LUKAS 7:1-17

LUKAS 7:1-17 Bybel vir almal (ABA)

Toe Jesus klaar gepraat het met die mense, het Hy na die stad Kapernaum gegaan. Daar het 'n Romeinse offisier gewoon. Hy het 'n baie goeie slaaf gehad. Die slaaf was ernstig siek, hy was amper dood. Die offisier het gehoor van Jesus. Hy het party van die Joodse leiers na Jesus toe gestuur. Hulle moes vir Jesus sê die offisier vra Jesus moet asseblief die slaaf kom gesond maak. Die leiers kom toe by Jesus en soebat en sê vir Hom: “Hierdie offisier is 'n baie goeie man. U moet asseblief sy slaaf gesond maak. Die offisier is lief vir die Joodse volk en hy het ook ons sinagoge gebou.” Jesus het saam met hulle gegaan. Toe Hy naby die offisier se huis kom, kom 'n paar van die offisier se vriende na Jesus toe. Hulle het vir Jesus 'n boodskap van die offisier gebring. Hulle het gesê die offisier sê: “Here, dit is nie nodig dat U kom nie. Ek is nie 'n Jood nie, ek is nie goed genoeg dat U in my huis kom nie. Dit is hoekom ek nie self na U toe gegaan het nie. Ek is nie goed genoeg nie. U kan net sê dat my slaaf gesond moet word, dan sal hy gesond word. Ek is self 'n man wat moet doen wat 'n belangriker offisier vir my sê, en ek het soldate wat moet doen wat ek vir hulle sê. Wanneer ek vir een sê hy moet gaan, dan gaan hy. En wanneer ek vir 'n ander een sê hy moet kom, dan kom hy. Wanneer ek vir my slaaf sê hy moet iets doen, dan doen hy dit.” Toe Jesus dit hoor, was Hy verbaas. Hy draai toe om na die mense wat saam met Hom geloop het en Hy sê vir hulle: “Ek sê vir julle, Ek het nog nooit 'n Israeliet gesien wat so sterk glo nie.” Toe die offisier se vriende weer by sy huis kom, het hulle gesien die slaaf is heeltemal gesond. Nie lank daarna nie het Jesus na die stad Nain gegaan. Sy dissipels en baie ander mense het saam met Hom gegaan. Toe Jesus naby die poort van die stad kom, sien Hy mense wat na 'n graf toe loop om iemand te begrawe. Dit was 'n weduwee se enigste seun wat gesterf het. Baie van die stad se mense was saam met haar. Toe die Here haar sien, was Hy baie jammer vir haar en Hy het vir haar gesê: “Jy moenie huil nie.” Jesus gaan toe nader en raak aan die kis waarin hulle die lyk van die jongman gedra het. Die manne wat die lyk gedra het, het gaan staan. Toe sê Jesus: “Jongman, Ek sê vir jou, staan op.” Die jongman wat dood was, het regop gesit en hy het begin praat. So het Jesus die jongman teruggegee vir sy ma. Al die mense was verbaas en bang oor wat gebeur het. Hulle het God geprys en gesê: “'n Belangrike profeet het by ons gekom.” Hulle het ook gesê: “God het sy volk kom help.” Die mense in die hele provinsie Judea en die plekke daar naby het gehoor wat Jesus hier gedoen het.

LUKAS 7:1-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN nadat Hy voor die ore van die volk al sy woorde beëindig het, het Hy in Kapérnaüm ingegaan. En die dienskneg van 'n sekere hoofman oor honderd, wat vir hom baie werd was, was ongesteld en het op sterwe gelê. Toe hy dan van Jesus hoor, het hy ouderlinge van die Jode na Hom gestuur met die versoek aan Hom dat Hy moes kom en sy dienskneg gesond maak. En toe hulle by Jesus kom, het hulle Hom dringend gesmeek en gesê: Hy is dit werd dat U dit vir hom doen; want hy het ons volk lief en het self die sinagoge vir ons gebou. En Jesus het saam met hulle gegaan; maar toe Hy nie meer ver van die huis af was nie, stuur die hoofman oor honderd vriende na Hom om vir Hom te sê: Here, moenie moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. Daarom het ek my ook nie waardig geag om na U te gaan nie; sê dit maar met 'n woord, en my kneg sal gesond word. Want ek is ook 'n man wat aan gesag onderworpe is, en ek het soldate onder my; en vir hierdie een sê ek: Gaan! en hy gaan; en vir 'n ander een: Kom! en hy kom; en vir my dienskneg: Doen dit! en hy doen dit. Toe Jesus dit hoor, was Hy oor hom verwonderd, en Hy draai Hom om en sê vir die skare wat Hom volg: Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek so 'n groot geloof nie gevind nie. En toe die wat gestuur was, teruggaan na die huis, vind hulle die siek dienskneg gesond. EN die dag daarna was Hy op weg na 'n stad met die naam van Nain; en baie van sy dissipels en 'n groot menigte het saam met Hom gegaan. En toe Hy naby die poort van die stad kom, word daar net 'n dooie uitgedra, die enigste seun van sy moeder, en sy was 'n weduwee; en 'n groot menigte van die stad was by haar. En toe die Here haar sien, het Hy innig jammer vir haar gevoel en vir haar gesê: Moenie ween nie! En Hy het nader gegaan en die baar aangeraak. Daarop staan die draers stil. En Hy sê: Jongman, Ek sê vir jou, staan op! En die dooie het regop gaan sit en begin praat; en Hy het hom aan sy moeder teruggegee. En vrees het almal aangegryp terwyl hulle God verheerlik en sê: 'n Groot profeet het onder ons opgestaan; en: God het sy volk besoek. En hierdie woord aangaande Hom het uitgegaan in die hele Judéa en in die hele omtrek.

LUKAS 7:1-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

Nadat Jesus die gehoor klaar toegespreek het, het Hy na Kapernaum toe gegaan. 'n Offisier daar het 'n slaaf gehad wat vir hom baie werd was, en die slaaf was siek en het op sterwe gelê. Die offisier het van Jesus gehoor, en stuur toe 'n paar familiehoofde van die Jode na Hom toe om te vra dat Hy moet kom om sy slaaf gesond te maak. Toe hulle by Jesus kom, het hulle ernstig by Hom daarop aangedring en gesê: “Hy is dit werd dat U dit vir hom doen, want hy het ons volk lief en het op eie koste die sinagoge vir ons gebou.” Jesus het toe saam met hulle gegaan. Toe Hy nie meer ver van die huis af was nie, stuur die offisier 'n paar van sy vriende om vir Hom te sê: “Here, moenie moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. Daarom het ek my ook nie waardig geag om self na U toe te gaan nie. Sê maar net 'n woord, en my slaaf is gesond. Ek is self 'n man wat onder gesag gestel is en ek het soldate onder my. Vir een sê ek: ‘Gaan daarheen!’ en hy gaan; en vir 'n ander: ‘Kom!’ en hy kom. Vir my slaaf sê ek: ‘Doen dit!’ en hy doen dit.” Jesus was verwonderd toe Hy dit hoor. Hy draai toe om na die mense wat agter Hom aangekom het en sê: “Ek sê vir julle: In Israel het Ek nie so 'n groot geloof teëgekom nie.” En toe die mense wat gestuur was, weer by die huis kom, kry hulle die slaaf daar heeltemal gesond. Kort daarna het Jesus na 'n dorp met die naam Nain gegaan, en sy dissipels en 'n hele menigte mense is saam met Hom. Toe Hy naby die ingang van die dorp kom, word daar juis 'n dooie uitgedra om begrawe te word. Hy was die enigste seun van sy ma, en sy was 'n weduwee. Byna die hele dorp se mense was saam met haar. Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry en vir haar gesê: “Moenie huil nie!” Hy gaan toe nader en vat aan die baar. Die draers gaan staan toe, en Hy sê: “Jongman, Ek sê vir jou, staan op!” Die dooie het regop gaan sit en begin praat. En Jesus het hom aan sy ma teruggegee. Almal is met ontsag vervul en het God geprys deur te sê: “'n Groot profeet het onder ons opgestaan,” en “God het na sy volk omgesien.” Die berig oor wat Hy gedoen het, het deur die hele Joodse land en die omliggende gebied versprei.

LUKAS 7:1-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Nadat Jesus ten aanhore van die volk al hierdie woorde uitgespreek het, het Hy Kapernaum binnegegaan. 'n Slaaf van 'n sekere centurio wat vir hom baie werd was, was tot die dood toe siek. Toe hy van Jesus hoor, het hy 'n paar van die Joodse familiehoofde na Hom gestuur met die versoek dat Hy kom om sy slaaf gesond te maak. Toe hulle by Jesus kom, het hulle Hom dringend versoek en gesê: “Hy verdien dit dat U dit vir hom doen, want hy gee om vir ons volk en het uit sy eie die •sinagoge vir ons gebou.” Jesus het saam met hulle gegaan. Hy was nie meer ver van die huis af nie, toe stuur die centurio vriende om vir Hom te sê: “Meneer, moenie verder moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. Daarom het ek my ook nie waardig geag om self na U te gaan nie; maar sê net 'n woord, en laat my slaaf gesond word. Want ook ek is 'n man wat onder gesag staan, met soldate onder my bevel. Vir die een sê ek, ‘Gaan!’ en hy gaan, en vir 'n ander, ‘Kom!’ en hy kom. Vir my slaaf sê ek, ‘Doen dit!’ en hy doen dit.” Toe Hy dit hoor, was Jesus verwonderd. Hy het omgedraai na die skare wat Hom gevolg het, en gesê: “Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek nie so 'n groot geloof gevind nie.” En toe die mense wat gestuur is, by die huis terugkom, het hulle die slaaf gesond aangetref. Kort daarna het Jesus na 'n dorp met die naam Nain gegaan. Sy dissipels en 'n groot skare het saam met Hom gereis. Hy het naby die poort van die dorp gekom. Juis toe word daar 'n dooie uitgedra – die enigste seun van sy moeder, en sy was 'n weduwee. Daar was heelwat mense van die dorp saam met haar. Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry en vir haar gesê: “Moenie huil nie!” Hy het nader gegaan en aan die draagbaar geraak, en die draers het gaan staan. Toe sê Hy: “Jong man, Ek sê vir jou, staan op!” Die dooie het regop gesit en begin praat. En Jesus het hom aan sy moeder teruggegee. Vrees het almal beetgepak, en hulle het God geloof met die woorde “'n Groot profeet het onder ons opgestaan!” en “God het omgesien na sy volk!” Hierdie nuus oor Hom het deur die hele Judea en al die omliggende gebiede versprei.

LUKAS 7:1-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En nadat Hy al sy woorde voor die gehoor van die volk beëindig het, het Hy in Kapernaum ingegaan. En die dienaar van 'n sekere hoofman oor honderd, wat vir hom dierbaar was, was siek en gereed om te sterf. En toe hy van Jesus hoor, het hy die oudstes van die Jode na hom gestuur en hom gesmeek om te kom en sy dienaar gesond te maak. En toe hulle by Jesus kom, het hulle Hom dadelik gesmeek en gesê: Dat Hy waardig is vir wie Hy dit sou doen. Want Hy het ons nasie lief, en Hy het vir ons 'n sinagoge gebou. Toe het Jesus saam met hulle gegaan. En toe hy nie ver van die huis af was nie, het die hoofman oor honderd vriende na hom gestuur om vir hom te sê: Here, moenie moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak ingaan nie. Daarom het ek ook nie self waardig geag om na jou toe te kom nie, maar sê in 'n woord, en my kneg sal gesond word. Want ek is ook 'n man wat onder gesag gestel is, met soldate onder my, en ek sê vir een: Gaan, en hy gaan; en vir 'n ander: Kom, en hy kom; en aan my dienaar: Doen dit, en hy doen dit. Toe Jesus dit hoor, was Hy oor hom verwonder en draai hom om en sê vir die mense wat Hom gevolg het: Ek sê vir julle, so groot geloof het ek nie gevind nie, ook nie in Israel nie. En die wat gestuur was, het na die huis teruggekeer en die slaaf gevind wat siek was. En die dag daarna het hy in 'n stad gegaan met die naam van Nain; en baie van sy dissipels het saam met Hom gegaan, en baie mense. En toe hy naby die poort van die stad kom, word daar 'n dooie uitgedra, die enigste seun van sy moeder, en sy was 'n weduwee, en baie mense van die stad was by haar. En toe die Here haar sien, het Hy innig jammer gevoel oor haar en vir haar gesê: Moenie huil nie. En hy het gekom en die baar aangeraak, en die wat hom gedra het, het stilgestaan. En hy sê: Jongman, ek sê vir jou: Staan op! En hy wat dood was, het regop gesit en begin praat. En hy het hom aan sy moeder oorgegee. En daar het 'n vrees oor almal gekom, en hulle het God verheerlik en gesê: Daar het 'n groot profeet onder ons opgestaan; en: Dat God sy volk besoek het. En hierdie gerug van hom het deur die hele Judéa en in die hele omtrek uitgegaan.

LUKAS 7:1-17 Die Boodskap (DB)

Toe Jesus die mense klaar geleer het, het Hy weer na Kapernaum toe gegaan. Daar was ’n belangrike offisier in die Romeinse leër. Sy werker was baie siek. Almal het verwag dat hy enige oomblik sou doodgaan. Toe die offisier hoor dat Jesus in die dorp is, het hy gou ’n paar van die Joodse leiers in Kapernaum gevra om na Jesus toe te gaan. “Vra Hom om na my huis toe te kom en my werker gesond te maak,” het die offisier gesê. Toe die mans by Jesus kom, het hulle Hom vertel wat aan die gang was en Hom gesmeek om na die Romeinse offisier se huis toe te gaan. “Weet U, hy is ’n wonderlike man. As daar nou een persoon is wat ’n wonderwerk verdien, is dit daardie Romeinse offisier. Hy beteken so baie vir ons mense. Hy het selfs ons sinagoge hier in Kapernaum vir ons gebou,” het hulle vir Jesus gesê. Jesus het ingestem en saam met hulle gegaan. Toe hulle so ’n entjie van die offisier se huis af was, het hy van sy vriende na Jesus toe gestuur om vir Hom te sê: “Here, moet asseblief nie die moeite doen om verder te loop nie. Ek is nie belangrik genoeg dat U na my huis toe moet kom nie. Daarom het ek dit nie gewaag om na U toe te gaan nie. U kan maar net ’n woord sê, dan is my werker gesond. “U sien, ek is ’n offisier in die leër. Ek weet presies hoe gesag werk. Ek moet heeltyd na my bevelvoerders luister. En my soldate moet weer heeltyd na my luister. As ek vir een sê: ‘Staan op aandag!’ doen hy dit, daar op die plek. En as ek vir ’n ander soldaat sê: ‘Hardloop!’ doen hy dit ook. Dieselfde geld vir my werker. Ek kan maar net vir hom sê: ‘Maak die huis skoon!’ dan doen hy dit. So, sê net een woord. Dit is heeltemal genoeg. U is die Here. As U praat, sal die siekte moet luister!” Jesus was verbaas oor hierdie woorde. “Ongelooflik! Nog nêrens in die hele Israel het Ek iemand met so ’n groot geloof raakgeloop nie,” het Hy vir die skare mense gesê wat saam met Hom gestap het. Terwyl Jesus nog met die mense gestaan en praat het, het die werker skielik gesond geword. Toe die vriende van die offisier by sy huis aankom, was hy al weer vol lewe. Die volgende dag het Jesus na ’n dorp toe gegaan met die naam Nain. ’n Groot klomp mense het saam met Hom soontoe gestap. Sy dissipels was ook by. Toe Jesus by die ingang van Nain kom, het hulle op ’n groot groep mense afgekom wat ’n dooie na die begraafplaas buitekant die dorp gedra het. Dit was die enigste seun van ’n weduwee. Baie mense van die dorp het ook opgedaag vir die begrafnis. Hulle was saam met die weduwee hartseer oor haar seun se dood. Toe die Here die weduwee sien, het Hy haar uit sy hart uit jammer gekry. Hy het vir haar gesê: “Moenie huil nie.” Voordat iemand iets kon sê, het Jesus na die draagbaar toe gestap en dit vasgegryp. Toe die verbaasde draers tot stilstand kom, sê Jesus vir die dooie: “Jongman, word lewendig. Ek sê vir jou: staan nou dadelik op!” Toe gebeur daar ’n groot wonderwerk. Reg voor almal het die seun lewendig geword. Hy het orent gekom en begin praat. Jesus het hom toe aan sy ma se sorg oorgelaat. Die mense kon hulle oë nie glo nie. Hulle hartseer het dadelik plek gemaak vir blydskap. Met groot ontsag het hulle God se Naam begin loof en prys. “God het ’n baie belangrike boodskapper na ons toe gestuur!” het hulle uitgeroep. Die nuus oor hierdie wonderwerk het soos ’n veldbrand deur die hele gebied versprei, selfs deur Judea.

LUKAS 7:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe Jesus al die dinge klaar gesê het, het Hy na Kapernaum toe teruggegaan. ’n Romeinse offisier oor honderd het ’n slaaf gehad wat siek en sterwend was. Die slaaf was vir hom baie werd. Die offisier het van Jesus te hore gekom en ’n paar gerespekteerde Joodse leiers na Hom gestuur om te vra dat Hy die slaaf gesond sal kom maak. Hulle het ernstig by Jesus aangedring om saam met hulle te kom en die man te help. “As enigiemand u hulp verdien, dan is dit hý,” het hulle gesê, “want hy het die Jode lief en het selfs ’n sinagoge vir ons gebou.” Jesus het dus saam met hulle gegaan. Maar net voordat hulle by die huis aangekom het, het die offisier ’n paar vriende gestuur om te sê: “Here, moenie moeite doen om na my huis toe te kom nie, want ek verdien nie so ’n eer nie. Ek is nie eers waardig om U te kom ontmoet nie. Sê maar net ’n woord, en my slaaf sal gesond word. Ek weet, want ek staan onder die gesag van my bevelvoerende offisiere, en ek voer gesag oor my soldate. Ek hoef net te sê: ‘Gaan,’ en hulle gaan, of: ‘Kom,’ en hulle kom. En as ek vir my slawe sê: ‘Doen dit of dat,’ dan doen hulle dit.” Toe Jesus dit hoor, het Hy Hom oor die man verwonder. Hy draai toe om na die skare wat Hom volg, en sê: “Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek nie só ’n geloof teëgekom nie!” En toe die offisier se vriende by die huis terugkom, was die slaaf heeltemal gesond. Kort hierna het Jesus en sy dissipels na die dorp Nain gegaan met ’n groot skare wat Hom volg. Toe Jesus die dorpsingang nader, het ’n begrafnisstoet uitgekom. Die jong man wat gesterf het, was die enigste seun van ’n weduwee, en baie rouklaers van die dorp was saam met haar. Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry. “Moenie huil nie!” het Hy gesê. Toe het Hy na die draagbaar toe geloop en daaraan geraak, en die draers het gaan staan. “Jong man,” het Hy gesê, “Ek sê vir jou, staan op!” Toe het die dooie regop gesit en met die mense om hom begin praat! En Jesus het hom aan sy ma teruggegee. Groot vrees het die skare oorweldig – hulle het God geprys en gesê: “’n Magtige profeet het onder ons opgestaan!” en: “God het besluit om na sy mense om te sien!” Die berig oor wat Jesus die dag gedoen het, het deur die hele Judea en selfs oor die grense heen versprei.