Hy Sien, Hy Ken, Hy Gee Om — Die Evangelie van LukasVoorbeeld
Lees Lukas 9:18-50
SOAP Lukas 9:20
“Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?” Toe antwoord Petrus: “Die Gesalfde van God.”
Oordenking
Noudat ons by die halfpadmerk van ons studie kom, stel Lukas se Evangelie ‘n vraag: Wie is Jesus? Die gebeure in vandag se Skriflesing sluit die gedeelte oor Jesus se mag af en gaan dan daartoe oor om op sy konflik met die godsdiensleiers te fokus.
By hierdie punt in ons studie is dit noodsaaklik vir ons om hierdie vraag eerlik en weldeurdag te beantwoord, net soos dit vir Jesus se dissipels belangrik was om te weet wie Hy is, veral in daardie stadium in sy bediening.
Sover het Lukas Jesus se mag om siekes te genees, demone uit te dryf en dooies lewendig te maak gewys. Hy wys sy outoriteit oor sonde, die Sabbat en die wet. Lukas wys hoe God die Vader sy Seun tydens sy doop en verheerliking bekragtig. Ons sien ook Jesus se ontferming en omgee vir dié met seer, die randfigure en die onderdruktes. Ons sien hoe Jesus nie net in die behoeftes van sy mense voorsien nie, maar ook hulle hartsbegeertes vervul wanneer hulle volgens God se wil leef. En laastens sien ons hoe Jesus mag en outoriteit aan sy dissipels toevertrou om dieselfde soort wonderwerke in sy naam te doen.
Jesus vra sy dissipels twee vrae: “Wie, sê die mense, is Ek?” en “Wie, sê julle, is Ek?” Die antwoorde het verskil. Die dissipels het meer van Jesus se mag gesien en persoonlike oomblikke met Hom beleef. God die Vader het spesifiek aan hulle openbaar dat Jesus die Christus is. Daarom kon hulle met sekerheid sê: “Die Gesalfde van God.”
Ons almal moet ook hierdie vraag beantwoord. Die vraag is nie “Wie is Jesus vir jou?” of “Wat beteken Jesus se bediening vir jou?” nie. Lukas se evangelie gee ‘n duidelike uitbeelding van wie Jesus is. Die vraag is of ons dit glo. Glo ons Jesus is wie Hy sê Hy is? Glo ons Hy is die Seun van God, in alle opsigte God én mens tegelykertyd, die Verlosser van die wêreld, die Messias en die enigste Een deur wie verlossing moontlik is?
Neem tyd om hierdie vraag te beantwoord: Wie, sê jy, is Jesus? Stem jou antwoord ooreen met wat die Bybel sê? Glo jy Hy is wie Hy sê Hy is?
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
In die Evangelie van Lukas vind ons 'n unieke beskrywing van Jesus se lewe. Lukas wys ons hoeveel Jesus sy mense raaksien, hulle ken en omgee vir hulle. Sluit by ons aan vir hierdie ses weke lange Bybelstudie wat ontwerp is om ons te help verstaan wie Jesus is, hoe Hy omgee vir sy mense en hoe dit lyk om Hom te volg.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans