In Vreugde en VertroueVoorbeeld

In Vreugde en Vertroue

DAG 9 VAN 10

Huil

Dawid weet uit ondervinding dat huil net vir ’n kort besoek kom. Dit daag op met niks meer as ’n oornagsak nie en verleng selde sy verblyf. Daarom kontrasteer hy op meesterlike wyse trane in die nag met vreugde in die dag in wat baie herinner aan Jeremia, die huilende profeet, wat in Klaagliedere getuig dat God se genade elke oggend nuut is.

As Christene stem ons volkome saam, want as ons terugkyk op ons lewens is sy dissiplinering kortstondig, terwyl sy guns vir ewig is. God is geduldig en vol liefde en bly daarom nie vir altyd kwaad nie. Hy weet dat trane gevolg word deur vinnige groei, wat ons dieper anker en daartoe lei dat ons meer vrug dra.

Laat ons daarom nie wegskram van ons pyn nie, want dikwels is dit hier, in ons diep benoudheid en donkerste nag, waar God ons ontmoet. Dit is waar Hy Hanna ontmoet, diep hartseer omdat sy nie ’n baba het nie. Dit is waar Hy Petrus ontmoet, ontroosbaar nadat hy Jesus verloën het. Dit is waar Jesus Maria Magdalena ontmoet, huilend buite die leë graf.

Mag dit ook ons getuienis wees dat God ons klaagliedere in ’n dans van vreugde verander, ons rouklere vervang met vreugde (Ps. 30:12).

My worsteling is intens, my emosies rou en eerlik voor U terwyl ek huil oor my verlies/mislukking/teleurstelling/siekte/die onreg wat my aangedoen is. Tog herinner Dawid my hier dat my trane van korte duur is. My Here en my God, U is almagtig en kan my seer in ’n oogwink omskep in vreugde, my pyn en teleurstelling in oorwinning. Ek hou my oë op U! Amen

Dag 8Dag 10

Aangaande hierdie leesplan

In Vreugde en Vertroue

Ware vreugde is ’n blydskap wat deur niks geblus kan word nie, selfs nie die heel moeilikste, donkerste omstandighede nie. Dié 10 oordenkings sal jou aanmoedig om die bron van ewige vreugde te ontdek. Jy sal sien dat ware, durende vreugde slegs moontlik is wanneer ons God se teenwoordigheid opsoek. Hierdie oordenkings is geneem uit IN VREUGDE EN VERTROUE deur Suria Scholtz.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/