Hy Sien, Hy Ken, Hy Gee Om — Die Evangelie van LukasVoorbeeld
Lees Lukas 13:10-14:35
SOAP Lukas 14:27
"Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter my aan kom nie, kan nie my dissipel wees nie."
Oordenking
Lukas het verlede week vir ons gewys hoe ware dissipelskap lyk en wat dit kos om Jesus te volg. Hy gaan voort met die verslag van Jesus se konflik met die Fariseërs en godsdienstige leiers en beklemtoon weer die koste van ware dissipelskap.
In die vorige gedeelte van Lukas se Evangelie het ons gesien hoe Jesus baie wonderwerke verrig. Diegene wat Hom gevolg het, het die voorreg gehad om wonderlike wonderwerke en seëninge te ervaar. Maar soos Jesus se roem gegroei het, het die teenkanting teen Hom ook toegeneem.
Jesus het desnieteenstaande aangehou om die siekes te genees. Hy het twee keer op die Sabbat opgehou waarmee Hy besig was en iemand genees wat dit nodig gehad het. Die godsdienstige leiers het Hom daarvoor verag en probeer om Hom te diskrediteer deur Hom daarvan te beskuldig dat hy die wet oortree en werk op die Sabbat doen.
Jesus is nie afgeskrik nie. Hy het liefde en deernis aan diegene in nood betoon, wat in skrille kontras was met die Fariseërs se liefdelose, hardvogtige nakoming van mensgemaakte reëls. Deur dit te doen, het Jesus die liefdevolle, getroue, deernisvolle karakter van God geopenbaar. Ons God is nie daarop uit om ons te mislei of ons in pyn te laat nie. Hy sien ons pyn, selfs wanneer niemand anders dit sien nie. God voorsien in ons behoeftes en sorg vir ons. Hy stel nie belang in wie die beste reputasie, invloed, geld of status het nie. Hy vind ons wanneer ons niks het om te bied nie en Hy gee ons alles.
Baie mense wat Jesus gevolg het, het dit verstaan. Baie het niks gehad nie en Jesus het alles vir hulle gegee. Sommige het baie wonderlike dinge gehad (soos Levi en Simon), maar hulle het die ware waarde daarvan erken om Jesus te volg en hulle het alles agtergelaat. Nog ander soos byvoorbeeld die godsdienstige leiers het volgens wêreldse maatstawwe alles gehad, maar hulle was nie bereid om dit oor te gee om Jesus te volg nie.
Dit kos baie om Jesus te volg. Jesus het sy volgelinge (ons ingesluit) aangemoedig om die koste te bereken. Dit kan beteken dat jy jou vriende verloor, van jou gesin vervreem word of vir 'n bevordering oorgeslaan word. Om Jesus te volg kan vir sommige van ons vryheid, sekuriteit of selfs ons lewe kos. Maar tensy ons bereid is om alles te verloor, kan ons nie sy ware dissipels wees nie. As ons nie oortuig is dat Jesus is wie hy sê Hy is nie, sal daardie koste altyd te groot wees. Maar wanneer ons met absolute sekerheid weet dat Jesus die Seun van God is en die enigste weg na die ewige lewe, is daar niks wat meer waardevol is as om Hom te volg nie.
Aangaande hierdie leesplan
In die Evangelie van Lukas vind ons 'n unieke beskrywing van Jesus se lewe. Lukas wys ons hoeveel Jesus sy mense raaksien, hulle ken en omgee vir hulle. Sluit by ons aan vir hierdie ses weke lange Bybelstudie wat ontwerp is om ons te help verstaan wie Jesus is, hoe Hy omgee vir sy mense en hoe dit lyk om Hom te volg.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans