LUKAS 7:1-17

LUKAS 7:1-17 AFR83

Nadat Jesus die gehoor klaar toegespreek het, het Hy na Kapernaum toe gegaan. 'n Offisier daar het 'n slaaf gehad wat vir hom baie werd was, en die slaaf was siek en het op sterwe gelê. Die offisier het van Jesus gehoor, en stuur toe 'n paar familiehoofde van die Jode na Hom toe om te vra dat Hy moet kom om sy slaaf gesond te maak. Toe hulle by Jesus kom, het hulle ernstig by Hom daarop aangedring en gesê: “Hy is dit werd dat U dit vir hom doen, want hy het ons volk lief en het op eie koste die sinagoge vir ons gebou.” Jesus het toe saam met hulle gegaan. Toe Hy nie meer ver van die huis af was nie, stuur die offisier 'n paar van sy vriende om vir Hom te sê: “Here, moenie moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. Daarom het ek my ook nie waardig geag om self na U toe te gaan nie. Sê maar net 'n woord, en my slaaf is gesond. Ek is self 'n man wat onder gesag gestel is en ek het soldate onder my. Vir een sê ek: ‘Gaan daarheen!’ en hy gaan; en vir 'n ander: ‘Kom!’ en hy kom. Vir my slaaf sê ek: ‘Doen dit!’ en hy doen dit.” Jesus was verwonderd toe Hy dit hoor. Hy draai toe om na die mense wat agter Hom aangekom het en sê: “Ek sê vir julle: In Israel het Ek nie so 'n groot geloof teëgekom nie.” En toe die mense wat gestuur was, weer by die huis kom, kry hulle die slaaf daar heeltemal gesond. Kort daarna het Jesus na 'n dorp met die naam Nain gegaan, en sy dissipels en 'n hele menigte mense is saam met Hom. Toe Hy naby die ingang van die dorp kom, word daar juis 'n dooie uitgedra om begrawe te word. Hy was die enigste seun van sy ma, en sy was 'n weduwee. Byna die hele dorp se mense was saam met haar. Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry en vir haar gesê: “Moenie huil nie!” Hy gaan toe nader en vat aan die baar. Die draers gaan staan toe, en Hy sê: “Jongman, Ek sê vir jou, staan op!” Die dooie het regop gaan sit en begin praat. En Jesus het hom aan sy ma teruggegee. Almal is met ontsag vervul en het God geprys deur te sê: “'n Groot profeet het onder ons opgestaan,” en “God het na sy volk omgesien.” Die berig oor wat Hy gedoen het, het deur die hele Joodse land en die omliggende gebied versprei.

Gratis leesplanne en oordenkings oor LUKAS 7:1-17

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid