Hy Sien, Hy Ken, Hy Gee Om — Die Evangelie van LukasVoorbeeld
Lees Lukas 8:1-21
SOAP Lukas 8:21
Maar Jesus sê: “My moeder en my broers is dié wat na die woord van God luister en daarvolgens handel.”
Oordenking
Jesus was nie soos ander Joodse rabbi’s nie. Om maar een voorbeeld te noem: Jesus het vroue toegelaat om Hom te volg en ‘n integrale rol in sy bediening te vervul. Hy het nie alleen vroue aanvaar en verwelkom in ruimtes wat tipies vir mans was nie, maar hulle ook toegelaat om sy bediening finansieel te dra. Net soos Maria, die vrou wat Hom met duur olie gesalf het, het Johanna en Susanna vir Jesus gegee wat hulle gehad het op grond van dít wat Hy vir húlle gegee het: vergifnis en verlossing.
In die eerste-eeuse Romeinse kultuur was die gesinseenheid sentraal in die gemeenskap. Familiebande was sterk en lojaliteit was diepgaande. Jesus se uitlating in hierdie gedeelte dui maar net op nog ‘n verskil tussen Hom en ander Joodse rabbi’s. Jesus het nie sy eie familie opsy gegooi nie, maar geleer dat diegene wat die Woord van God hoor en gehoorsaam, sy ware gesinslede is. Lukas het dit ingesluit om aan te dui dat, ten spyte van wat die kultuur vir ons mag voorskryf, dit altyd ons prioriteit behoort te wees om God se Woord en wat Hy daarin sê te gehoorsaam. Ons lojaliteit is altyd eerste teenoor Christus.
Die Joodse leiers het voortdurend teen Jesus beswaar gemaak, omdat sy leer en lewe van hulle oortuigings verskil het. Jesus wys egter vir ons ‘n nuwe manier om God se Woord te verstaan. Die Joodse leiers was meer lojaal aan hulle kultuur en rituele as aan die waarheid van God se Woord. Jesus het vir hulle gewys dat God se Woord altyd belangriker is as kultuur.
Dit is moeilik om te onderskei tussen wat waar is volgens God se Woord en wat kultureel aanvaarbaar is. Dit vra wysheid, onderskeiding en leiding deur die Heilige Gees. Dit verg tyd om God se Woord te leer, nederigheid te kweek en ‘n hart te hê wat besef dat ons dikwels verkeerd gaan wees en tereggewys moet word. Om ‘n hart te hê wat soos vrugbare grond is, beteken om die Woord van God te hoor en te gehoorsaam, maak nie saak wat nie.
Jesus het die Woord van God geken en Hy het dit gehoorsaam. Selfs al was sy optrede strydig met die rituele en kultuur van die Joodse leiers, het Hy die wil van God gedoen. Mag ons volgelinge van Jesus wees wat daarna streef om God se Woord te volg, ongeag watter rigting ons kultuur (met inbegrip van ons Christen-subkultuur) mag inslaan.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
In die Evangelie van Lukas vind ons 'n unieke beskrywing van Jesus se lewe. Lukas wys ons hoeveel Jesus sy mense raaksien, hulle ken en omgee vir hulle. Sluit by ons aan vir hierdie ses weke lange Bybelstudie wat ontwerp is om ons te help verstaan wie Jesus is, hoe Hy omgee vir sy mense en hoe dit lyk om Hom te volg.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans