Lukas 7:1-17

Lukas 7:1-17 AFR20

Nadat Jesus ten aanhore van die volk al hierdie woorde uitgespreek het, het Hy Kapernaum binnegegaan. 'n Slaaf van 'n sekere centurio wat vir hom baie werd was, was tot die dood toe siek. Toe hy van Jesus hoor, het hy 'n paar van die Joodse familiehoofde na Hom gestuur met die versoek dat Hy kom om sy slaaf gesond te maak. Toe hulle by Jesus kom, het hulle Hom dringend versoek en gesê: “Hy verdien dit dat U dit vir hom doen, want hy gee om vir ons volk en het uit sy eie die •sinagoge vir ons gebou.” Jesus het saam met hulle gegaan. Hy was nie meer ver van die huis af nie, toe stuur die centurio vriende om vir Hom te sê: “Meneer, moenie verder moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. Daarom het ek my ook nie waardig geag om self na U te gaan nie; maar sê net 'n woord, en laat my slaaf gesond word. Want ook ek is 'n man wat onder gesag staan, met soldate onder my bevel. Vir die een sê ek, ‘Gaan!’ en hy gaan, en vir 'n ander, ‘Kom!’ en hy kom. Vir my slaaf sê ek, ‘Doen dit!’ en hy doen dit.” Toe Hy dit hoor, was Jesus verwonderd. Hy het omgedraai na die skare wat Hom gevolg het, en gesê: “Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek nie so 'n groot geloof gevind nie.” En toe die mense wat gestuur is, by die huis terugkom, het hulle die slaaf gesond aangetref. Kort daarna het Jesus na 'n dorp met die naam Nain gegaan. Sy dissipels en 'n groot skare het saam met Hom gereis. Hy het naby die poort van die dorp gekom. Juis toe word daar 'n dooie uitgedra – die enigste seun van sy moeder, en sy was 'n weduwee. Daar was heelwat mense van die dorp saam met haar. Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry en vir haar gesê: “Moenie huil nie!” Hy het nader gegaan en aan die draagbaar geraak, en die draers het gaan staan. Toe sê Hy: “Jong man, Ek sê vir jou, staan op!” Die dooie het regop gesit en begin praat. En Jesus het hom aan sy moeder teruggegee. Vrees het almal beetgepak, en hulle het God geloof met die woorde “'n Groot profeet het onder ons opgestaan!” en “God het omgesien na sy volk!” Hierdie nuus oor Hom het deur die hele Judea en al die omliggende gebiede versprei.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Lukas 7:1-17

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid