In Vreugde en VertroueVoorbeeld
Ek kan alles doen
Paulus, ’n gevangene in diens van Christus Jesus, geboei en onder huisarres, klink soos ’n vry man wanneer hy hierdie bedankingsbrief vir die gemeente in Filippi skryf. Terwyl hulle ruim voorsiening in ’n moeilike tyd vir hom tot groot seën was, getuig hy terselfdertyd dat God algenoegsaam is. In tydperke van uiterstes waar hy beide oorvloed en gebrek geken het, het hy veral geleer om tevrede te wees.
Paulus se tevredenheid, vreugde en innerlike krag om in moeilike tye te volhard is ’n direkte gevolg van sy eenheid met Christus wat hom in alle omstandighede anker. Ten volle bewus van sy afhanklikheid van God, het hierdie koninkryksbeginsel van blydskap hom innerlik versterk om te gehoorsaam, te volhard en te oorwin. God, ten volle in staat om sy omstandighede oombliklik te verander, het gekies om Paulus binne dieselfde omstandighede meer en meer te verander na die beeld van sy geliefde Seun.
God, ten volle bewus van ons baie tekortkomings, wys ons deur die lewe van Paulus dat ons tot alles in staat is, ongeag wie ons is of waar ons is. Vandag kom bevestig God nogmaals dat ons bekwaamheid en toerusting van Hom is, ongeag ons situasie.
Here, ek staar allerhande uitdagings in die gesig. Boonop knaag vrees en ongeloof aan my en onsekerheid wil-wil van my besit neem; daarom anker ek my weer vandag in u Woord. U is by my, U versterk my, U gee uitkoms en U bemagtig my om te doen wat ek nie kan of eens weet hoe nie! Ek loof U! Amen
Hierdie oordenkings is geneem uit IN VREUGDE EN VERTROUE deur Suria Scholtz © Christelike Uitgewersmaatskappy.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Ware vreugde is ’n blydskap wat deur niks geblus kan word nie, selfs nie die heel moeilikste, donkerste omstandighede nie. Dié 10 oordenkings sal jou aanmoedig om die bron van ewige vreugde te ontdek. Jy sal sien dat ware, durende vreugde slegs moontlik is wanneer ons God se teenwoordigheid opsoek. Hierdie oordenkings is geneem uit IN VREUGDE EN VERTROUE deur Suria Scholtz.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/