Hy Sien, Hy Ken, Hy Gee Om — Die Evangelie van LukasVoorbeeld
![Hy Sien, Hy Ken, Hy Gee Om — Die Evangelie van Lukas](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F36070%2F1280x720.jpg&w=3840&q=75)
Lees Lukas 11:14-13:9
SOAP Lukas 12:29-32
Julle moet julle ook nie gedurig afvra wat julle gaan eet of drink nie, en julle moenie besorg wees nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges in die wêreld begaan is, maar julle het 'n Vader wat weet dat julle dit nodig het. Beywer julle vir sy koninkryk, dan sal Hy julle ook hierdie dinge gee. “Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee.
Oordenking
Jesus het nie teruggehou nie. Jesus het dissipels geroep om Hom te volg en seker gemaak dat hulle die koste daaraan verbonde verstaan. Lukas het hierdie Evangelie aan Teofilus en ander in die vroeë kerk geskryf en die uniekheid van Jesus se lering en sy gesag oor die wet uitgelig. Jesus het die skares en die godsdienstige leiers met die waarheid gekonfronteer sonder om terug te deins. Waar hulle teologie en praktyk aanpassing nodig gehad het, het Jesus dit duidelik gemaak. Te midde van sy teregwysing van die godsdienstige leiers, het Jesus sy dissipels gelei en onderrig. Jesus het baie keer weggedraai van die skare om sy dissipels te onderrig en om te verduidelik wat Hy gesê het. In een voorbeeld het Jesus 'n man bestraf oor sy hebsug. Hy het gewaarsku dat hebsug en rykdom op aarde ’n mens kan weerhou om Jesus te volg en ’n mens uit die koninkryk van God kan hou. Hy het die skare opdrag gegee om nie rykdom op aarde bymekaar te maak nie.Toe het Hy na die dissipels gedraai en vir hulle gesê om nie bekommerd te wees nie. Hulle was nie ryk nie, maar hulle hoef nie die toekoms te vrees nie, want God sou vir hulle voorsien. Jesus het hul behoeftes herken en erken — Hy het dit nie geminimaliseer nie. Hy het vir hulle gesê dat Hy na hulle behoeftes sal omsien as hulle eers sy koninkryk sou soek. Ons kan maklik vasgevang word in die dinge van die wêreld, selfs in dinge wat ons nodig het. Ons het kos, skuiling en klere nodig om te oorleef en hierdie dinge kos geld. Jesus het nie gesê dit is verkeerd om hierdie dinge na te streef nie; Hy het gesê dat ons heel eerste moeite moet doen om sy koninkryk te bevorder. Want wanneer ons sy koninkryk eerste soek, sal Hy getrou alles voorsien wat ons nodig het. Volgelinge van Jesus moet anders wees as die wêreld. Eerder as om rykdom te soek, is ons prioriteit om God se koninkryk te soek. Dit beteken dat ons teenstand, moeilikheid, armoede, bespotting en selfs die dood in die gesig sal staar. Maar hierin word ons nie vergeet nie. Ons vrees nie mense nie; ons vrees God. En die God wat ons vrees, is die God wat verlos, herstel en weet wat ons nodig het. Want ons is meer werd as baie mossies.
Aangaande hierdie leesplan
![Hy Sien, Hy Ken, Hy Gee Om — Die Evangelie van Lukas](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F36070%2F1280x720.jpg&w=3840&q=75)
In die Evangelie van Lukas vind ons 'n unieke beskrywing van Jesus se lewe. Lukas wys ons hoeveel Jesus sy mense raaksien, hulle ken en omgee vir hulle. Sluit by ons aan vir hierdie ses weke lange Bybelstudie wat ontwerp is om ons te help verstaan wie Jesus is, hoe Hy omgee vir sy mense en hoe dit lyk om Hom te volg.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans