Hy Sien, Hy Ken, Hy Gee Om — Die Evangelie van LukasVoorbeeld

Hy Sien, Hy Ken, Hy Gee Om — Die Evangelie van Lukas

DAG 17 VAN 43

Lees Lukas 7:1-17

SOAP Lukas 7:16

”Almal is met ontsag vervul en het God geprys deur te sê: “’n Groot profeet het onder ons opgestaan,” en “God het na sy volk omgesien.”

Oordenking

In vandag se Skrifgedeelte het Jesus twee wonderwerke gedoen. Hierdie wonderwerke was baie verskillend en het feitlik teenoorgestelde situasies behels. Maar die omstandighede het nie saak gemaak nie. Wat saak gemaak het, was wie Jesus is en wat Hy gewillig en in staat was om te doen.

’n Hoofman oor honderd wie se slaaf baie siek was, het van Jesus gehoor. Hy het geweet dat Jesus baie mense genees het en hy het geglo Jesus sou dieselfde vir sy slaaf doen. Hierdie man was 'n nie-Jood en 'n Romeinse militêre offisier. Hy het nie self na Jesus toe gegaan nie, maar hy het Joodse familiehoofde gestuur om Jesus te vra om sy slaaf te genees. Hy het groot geloof geopenbaar deur aan te dring dat Jesus nie eens na sy huis hoef te kom om die wonderwerk te doen nie. Hy het geweet al wat Jesus moes doen, was om te praat en sy slaaf sou genees word. Jesus het die slaaf genees en die offisier geprys vir sy geloof.

’n Weduwee het haar enigste seun verloor. Anders as die ryk offisier, het hierdie vrou geen sosiale aansien gehad nie. Volgens die kultuur van daardie tyd het sy geen manier gehad om vir haarself te voorsien sonder 'n man in haar familie nie. Sy was sonder beskerming en voorsiening. Hierdie vrou het nie vir Jesus gevra om haar seun te genees nie, maar toe Jesus haar sien, het Hy medelye met haar gehad. Hy het haar seun genees weens sy groot deernis, nie weens enige groot geloof van haar kant nie.

Die mense wat hierdie opstanding aanskou het, het eer aan God gegee. Hulle het besef dat net God self die gesag en mag het om so 'n wonderwerk te doen. Hulle het geglo Jesus was 'n profeet van een of ander aard, duidelik deur God gestuur. Die mense het ook besef dat Hy meer as 'n profeet was en Lukas wou hê dat sy gehoor dit ook moes sien en verstaan. Jesus het groot deernis met hierdie vrou gehad en Hy het 'n wonderwerk vir haar gedoen. God het waarlik gekom om sy mense te help.

Of ons gebroke is deur verlies of hartseer en of ons ongekende geloof openbaar, God het gekom om ons te help. Ongeag hoe ons Hom nader, hoe ons ons behoeftes bekendmaak of wat ons toekoms inhou, Hy het medelye met ons. Hy het gekom om jou te help en Hy sien presies waar jy vandag is. Laat Hy jou oorweldig en verras met sy groot deernis en omgee vir jou.

Dag 16Dag 18

Aangaande hierdie leesplan

Hy Sien, Hy Ken, Hy Gee Om — Die Evangelie van Lukas

In die Evangelie van Lukas vind ons 'n unieke beskrywing van Jesus se lewe. Lukas wys ons hoeveel Jesus sy mense raaksien, hulle ken en omgee vir hulle. Sluit by ons aan vir hierdie ses weke lange Bybelstudie wat ontwerp is om ons te help verstaan wie Jesus is, hoe Hy omgee vir sy mense en hoe dit lyk om Hom te volg.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans