In Vreugde en VertroueVoorbeeld

In Vreugde en Vertroue

DAG 2 VAN 10

Oorvloed

Die een wat die lewe verklein en die Een wat die lewe vergroot, staan in skrille kontras teenoor mekaar in hierdie vers. Tog verwar ons die twee gereeld en laat ons toe dat die tydelike die ewige verduister. Ons gedagtes is gebreinspoel deur ’n welvaart-ingesteldheid en ons raak prestasie-gedrewe, besitting-besete, bevordering-behep en plesier-gebonde. Die najaag van die vlietende laat ons uitgeput, gestres en leeg.

Met ons geboorte ontvang ons die lewe, maar met ons weergeboorte ontvang ons die lewe in oorvloed. Dit is wat Jesus ons hier belowe en dit is soveel meer as kos, ’n dak oor ons kop en klere aan ons lyf. Die Goeie Herder is ook die deur na die ewige lewe, want Hy red, onderhou en beskerm ons. Ons beker loop oor, want Hy vergroot ons grondgebied en verhoog ons kapasiteit. Hy verdubbel ons talente en verdiep ons vreugde. Ons floreer in sy teenwoordigheid.

Hy is die Bron wat oorvloedig in elke behoefte voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus. Laat ons dus reg kies, want hierdie twee paaie lei in teenoorgestelde rigtings: die een na die dood en die ander na ’n lewe van oorvloed.

My beker loop oor, want reeds voordat ek my bekeer het, het u liefde my skoongewas en gereinig van die sonde. Vader-God, ryk in goedertierenheid en waarheid, dankie dat U in al ons behoeftes voorsien en genade, barmhartigheid, vrede en liefde aan elkeen van ons in oorvloed skenk. Amen

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

In Vreugde en Vertroue

Ware vreugde is ’n blydskap wat deur niks geblus kan word nie, selfs nie die heel moeilikste, donkerste omstandighede nie. Dié 10 oordenkings sal jou aanmoedig om die bron van ewige vreugde te ontdek. Jy sal sien dat ware, durende vreugde slegs moontlik is wanneer ons God se teenwoordigheid opsoek. Hierdie oordenkings is geneem uit IN VREUGDE EN VERTROUE deur Suria Scholtz.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/