Aanbidding: 'n Studie in PsalmsVoorbeeld
Wat staan daar geskrywe?
Die psalmdigter nooi almal wat asemhaal om die Here te prys vir sy skepping, sy ontferming, sy kragtige dade en magtige grootheid.
Wat beteken dit?
Wat 'n manjifieke slot vir die prys- en gebedskonsert van die Skrif! Die eerste psalm begin met God se seën oor die mens wat op sy Woord mediteer. Die laaste psalm eindig met die mens en "alles wat asemhaal" wat die Here prys. Met tye kan lofprysing aan God stil en nadenkend wees. Die laaste drie psalms nooi egter die hele skepping uit om deel te neem aan 'n erediens om hul Skepper te loof. Diegene wat God ken, het 'n spesiale rede om 'n nuwe loflied vir die Here te sing – 'n lied van verlossing. Hy is die Een wat hulle sonde weggewas en hul vyande gestraf het. Dit is reg om God op elke plek te prys, in elke situasie en met elke asemteug.
Hoe behoort ek te reageer?
Hoe begin en eindig jy jou dag? Word jy wakker met bekommernis as jy oor die dag se gebeure dink, of onthou jy: "Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees”? God hou daarvan om jou lofprysing te hoor as jy Hom saam met ander mense aanbid, maar Hy is ook bly wanneer jou lofprysing in lyn is met jou keuses en die manier waarvolgens jy lewe. Probeer om jou dag volgens die riglyne van die psalms te leef. Begin die dag deur op God se wysheid in die Skrif te mediteer; laat jou dade regdeur die dag 'n uitdrukking wees van hoe lief jy Hom het en eindig die dag deur waardering te toon vir wie God is en dankie te sê vir wat Hy gedoen het. Sal jy die Here saam met die skepping prys vir sy grootheid? Sal jy nou vir Hom dankie sê vir jou verlossing? Wees vasbeslote om die Here in elke situasie, met elke asemteug te prys, tot die dag wat jy sterf. Dit sal jou liggaam, gees en siel verkwik.
Aangaande hierdie leesplan
Die psalms is 'n versameling van gedigte en liedere wat meer as 1 000 jaar gelede geskryf is. Psalms bevat uitbundige lofprysing en treurige klaagliedere en die hele boek getuig van God se getroue liefde teenoor sy mense in elke omstandigheid. Dit vorm die middelpunt van aanbidding in die Ou Testament en elke psalm is vol verwagting vir die hoogtepunt van God se lof wat in die dood en opstanding van Jesus Christus plaasvind.
More