In Vreugde en VertroueVoorbeeld

In Vreugde en Vertroue

DAG 1 VAN 10

Vreugde

As sondaars sonder berou is ons natuurlike neiging om vir God weg te kruip as ons ongehoorsaam is. Om ons vreugde in die Here te vind, impliseer dus die teenoorgestelde, want dit beteken dat ons harte skoon is en ons gewete vry om ons in God te verlustig. Dit is om Hom te verheerlik, sy liefde te koester, altyd tevrede en dankbaar te wees, ongeag ons omstandighede.

Net soos blydskap deel van die vrug van die Heilige Gees is, is om ons vreugde in die Here te vind ook ’n bonatuurlike werk van sy Gees. Dit beteken dat tyd in die Woord van God vir ons ’n prioriteit is en dat ons eers met Hom in gebed praat voor ons ons eie planne maak. Dit beteken dat ons verhouding met God vir ons kosbaar is en dat ons verlang na kwaliteittyd saam met Hom, maar dat ons ook uitsien na gesamentlike tye van aanbidding saam met ander gelowiges.

Die groot belofte verbonde aan sulke vreugde is dat God ons die begeertes van ons hart sal gee – nie omdat Hy spring as ons Hom beveel nie, maar omdat Hy ons ware vreugde sien wanneer ons in sy teenwoordigheid kom.

Here, ek het U lief met my hele hart, siel en verstand. Help my om soos ’n kind onbeskaamd en spontaan my vreugde te wys as ek in u teenwoordigheid is. Tevrede en dankbaar laat ek die wat, waar en wanneer van my hartsbegeertes aan U oor. Amen

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

In Vreugde en Vertroue

Ware vreugde is ’n blydskap wat deur niks geblus kan word nie, selfs nie die heel moeilikste, donkerste omstandighede nie. Dié 10 oordenkings sal jou aanmoedig om die bron van ewige vreugde te ontdek. Jy sal sien dat ware, durende vreugde slegs moontlik is wanneer ons God se teenwoordigheid opsoek. Hierdie oordenkings is geneem uit IN VREUGDE EN VERTROUE deur Suria Scholtz.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/