Hy Sien, Hy Ken, Hy Gee Om — Die Evangelie van LukasVoorbeeld
Lees Lukas 9:1-17
SOAP Lukas 9:16-17
Daarna het Hy die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seën gevra. Toe breek Hy dit en gee dit vir die dissipels om aan die mense voor te sit. Almal het geëet en genoeg gekry. Wat oorgebly het, het hulle bymekaargemaak, twaalf mandjies vol.
Oordenking
Jesus se twaalf apostels het Hom baie wonderwerke sien doen. Toe Jesus hulle uitstuur, het Hy hulle mag en gesag oor demone en siektes gegee en vir hulle gesê om die koninkryk van God te verkondig en siekes gesond te maak. Die apostels het teruggekeer en alles gerapporteer wat hulle gedoen het. Lukas verskaf nie hierdie besonderhede aan ons nie, maar hy vertel wel dat hulle sending groot opslae gemaak het. Selfs Herodus die tetrarg, wat Johannes die Doper doodgemaak het, wou weet wie Jesus is.
Later daardie dag het ‘n skare vergader en hulle was honger. Die dissipels het pas teruggekeer van hulle sending waartydens hulle met die gesag van Christus wonderwerke gedoen het en daarom sê Jesus vir hulle: “Gee julle vir hulle iets om te eet.”
Toe Jesus die twaalf uitgestuur het, het Hy hulle opdrag gegee om niks saam te vat nie: niks ekstra klere nie, niks kos nie, nie eens geld nie. Hulle was heeltemal van God en sy voorsiening vir hulle afhanklik. Ons kan aanvaar dat God alles voorsien het wat hulle op hulle reis benodig het – genoeg kos en voorraad vir elkeen van hulle elke dag. Ongeag of daardie voorsiening op buitengewone of gewone maniere was, dit was steeds God se voorsiening. En bo en behalwe daardie voorsiening, het die dissipels siekes gesond gemaak en wonderwerke gedoen. Hulle het geloof gehad in wat Jesus deur hulle kon doen.
Terwyl hulle net na afloop van hierdie gebeure voor Jesus staan, het hulle geloof gewankel. Òf hulle het nie geglo dat hulle iets so groot kon doen nie, òf hulle het dit aan Jesus oorgelaat om die wonderwerk te doen aangesien Hy saam met hulle daar was. Hulle gebrek aan geloof het gekeer dat hulle op daardie oomblik ten volle bruikbaar was vir God.
Tog, deur sy genade, het Jesus nie toegelaat dat die dissipels se vrese of twyfel Hom daarvan weerhou om sy ontferming op sy mense uit te stort nie. Hy het steeds voorsien. Hy het elke persoon in die skare gevoed en sy dissipels het steeds deel gehad aan die seëning van die mense.
God kan op normale maniere kos vir twee mense op reis voorsien of Hy kan kies om vyfduisend mense met vyf brode en twee visse te voed. Elke antwoord op gebed, hoe onbenullig dit ook al vir ons voel, is steeds die God van die hemel wat afbuig om vir sy mense te sorg. Ons hoef nie bekommerd te wees of iets vir God moeilik of maklik sal wees om ons gebede te verhoor nie. Wat vir ons buitengewoon is, is vir Hom, die Almagtige, niks vreemd nie.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
In die Evangelie van Lukas vind ons 'n unieke beskrywing van Jesus se lewe. Lukas wys ons hoeveel Jesus sy mense raaksien, hulle ken en omgee vir hulle. Sluit by ons aan vir hierdie ses weke lange Bybelstudie wat ontwerp is om ons te help verstaan wie Jesus is, hoe Hy omgee vir sy mense en hoe dit lyk om Hom te volg.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans