes nie, maar oor die feit van die sonde, ons “sonde-siekte” soos die Bybel Verklaar dit noem, ons van gemeenskap met God ontneem.

Paulus kombineer dertien verwysings uit die OT, veral uit Psalms van Dawid (Ps 9-10 was aanvanklik een Psalm), om dié punt te onderstreep:

  • Vers 10 – Pred. 7:20;
  • Vers 11a – Ps. 14:2; 53:3;
  • Vers 11b – Ps. 14:2; 53:3;
  • Vers 12a – Ps. 14:3; 53:4;
  • Vers 12b – Ps. 14:1,3; 53:2,4;
  • Vers 13a – Ps. 5:10;
  • Vers 13b – Ps. 140:4;
  • Vers 14 – Ps. 10:7;
  • Vers 16 – Jes. 59:7;
  • Vers 17a – Jes. 59:8;
  • Vers 18 – Ps. 36:2.

Daarmee onderstreep Paulus die totale verderflikheid van een en almal vanuit die boodskap van die OT.

Boodskap en betekenis

Paulus beklemtoon dat God betroubaar en regverdig is, selfs wanneer mense – insluitend die Jode – ontrou is aan Hom. Die Jode het groot voorregte, soos die wet en die besnydenis, omdat God sy woorde aan hulle toevertrou het. Hierdie verbond bevestig God se trou, al het sommige Jode misluk om gehoorsaam te wees. God bly regverdig en straf sonde altyd, soos bely in Psalm 51:6 deur Dawid, wat sy skuld erken het sonder om God te blameer.

Paulus maak egter duidelik dat hierdie voorregte nie Jode beter maak as nie-Jode nie. Hy bevestig dat alle mense – Jode en heidene – skuldig is voor God, omdat niemand volmaak in die wet kan slaag nie. Deur die gebruik van talle aanhalings uit die Ou Testament (Psalms en Jesaja), illustreer Paulus die universele sonde-siekte van die mensdom, wat ons van God skei. Hierdie gedeeltes toon dat almal onder die mag van die sonde staan en dat niemand deur wetsonderhouding regverdig verklaar kan word nie, behalwe deur Christus.

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Romeine

Delf dieper deur Paulus se meesterlike uiteensetting van die evangelie in Romeine. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Romeine met insiggewende kommentaar op die kernwaarhede van redding deur geloof, die vreugde van 'n regte verhouding met God, en die krag van die Heilige Gees. Dit lei jou om die praktiese implikasies van jou geloof te ontdek, die beloftes van God te omhels, en jou lewe in Sy diens te stel. Of jy vir die eerste keer Romeine lees of jou bestaande kennis wil verdiep, hierdie plan sal jou inspireer en lei na 'n vars verhouding met die Here Jesus Christus.

More

Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: bybelskool.com