Aanbidding: 'n Studie in PsalmsVoorbeeld
Wat staan daar geskrywe?
Die psalmdigter sing van die koning se mooi voorkoms en majesteit en sy bruid se skoonheid.
Wat beteken dit?
Hierdie psalm beskryf die koninklike troue van 'n groot en godvresende koning. Alhoewel ons nie presies weet wanneer dit geskryf is of na watter koning dit verwys nie, kan ons uit die beskrywing aflei dat dit Salomo of Hiskia was. Hierdie koning sou deur God geseën en deur mense onthou word omdat hy geregtigheid lief het en goddeloosheid haat. Maar nog groter as dit — sy heerskappy word in verband gebring met Jesus self in Hebreërs, waar die skrywer verse uit hierdie psalm aanhaal aangaande die oppergesag van Christus (Hebreërs 1:8-9). Johannes het ook hierdie Messiaanse gedeelte in Openbaring gebruik om Christus se wederkoms te beskryf. Net soos die bruid mooi klere aantrek om haar bruidegom te behaag, behoort die kerk ook geklee te wees met geregtigheid wanneer koning Jesus sy bruid kom haal (Openbaring 19:6-8).
Hoe behoort ek te reageer?
Die kerk van Jesus Christus bestaan uit al die mense deur al die eeue heen, wat hulle geloof in Hom geplaas het vir verlossing van hulle sondes. Dié van ons wat vandag lewe en Hom volg, is hierdie dae van voorbereiding as die bruid van Christus. Die toestand van die kerk as 'n geheel, is afhanklik van elke plaaslike kerk, wat op sy beurt afhanklik is van die gehoorsame lewens van sy individuele lede. As Jesus vandag terugkom, sal jy in stukkende klere geklee wees of in sy geregtigheid? Waar is jy aktief besig om die plaaslike kerk voor te berei as Christus se koninklike bruid? Besluit om nie 'n enkele dag van voorbereiding te vermors terwyl ons sy terugkoms verwag nie.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Die psalms is 'n versameling van gedigte en liedere wat meer as 1 000 jaar gelede geskryf is. Psalms bevat uitbundige lofprysing en treurige klaagliedere en die hele boek getuig van God se getroue liefde teenoor sy mense in elke omstandigheid. Dit vorm die middelpunt van aanbidding in die Ou Testament en elke psalm is vol verwagting vir die hoogtepunt van God se lof wat in die dood en opstanding van Jesus Christus plaasvind.
More