Mosaiek Lydenstydgids: Jesus se vrae in lydingVoorbeeld

Mosaiek Lydenstydgids: Jesus se vrae in lyding

DAG 1 VAN 39

Inleiding

Wat beteken ‘n lydingservaring vir jou? Hoe sou jy dit in ‘n paar woorde beskryf?

Vir Israel was dit ‘n reis uit Egipte; ‘n reis van slawerny, swaarkry en pyn op pad na die beloofde land. Vir die profete en dissipels was dit ‘n reis van vervolging, teleurstellings en versoeking op pad na hoop en ‘n nuwe manier van lewe.

Vir Jesus was dit ‘n reis van lyding en sterwe op pad na opstanding.

Lyding raak ons psige ten diepste.

Sosioloë beskryf dit as 'n liminale ruimte (subtiele drumpel).

Sielkundiges beskryf dit as ‘n reis op pad na ‘n plek van oriëntasie.

Die Indiane beskryf dit as "crazy time".

Vir ons as gelowiges is dit ‘n reis om Hom te ken en die krag van sy opstanding te ondervind deur in sy lyding te deel, en só in sy dood aan Hom gelyk te word.

Tydens hierdie reis deur Lydenstyd, skenk ons 40 dae aan die vrae wat Jesus in die laaste dae van sy lewe gevra het. Jy word genooi om saam met Jesus, in sy broosheid, sy openlikheid en sy moed, eerlik te wroeg en sy lydingservaring te verken.

Hoe om hierdie leesplan te gebruik

Elke tema sal jou begelei met:

  1. Gedig – aan die begin van elke week is daar ‘n gedig wat met die inhoud verband hou. Gebruik dit om jou gedagtes te fokus en jou hart voor te berei vir die woorde wat jy daardie week gaan lees en die ervaringe wat jy met Jesus gaan deel.
  2. Gedagte –jy word daagliks met ‘n kort oordenking en Skrifgedeelte begelei. Begeleidende vrae in elke oordenking kan jou help om in kontak te kom met jou innerlike leefwêreld. Watter emosie, gedagte, beeld kom by jou op as jy aan die Woord van die dag dink en die vrae wat aan jou gestel word? Reageer op die uitnodigings deur deel te neem aan die daaglikse oefening wat verskaf word.
  3. Gebed – ‘n kort gebed word daagliks verskaf. Gebruik hierdie gebed deur die loop van die dag om jou te herinner aan die dag se woorde en ervarings. Herhaal die gebed ‘n paar keer terwyl jy met jou dag se roetine besig is.
  4. Refleksie – Aan die einde van elke week is daar ‘n begeleiding om na te dink oor die inhoud en belewenis in die week wat verby is. Gebruik die gebed van nadenke om jou Lydingservaring te verdiep.

Voorbereidingsweek

The Creaks and Cries of a heart

It doesn’t happen in a day.

The heart slowly closes the door,

disenchanted with people, work, God,

refusing to let in more confusion,

slamming the door shut on sorrow,

pulling the shade down on challenge,

hiding out from the carnage of rejection.

The process of petrification

crawls slowly into the cells of love,

squeezing out the last remnants of joy,

hardening the arteries of tenderness,

compressing the atoms of enthusiasm.

Gradually all relationships taste flat,

work reeks of boredom and struggle.

God takes up residence in another house

and food and drugs, drink

dull the memory of the soul’s singing.

But the soul of love is persistent.

She finds our address in the dumpster,

begins the hungry hunt for home

and lays siege to our barriered heart

with a constant “come out! come out!”

In spite of our deadness, we hear.

We fight, we hide, we tremble.

The covers come up over our heads.

We sneak behind busyness, illness,

refusing to yield to the loving voice,

the one demanding a return to life.

All day and night, especially at night

in wild dreams that toss us deeper,

the voice harangues, “come out!”

I know you’re in there. Come out”

Finally, the heart limps to the front door,

tugs at the long-shut opening to the soul,

And listens.

-Florida Scott Maxwell

** Die gedig handel oor die ervaring van menslike lyding en die reis na liefde waar ons in pyn vertroosting vind. Dit nooi ons uit om nie ons donkerste oomblikke te ontken of hoop te verloor wanneer ons deur uitdagings, verwerping, gebroke verhoudings en verwarring oorweldig voel nie, maar om die stem te hoor wat na ons roep, 'n terugkeer na die lewe te eis, en ons afgetakelde harte toe te laat om weer oop te maak. Om na hierdie Stem van Liefde te luister.

Aswoensdag

“Want jy is van stof gemaak en jy sal weer stof word” - Genesis 3:19 (NLV).

Oor die volgende 40 dae gaan ons op 'n reis. Op hierdie reis word ons uitgenooi om tyd opsy te sit en ons verbeelding toe te laat om deur Jesus se lyding hier op aarde vasgevang te word. Ons verbeel ons dat ons daar is, waar Hy was, en ons vra die Heilige Gees om ons harte opnuut aan te raak. Op hierdie manier beweeg ons nader aan die lydende Jesus. Ons vra om genade om saam met Hom te huil terwyl ons die reis na die kruis aanpak.

In die vroeë geskiedenis van die kerk het Christene die 40 dae voor Paassondag gebruik om hulle geestelik voor te berei op die herdenking van die groot gebeurtenisse van Jesus se kruisiging en opstanding. Tradisioneel is dit 'n tyd van opoffering, om ons te lei op 'n reis waar ons iets van Jesus se lyding vir onsself ervaar. Baie Christene gee iets prys tydens hierdie tyd van voorbereiding. Sommige gee die gebruik van vleis, suiker, kafeïne of sosiale media prys as 'n simbool van opoffering.

Die eerste dag van Lydenstyd staan bekend as Aswoensdag. Op hierdie dag – aan die begin van ons 40 dae van voorbereiding vir Paasfees – dink ons aan ons eie sterflikheid. Dit is ‘n tradisie in baie kerke om op Aswoensdag 'n merk van as op jou voorkop te ontvang. Die as word gewoonlik gemaak van die palmtakke van die vorige jaar se Palmsondag. Dus, van “Hosanna!” (palmtakke) tot “Kruisig Hom!”

Ons hou gewoonlik nie daarvan om aan ons eie sterflikheid herinner te word nie, maar ons voel en sien hoe ons ouer word. Ons erken die effek wat verwarring, hartseer, uitdagings, verwerping, om besig te wees en wat siekte op ons het. Ons voel dikwels hoe ons kreun onder die druk van ons gebrokenheid en beperkings. Ons is broos en kwesbaar. Tog, ten spyte van elke oomblik van ons "dood-wees", hoor ons die Stem van Liefde wat ons herinner dat ons nie net stof is nie, maar geliefde stof.

Refleksie:
Staan 'n oomblik gedurende jou dag af om in jou tuin te sit of in die natuur te stap. Staan stil om die tekstuur van die blare aan 'n boom te voel. Laat jou oë beweeg van die blaartjie na waar dit aan die tak verbind is. Let dan op hoe die tak aan die boom verbind is. Laat jou blik sak na die boomstam waar dit in die grond geplant is. Let op hoe die grond rondom die boom lyk. Voel aan die grond. Verbeel jou God tel van hierdie stof op, hoe Hy met liefde glimlag en dan lewe daaruit skep. Herinner jouself dat jy deel van hierdie aarde, deel van God se skepping is. Jy het lewe deur God se asem ontvang. Hy het lewe in jou geblaas omdat Hy wou hê jy moet saam met Hom leef.

  • Wat voel jy as jy aan jou plek in God se skepping dink?
  • Wat merk jy op as jy erken dat jy as mens broos en kwesbaar is?
  • Wat voel jy kommunikeer God met jou as Hy jou herinner: “Want jy is van stof gemaak en jy sal weer stof word”?

Gebed: Jesus, help my om te aanvaar dat ek stof is. Help my om te weet dat ek geliefde stof is. Amen.

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Mosaiek Lydenstydgids: Jesus se vrae in lyding

Wat beteken ‘n lydingservaring vir jou? Hoe sou jy dit in ‘n paar woorde beskryf? Vir Jesus was dit ‘n reis van lyding en sterfte op pad na opstanding. Vir ons as gelowiges is lyding ‘n reis om Hom te ken en die krag van sy opstanding te ondervind deur te deel in sy lyding, en só aan Hom gelyk te word in sy dood. Tydens hierdie reis deur Lydenstyd, bring ons 40 dae deur met die vrae wat Jesus in die laaste dae van sy lewe gevra het.

More

Ons wil graag Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: mosaiek.com