Hy Sien, Hy Ken, Hy Gee Om — Die Evangelie van LukasVoorbeeld

Hy Sien, Hy Ken, Hy Gee Om — Die Evangelie van Lukas

DAG 1 VAN 43

Welkom by ons Bybelstudie: Hy Sien, Hy Ken, Hy Gee Om — Die Evangelie van Lukas

Het jy al ooit gevoel dat jy nie raakgesien word nie? Het dit al ooit vir jou gevoel asof niemand weet wat jy deurgaan of dat niemand omgee vir jou nie? Ons smag daarna om raakgesien en geken te word en ook om te weet dat daar vir ons omgegee word, maar somtyds weet ons nie waarheen om te gaan nie. Die lewe kan soms oorweldigend wees en dan kan ons verlore en alleen voel.

“Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is” (Lukas 19:10).

Ongeag hoe ons voel, ons het 'n God wat ons raaksien, ons ken en vir ons omgee. Hy het sy Seun gestuur om ons te soek toe ons verlore was en om vir ons te sorg in ons grootste nood. Hy ken die diepste begeertes van ons hart. Jesus het sy lewe gegee sodat ons Hom sal ken en die ewige lewe saam met Hom sal hê.

In die Evangelie van Lukas vind ons 'n unieke beskrywing van Jesus se lewe. Lukas wys ons hoeveel Jesus sy mense raaksien, hulle ken en omgee vir hulle. Jesus gaan voortdurend uit sy pad om diegene in nood te help en om die verlorenes te soek. Hierdie Evangelie wys ook vir ons wat dit waarlik beteken om Jesus te volg en wat dit ons mag kos wanneer ons ons daartoe verbind om Hom te volg.

Hy Sien, Hy Ken, Hy Gee Om: Die Evangelie van Lukas is 'n ses weke lange Bybelstudie wat ontwerp is om ons te help verstaan wie Jesus is, hoe Hy omgee vir sy mense en hoe dit lyk om Hom te volg. In hierdie studie sal ons ontdek hoe ons Jesus kan ken en ons geloof in Hom kan plaas, maak nie saak wat ons omstandighede is nie.

Wandel saam met ons deur die Evangelie van Lukas en groei nader aan ons Verlosser wat sien, ken en omgee.

Wat is SOAP?

Hier by "Love God Greatly Afrikaans" gebruik ons die "SOAP"-metode vir ons Bybelstudies. Hierdie metode maak dit vir jou moontlik om dieper in die verse te delf en om meer te sien as wanneer jy net eenvoudig die verse lees en dan aangaan. Ons wil jou aanmoedig om jou tyd te gebruik om die daaglikse verse te "SOAP" en self te sien hoeveel meer jy uit jou daaglikse stiltetyd sal kry.

Wat beteken "SOAP"?

Die S staan vir Scripture : Jy skryf die teksverse neer. Jy sal verbaas wees om te sien wat God aan jou in sy Woord sal openbaar deur net tyd te maak om die verse neer te skryf!

Die O staan vir Observation: Wat sien jy in die verse wat jy lees? Wie is die gehoor? Is daar ‘n herhaling van woorde? Watter woorde staan vir jou uit?

Die A staan vir Application: Dit is wanneer die Woord van God persoonlik toegepas word. Wat sê God vandag vir my? Hoe kan ek dít wat ek nou net gelees het, in my eie lewe toepas? Is daar iets wat ek moet doen? Watter veranderinge moet ek aanbring?

Die P staan vir Prayer: Bid tot God en praat met Hom oor die Skrifgedeelte wat jy sopas bestudeer het. As Hy iets aan jou in sy Woord geopenbaar het, bid daaroor. Bely die sonde in jou lewe as Hy dit vir jou uitgewys het.

Inleiding

Die Evangelie van Lukas bied 'n unieke perspektief op Christus se lewe. Lukas het Jesus nie persoonlik ontmoet nie en tog het hy Hom gevolg. Lukas was 'n dokter en 'n intellektuele persoon, wat geesdriftig was om alles oor Jesus met sy vriend Teofilus te deel. Lukas leer ons van die menslikheid van Jesus, die Seunskap van Jesus en van die sorg, besorgdheid en krag van Jesus.

Hierdie Evangelie lig 'n verskeidenheid gebeure in Jesus se lewe uit. Die eerste twee hoofstukke beklemtoon die Ou Testamentiese beloftes van die komende Messias. Lukas 3:1-4:13 toon aan dat Jesus die Messias was en is. Verse 4:14-9:50 wys Jesus se krag, sy onderrig en die manier hoe Hy sorg vir diegene in nood. Die konflik tussen Jesus en die Joodse leiers is die hooffokus van die volgende deel (9:51-19:44), wanneer Lukas fokus op hoe ware dissipelskap lyk en wat dit kos om Jesus te volg. Die laaste gedeelte (19:45-24:53) beskryf die passie van Christus en die gebeure rondom sy dood en opstanding.

Lukas word aanvaar as die outeur van hierdie Evangelie. Lukas is die enigste skrywer van 'n Nuwe Testamentiese boek wat nie 'n Jood is nie en hy het saam met Paulus op sommige van sy sendingreise gegaan. Lukas is ook die skrywer van die boek Handelinge en dit word aangeneem dat hierdie twee boeke rondom dieselfde tyd geskryf is. Omdat Handelinge Paulus se gevangenskap in Rome beskryf, reken sommige geleerdes dat Handelinge na 62 n.C. geskryf is. Dit plaas die Evangelie van Lukas tussen 64 n.C. en 66 n.C.

Die Evangelie van Lukas se unieke beskrywing van Jesus se lewe en bediening moedig ons aan om God heelhartig lief te hê. Lukas beskryf besonderhede oor Jesus se lewe wat ons sy menslikheid en goddelikheid laat sien en sy groot barmhartigheid vir sy mense asook sy mag oor boosheid bevestig. Ons sien ook hoe dit lyk om 'n ware dissipel van Jesus te wees en hoe Jesus se onophoudelike soeke na dié wat verlore is, lyk.

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Hy Sien, Hy Ken, Hy Gee Om — Die Evangelie van Lukas

In die Evangelie van Lukas vind ons 'n unieke beskrywing van Jesus se lewe. Lukas wys ons hoeveel Jesus sy mense raaksien, hulle ken en omgee vir hulle. Sluit by ons aan vir hierdie ses weke lange Bybelstudie wat ontwerp is om ons te help verstaan wie Jesus is, hoe Hy omgee vir sy mense en hoe dit lyk om Hom te volg.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans