Aanbidding: 'n Studie in PsalmsVoorbeeld
Wat staan daar geskrywe?
Die Here, die Almagtige, die God van Jakob, is 'n beskutting en 'n vesting vir sy mense. Die psalmdigter lei die mense om God as koning van die hele aarde te prys.
Wat beteken dit?
Hierdie psalms herdenk die oorwinning van die engel van die Here oor die Assiriese weermag wat rondom Jerusalem kamp opgeslaan het (2 Konings 19). Hiskia het die nag voor die beplande aanval na die tempel gegaan om te bid. Met dagbreek was God se redding duidelik sigbaar, sonder dat 'n enkele man 'n swaard hoef te gebruik het. Die stad se mure sou nie bestand gewees het teen 'n Assiriese aanval nie, maar die Here, die Almagtige was self hulle vesting. Al wat hulle moes doen was om te "Bedaar en erken dat Ek God is". 'n Nag van worsteling in gebed het verander in uitroepe van vreugde, handeklappery en lofliedere. Die God van Jakob het Homself bewys as God oor al die koninkryke van die aarde, net soos Hiskia gebid het.
Hoe behoort ek te reageer?
Hoe reageer jy wanneer 'n desperate situasie op die horison is? Hardloop jy verward rond en probeer die situasie te red asof jy vir 'n aankomende storm voorberei? Vandag se psalms herinner ons om Hiskia se voorbeeld te volg om te bedaar, te bid en te prys. As jy in die kalmte voor die storm is, word stil voor die Here en praat eerlik met Hom oor jou bekommernisse. God sal namens jou kan veg indien jy die beheer van die situasie aan Hom oorhandig. Sy antwoord sal dalk nie dadelik kom nie, maar deur die hele moeilike tyd sal jy die kragtige woorde van Martin Luther beleef: “Ons God is 'n sterk vesting!”
Aangaande hierdie leesplan
Die psalms is 'n versameling van gedigte en liedere wat meer as 1 000 jaar gelede geskryf is. Psalms bevat uitbundige lofprysing en treurige klaagliedere en die hele boek getuig van God se getroue liefde teenoor sy mense in elke omstandigheid. Dit vorm die middelpunt van aanbidding in die Ou Testament en elke psalm is vol verwagting vir die hoogtepunt van God se lof wat in die dood en opstanding van Jesus Christus plaasvind.
More