Aanbidding: 'n Studie in PsalmsVoorbeeld
Wat staan daar geskrywe?
Dawid roep in wanhoop uit na God, sy beskutting. Hy bid dat God sy dae as koning sal verleng en hom met trou en liefde sal bewaar.
Wat beteken dit?
God het Dawid se hulpgeroep geantwoord om sy lewe te beskerm teen die verraad van sy seun Absalom. Absalom het gesterf en die opstand het tot 'n einde gekom. Dawid was terselfdertyd verlig en treurig. Hy was ver weg van sy huis en die tent van God se teenwoordigheid. Hy het 'n vaste fondament nodig gehad om op te staan. Die een ding wat vertroosting gebring het was die gedagte aan God se teenwoordigheid. Dawid het geweet dat net die hoëpriester een keer 'n jaar in die tabernakel in die teenwoordigheid van God kon kom. Hy het verlang om te woon waar God se heerlikheid en genade teenoor sy mense geheers het. Dawid het uitgesien na sy terugkeer na Jerusalem en die dag wanneer hy vir ewig in God se teenwoordigheid sou leef, en die Here in die hemel aanbid en dien.
Hoe behoort ek te reageer?
Ons is geneig om baie dinge, en selfs sekere mense, as vanselfsprekend te aanvaar — veral as ons gereeld in hulle teenwoordigheid is. God se voortdurende, blywende teenwoordigheid is geen uitsondering nie. Omdat ons in die era leef na die koms van die Heilige Gees tydens Pinkster, kan ons daagliks in die Here se teenwoordigheid leef. God hoor nie net ons gebede nie, maar sy vertroosting, vrede en krag is in elke volgeling van Christus teenwoordig. By wie wil jy die graagste wees as jy ontsteld, hartseer of uitgeput is? Verlang jy na die teenwoordigheid van God in sulke tye? Leef vandag met 'n dankbare gewaarwording dat Hy altyd by jou is. Jy het onmiddellike toegang tot die Skepper en Redder van die wêreld; moet dit nie as vanselfsprekend aanvaar nie.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Die psalms is 'n versameling van gedigte en liedere wat meer as 1 000 jaar gelede geskryf is. Psalms bevat uitbundige lofprysing en treurige klaagliedere en die hele boek getuig van God se getroue liefde teenoor sy mense in elke omstandigheid. Dit vorm die middelpunt van aanbidding in die Ou Testament en elke psalm is vol verwagting vir die hoogtepunt van God se lof wat in die dood en opstanding van Jesus Christus plaasvind.
More