Hy Sien, Hy Ken, Hy Gee Om — Die Evangelie van LukasVoorbeeld

Hy Sien, Hy Ken, Hy Gee Om — Die Evangelie van Lukas

DAG 20 VAN 43

Lees Lukas 8:22-56

SOAP Lukas 8:25

Toe sê Jesus vir hulle: “Waar is julle geloof dan?” Maar hulle was verskrik en verbaas en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy tog? Hy gee bevele aan wind en water, en hulle is aan Hom gehoorsaam!”

Oordenking

Vandag se Skriflesing sluit vier wonderwerke wat Jesus se mag en gesag oor die natuur, demone, siekte en dood bewys het, in. Hierdie wonderwerke toon nie net Jesus se mag nie, maar ook sy omgee vir en besorgdheid oor individue — temas wat ons al voorheen in Lukas se Evangelie teëgekom het.

Eerstens het Jesus ‘n storm op die See van Galilea stilgemaak. Die skuit was besig om vol water te raak en die dissipels was in gevaar. Jesus het die wind en golwe bestraf en onmiddellik het dit bedaar. Die dissipels was al ‘n geruime tyd saam met Jesus en hulle het Hom baie wonderwerke sien doen. Tog moes Jesus vir hulle vra: “Waar is julle geloof dan?” Selfs nadat hulle al so lank saam met Jesus was, het die dissipels se geloof geweifel.

Kort daarna het Jesus ‘n man wat deur baie demone besete was, gesond gemaak. Hy wou Jesus volg, maar in plaas daarvan het Jesus hom beveel om in sy stad te bly en te vertel wat God vir hom gedoen het. Hierdie man het openlik in Jesus geglo en sy mag en omgee vir hom besef.

Jesus het toe ‘n man wie se dogter siek was, teëgekom. Jaïrus het geloof aan die dag gelê deur Jesus op te soek, omdat hy geweet het net Hy kon sy dogter genees. Op pad het ‘n vrou wat al twaalf jaar aan bloedvloeiing gely het, uitgereik en Hom aangeraak. Haar geloof was so groot dat sy geweet het al wat sy moes doen om genees te word, was om aan die soom van sy klere te raak. Jesus het die vrou gesond gemaak en almal het gesien wat Hy gedoen het. Toe Jesus verder gaan en by Jaïrus se huis kom, was daar ‘n klomp roubeklaers. Jesus het egter ingegaan en die dogtertjie weer lewendig gemaak. Hy het sy mag oor die dood getoon en bewys dat Hy die laaste sê het.

Die dissipels was almal getuies van hierdie wonderwerke. Hulle het nie net Jesus se magsvertoning gesien nie, maar ook sy ongelooflike omgee en medelye vir diegene in nood. Sy mag word nie deur omstandighede, ‘n situasie of selfs ons geloof beperk nie. Sy mag is groter as ons behoeftes.

Watter verband is daar tussen Jesus se mag en jou omstandighede? In watter areas van jou lewe vra Hy dalk dat jy Hom moet vertrou? Vra Hom vandag om jou geloof te versterk en groter te maak.

Dag 19Dag 21

Aangaande hierdie leesplan

Hy Sien, Hy Ken, Hy Gee Om — Die Evangelie van Lukas

In die Evangelie van Lukas vind ons 'n unieke beskrywing van Jesus se lewe. Lukas wys ons hoeveel Jesus sy mense raaksien, hulle ken en omgee vir hulle. Sluit by ons aan vir hierdie ses weke lange Bybelstudie wat ontwerp is om ons te help verstaan wie Jesus is, hoe Hy omgee vir sy mense en hoe dit lyk om Hom te volg.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans