Hy Sien, Hy Ken, Hy Gee Om — Die Evangelie van LukasVoorbeeld
Lees Lukas 2:1-52
SOAP Lukas 2:10-12
Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! En dit is vir julle die teken: julle sal 'n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in 'n krip lê.”
Oordenking
Maria. Josef. Die herders. Simeon. Anna. Geen een van hierdie mense was buitengewoon nie. Nie een van hulle was heersers of mense wat groot invloed gehad het nie, maar hulle was getrou met wat God vir hulle gegee het. Maria en Josef was getrou om ouers te wees vir die Seun van God en om vir Hom te sorg. Die herders was getrou om hulle kudde te versorg en om snags by hulle te bly. Simeon was regverdig, vroom en bedag op die Heilige Gees. Anna het God elke dag getrou in die tempel aanbid.
Die engel het goeie nuus aan die herders gebring. Die herders het oor hulle skape waggehou en hulle het groot geskrik toe die engel aan hulle verskyn het. Maar toe hulle die goeie nuus wat aan hulle gebring is, verstaan het, het hulle Jesus gaan aanbid.
Simeon het geduldig gewag vir die herstel van Israel. Hy het God geglo toe daar aan hom bekend gemaak is dat hy nie sal sterf voordat hy die Christus gesien het nie. Simeon het onder leiding van die Heilige Gees vir Jesus as die beloofde Messias herken en hy het Hom aanbid.
Anna was 'n jong vrou toe haar man oorlede is, maar sy het haar lewe spandeer om God te loof, te bid en te vas. Sy het ook vir Jesus herken en Hom aanbid.
Die Evangelie van Lukas maak dit baie duidelik dat Jesus Christus die Messias van die wêreld is. Daarbenewens toon Lukas die wonderlike realiteit dat verlossing vir almal is. Dit is nie beperk tot die elite, die rykes, die mense wat suksevol is of die mense wat gesond is nie. Dit is nie gebind deur geslag, ras of klas nie. Jesus het gekom om dié wat verlore is te soek en te red en almal mag na Hom toe kom.
Hierdie mans en vroue wat eerste vir Jesus gesien het, word erken vir hulle getrouheid. Hulle het egter nie self hulle verlossing verwerf nie. God wil graag ons getrouheid hê, maar dit is nie wat ons red nie. Hy is die Verlosser van die wêreld en ons verlossing berus by Hom alleen. Hy is getrou en dit is goeie nuus! Ons hoef nie bang te wees nie — ons kan groot vreugde vind in die getrouheid van God, die Een wat dié wat verlore is, soek en red — insluitende ons!
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
In die Evangelie van Lukas vind ons 'n unieke beskrywing van Jesus se lewe. Lukas wys ons hoeveel Jesus sy mense raaksien, hulle ken en omgee vir hulle. Sluit by ons aan vir hierdie ses weke lange Bybelstudie wat ontwerp is om ons te help verstaan wie Jesus is, hoe Hy omgee vir sy mense en hoe dit lyk om Hom te volg.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans