Hy Sien, Hy Ken, Hy Gee Om — Die Evangelie van LukasVoorbeeld

Hy Sien, Hy Ken, Hy Gee Om — Die Evangelie van Lukas

DAG 10 VAN 43

Lees Lukas 4:14-30

SOAP Lukas 4:18-19

“Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.”

Oordenking

Op hierdie tydstip in Jesus se bediening (volgens Lukas se Evangelie) het baie geglo en verklaar dat Hy die Messias is. Vandag se Skriflesing beskryf die eerste keer dat Jesus so ‘n uitspraak oor Homself gemaak het.

Toe Jesus sy doel verduidelik het, was die mense verwonderd oor Hom en het goed van Hom gepraat. Jesus het hulle harte geken en Hy het hulle aangespreek oor hulle eksklusiewe en meerderwaardige gesindheid. Jesus het twee gebeurtenisse uit die Ou Testament aangehaal waar die Woord van God met dankbaarheid aanvaar en geloof aan die dag gelê is. Hierdie voorbeelde het nie gedui op verwerping van die Joodse volk nie, maar eerder dat verlossing ook heidene ingesluit het. Die mense van Nasaret was woedend en het Jesus uit die sinagoge weggejaag. Selfs al het hulle Hom verwerp, is Jesus op ander plekke in Israel en ook deur baie heidene aanvaar.

Gedagtig aan die diepgewortelde antiheidense sentiment van die Jode in die eerste eeu, is die reaksie van die mense van Nasaret nie vreemd nie. Per slot van rekening, as Jesus die Messias was, sou Hy gevangenes en onderdruktes bevry het. Op daardie stadium was die Jode deur die Romeine, ‘n heidenvolk, onderdruk. Waarom sou hulle ‘n Messias wou hê wat verlossing aan hulle vyand en onderdrukker ook bied?

Die verlossing wat ons in Christus ontvang, is verstommend. Hy bring Goeie Nuus vir ons. Hy sal ons van alle gevangenskap verlos, hetsy geestelik of liggaamlik, alhoewel van sommige nou gedeeltelik, maar eendag van alles in die hemel. Hy laat blindes sien, of dit nou fisieke of geestelike blindheid is. En Hy maak onderdruktes vry — diegene wat liggaamlik, emosioneel of deur die stelsel onderdruk word en dié wat geestelik deur sonde onderdruk word.

God se genadetyd is hier. Jesus het algehele en volkome verlossing gebring aan almal wat in Hom glo. Ons word nie beperk deur ons status, gesondheid, geslag, etnisiteit of invloed nie. Terwyl ons Christus aan die wêreld verkondig, moet ons onthou dat sy verlossing ook bedoel is vir diegene wat ons miskien ons vyande noem. Mag ons Christus met net soveel liefde en vrygewigheid verkondig as wat Hy vir ons gehad het toe ons nog sy vyande was.

Dag 9Dag 11

Aangaande hierdie leesplan

Hy Sien, Hy Ken, Hy Gee Om — Die Evangelie van Lukas

In die Evangelie van Lukas vind ons 'n unieke beskrywing van Jesus se lewe. Lukas wys ons hoeveel Jesus sy mense raaksien, hulle ken en omgee vir hulle. Sluit by ons aan vir hierdie ses weke lange Bybelstudie wat ontwerp is om ons te help verstaan wie Jesus is, hoe Hy omgee vir sy mense en hoe dit lyk om Hom te volg.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans