In Vreugde en VertroueVoorbeeld
Ewige redding
In hierdie bekende Psalm, wat baie mense glo Dawid ná sy verhouding met Batseba geskryf het, nader hy God sonder om verskonings vir sy sonde te maak, ander te blameer of te verwag dat God moet maak asof niks gebeur het nie. As ’n sondige heilige nader Dawid tot God vir genade, terwyl hy worstel met die dodelike nagevolge van onbelyde sonde.
Dawid het nie sy redding verloor toe hy gesondig het nie, maar hy het die vreugde daarvan verloor, wat ’n bonatuurlike gevolg van die Heilige Gees is. God se vergifnis reinig ons en bring ons terug in ’n vreugdevolle en intieme gemeenskap met Hom. Dit is die vreugde waarna Dawid gesmag het, die vrede wat hom ontbreek het en die nabyheid wat hy gemis het. Mens kan nie anders as om te wonder of Dawid die hartseer toestand van koning Saul onthou het toe God sy Heilige Gees van hom weggeneem het nie, en daarom lewer hy hierdie desperate pleidooi om sy verhouding met God te herstel.
Mag ons, soos Dawid, sondebelydenis doen om die regte redes en nie bloot uit vrees dat ons gestraf gaan word nie, want ons het die wonderlike versekering dat Hy ons Vader is wat wag dat ons na Hom toe terugdraai.
Vader, sonde bring skeiding. Dit skei my van U, dit skei my van my familie en vriende, maar dit skei my ook van vreugde, vrede, dankbaarheid en waarheid. Vandag herdenk ek sekerlik die belangrikste dag in my hele lewe – die dag van my weergeboorte en ewige verlossing van die mag van die sonde. Here, na al die jare kan ek getuig dat my vreugde en my dankbaarheid nog niks afgeneem het nie. Ek loof en prys U! Amen
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Ware vreugde is ’n blydskap wat deur niks geblus kan word nie, selfs nie die heel moeilikste, donkerste omstandighede nie. Dié 10 oordenkings sal jou aanmoedig om die bron van ewige vreugde te ontdek. Jy sal sien dat ware, durende vreugde slegs moontlik is wanneer ons God se teenwoordigheid opsoek. Hierdie oordenkings is geneem uit IN VREUGDE EN VERTROUE deur Suria Scholtz.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/