Hy Sien, Hy Ken, Hy Gee Om — Die Evangelie van LukasVoorbeeld
Lees Lukas 7:18-50
SOAP Lukas 7:47-50
“Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde.” En Jesus sê vir haar: “Jou sondes is vergewe.” Toe begin dié wat saam aan tafel was, onder mekaar sê: “Wie is hierdie man dat hy selfs sondes vergewe?” Maar Jesus sê vir die vrou: “Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.”
Oordenking
Die Fariseërs en wetsgeleerdes het voortdurend probeer om Jesus vas te trek. Hulle het Hom uitgedaag met vrae, scenario's en hipotetiese situasies om te sien hoe goed Hy die wet ken. Jesus het die wet beter geken as hulle, want Hy is die Woord wat vlees geword het. Hulle het Hom selfs ook gekritiseer vir wat Hy gedoen het en met wie Hy geassosieer het. Die Fariseërs en godsdiensleiers het geglo dat hulle geregtigheid op grond van hulle nakoming van die wet gekry het. Al was hulle harte ver van God af, het hulle geglo dat hulle streng gehoorsaamheid aan die wet hulle sou red.
Die Fariseërs het vergifnis nodig gehad, net soos enigiemand anders. Hulle kon nie hul eie vergifnis of redding verdien nie. Al het hulle geweet dit was onmoontlik om die wet in hul eie krag te onderhou, was hulle nie bereid om te herken of te erken dat hulle gebroke en sondig was nie.
Jesus bied verlossing deur geloof, nie deur werke nie. Alhoewel die Fariseërs ontrou was, het baie in Israel groot geloof geopenbaar.
’n Naamlose, ongenooide vrou het Jesus genader. Sy het duur parfuum op sy voete gegooi en die vuilheid en stof met haar hare van sy voete afgevee. Dit alles was 'n uitstorting van liefde vir haar Here, die Een wat al haar sondes vergewe het. Wat haar sondes was of hoe haar verlede gelyk het, het nie meer saak gemaak toe sy Jesus ontmoet het nie. Hy het haar vergewe en sy het Hom liefgehad.
Jesus is kragtig. Hy het die mag om sondes te vergewe en verharde harte na Hom toe te draai. Hy is ook vol liefde, sorg en deernis en Hy verwelkom ons ten volle en volkome wanneer ons van ons sonde wegdraai en Hom volg. Die Fariseërs was nie lief vir Jesus nie, want hulle het nie geglo dat hulle vergifnis nodig het nie. Maar die vrou het geweet sy moet vergewe word en dit het haar gedryf om Jesus met oorgawe lief te hê en te aanbid.
Ons moet onsself voortdurend afvra hoe ons reageer op Jesus en die vergifnis wat Hy bied. Sien ons ons behoefte aan vergifnis raak en kom daarom in liefde en aanbidding na Hom toe of ontken ons dat ons sondaars is en kritiseer ons dan sy genade en barmhartigheid vir ander? Mag ons soos hierdie vrou wees en erken dat ons deur genade uit liefde gered is, wat ons in staat stel om met liefde en genade na diegene rondom ons uit te reik.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
In die Evangelie van Lukas vind ons 'n unieke beskrywing van Jesus se lewe. Lukas wys ons hoeveel Jesus sy mense raaksien, hulle ken en omgee vir hulle. Sluit by ons aan vir hierdie ses weke lange Bybelstudie wat ontwerp is om ons te help verstaan wie Jesus is, hoe Hy omgee vir sy mense en hoe dit lyk om Hom te volg.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans