Delf dieper deur RomeineVoorbeeld
God oordeel regverdig oor alle mense (Romeine 2:1-16)
Let op in Romeine 2 hoe Paulus in verskeie verbeeldingsgesprekke (diatribes) met iemand tree (vgl. die herhalende gebruik van “jy” en “o, mens”). Vers 17 wys duidelik dat dit regdeur ’n Joodse gespreksgenoot veronderstel: “Jy noem jouself tog ‘n Jood.”
Die onderwerp van sy gesprek met hierdie Joodse gespreksgenoot is om hom te waarsku dat Jode nie ander kan veroordeel nie, want Jode doen dieselfde sondes as die ander mense, al het hulle die wet en die besnydenis.
Die Jode staan dus soos die res van die mensdom eweneens onder die oordeel van God.
God oordeel regverdig volgens dade (2:1-11)
Paulus is bewus daarvan dat baie van die Jode hulleself sal probeer verontskuldiging deur die vinger te wys na mense wat in die sondes leef wat Paulus so pas in Romeine 1 gelys het.
Hy waarsku hulle egter dat dit nie sal slaag nie, want God se oordeel is regverdig. God weet van alles. Sondige mense sal nie die oordeel van God vryspring as hulle die aanbod van sy goedheid, verdraagsaamheid en geduld in Christus verontagsaam en nie tot bekering kom nie.
As jy hardkoppig is, en in jou onbekeerlikheid volhard, sal jy die toorn van God in sy volle geweld ervaar, want Hy is regverdig, en: “beloon elkeen volgens sy dade” (gebaseer op bv Ps. 62:12; Job 34:11; Spr. 24:12; Jer. 17:10)
Die eerste beginsel wat Hy hier neerlê, is dus dat God regverdig is in sy oordeel. Dit het ewige gevolge:
- Hy gee die ewige lewe aan diegene wat deur volgehoue goeie werke streef na heerlikheid, eer en onsterflikheid. Heerlikheid, eer en vrede wag vir elkeen wat die goeie doen, vir Jode en Grieke.
- Hy gee toorn en gramskap aan diegene wat uit eiesinnigheid ongehoorsaam is aan die waarheid en gehoorsaam aan die ongeregtigheid. Verdrukking en benoudheid wag dus vir elke mens wat aanhou kwaad doen, vir Jode en Grieke, want God beoordeel niemand volgens sy uiterlike nie.
God oordeel ook diegene wat onder die wet sondig (2:12-16)
Die tweede beginsel wat Paulus neerlê is dat God ook diegene wat onder die wet gesondig het, sal oordeel. Dit is nie die blote hoorders van die wet wat met God in die regte verhouding gebring word nie, maar die daders van die wet.
Die rede is dat God in elk geval die uitvoering van die wet in die mensdom se hart geskryf het soos hulle gewete dit bevestig. Dit kom ‘n mens persoonlik alreeds agter in jou eie gedagtes wat jou soms aankla, en soms verontskuldig (vgl. Rom 9:1 waar Paulus oor die rol van die Heilige Gees in ons gewete skryf).
Maar, al kan jy daardie gedagtes vir ander wegsteek, kan jy dit nie vir God wegsteek nie. Uiteindelik, met die oordeelsdag sal God hierdie verborge dinge deur die Here Christus Jesus aan die lig bring in sy oordeel oor elke mens.
Boodskap en betekenis
Paulus beklemtoon dat God regverdig oordeel, ongeag of iemand Jood of heiden is, en dat niemand deur uiterlike voorkoms of blote kennis van die wet vrygespreek sal word nie. Hy waarsku die Jode wat maklik ander veroordeel, maar self sondig, dat hulle nie die oordeel van God sal ontkom nie. God beloon diegene wat deur goeie dade na heerlikheid, eer, en onsterflikheid streef, maar straf diegene wat eiesinnig kwaad doen. God beoordeel mense volgens hul dade, nie hul uiterlike nie.
Hy verduidelik verder dat God ook diegene wat onder die wet sondig, sal oordeel, aangesien gehoorsaamheid aan die wet in dade, nie net die kennis daarvan, tel. Die beginsels van God se wet is immers in die harte van alle mense geskryf, wat hul eie gewetes bevestig. Op die oordeelsdag sal God al die verborge dinge van mense openbaar en hulle oordeel deur Christus Jesus.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Delf dieper deur Paulus se meesterlike uiteensetting van die evangelie in Romeine. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Romeine met insiggewende kommentaar op die kernwaarhede van redding deur geloof, die vreugde van 'n regte verhouding met God, en die krag van die Heilige Gees. Dit lei jou om die praktiese implikasies van jou geloof te ontdek, die beloftes van God te omhels, en jou lewe in Sy diens te stel. Of jy vir die eerste keer Romeine lees of jou bestaande kennis wil verdiep, hierdie plan sal jou inspireer en lei na 'n vars verhouding met die Here Jesus Christus.
More
Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: bybelskool.com