In Vreugde en VertroueVoorbeeld
Ware vreugde
Die onmiddellike konteks van Paulus se opdrag “Wees altyd bly in die Here” is konflik tussen gelowiges op wie hy ’n beroep doen om hulle geskil te besleg. Alhoewel ons hierdie opdrag in alle omstandighede moet gehoorsaam, het dit veral betrekking op konfliksituasies tussen gelowiges. Dit is belangrik om te besef blydskap het niks te doen met ’n opgeruimde geaardheid nie, maar is altyd ’n keuse en die gevolg van ’n Geesvervulde lewe.
Paulus, onder huisarres in Rome, het alle rede om te kla, en tog loop hy oor van opregte dankbaarheid en vreugde terwyl hy aan die Filippense skryf. Met Christus as sy bron verdryf Paulus die leuen dat ons slagoffers van ons omstandighede is. Tog, met die wêreld wat vanaf elke advertensiebord, tydskrif en skerm tot ons roep, is dit moeilik om nie die leuen te glo dat vreugde die gevolg van sukses, gesondheid en ewige jeug is nie.
Baie eeue voor Paulus het die Here die ballinge uit Babilon daaraan herinner dat die blydskap van die Here hulle krag is. ’n Vermaning wat Paulus duidelik ter harte geneem het. Mag ons dieselfde doen terwyl ons die teenwoordigheid van God in ons lewens en veral in ons uitdagende situasies beoefen.
Ten spyte van my omstandighede kies ek vandag, soos Paulus, om u Naam groot te maak, my in U te verlustig en U te aanbid. Mag hierdie gesindheid ’n lewenstyl word en ’n karaktereienskap wat uitstaan in my lewe. Buitendien, het ek hierdie seker wete en die hoofrede vir my vreugde: My naam is geskryf in die Boek van die Lewe! Amen
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Ware vreugde is ’n blydskap wat deur niks geblus kan word nie, selfs nie die heel moeilikste, donkerste omstandighede nie. Dié 10 oordenkings sal jou aanmoedig om die bron van ewige vreugde te ontdek. Jy sal sien dat ware, durende vreugde slegs moontlik is wanneer ons God se teenwoordigheid opsoek. Hierdie oordenkings is geneem uit IN VREUGDE EN VERTROUE deur Suria Scholtz.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/