Mosaiek Lydenstydgids: Jesus se vrae in lydingVoorbeeld
“Sê My, wie is die belangrikste persoon by ’n feesmaal, die eregaste of die kelners wat hulle bedien? Ja, natuurlik: die eregaste. Maar kyk net wat Ek kom doen het. Ek wat die heel belangrikste van almal is, het my koningsklere uitgetrek. Ek dien julle almal. Ek het die belangrikste plekke aan julle afgestaan. “Julle wat my volgelinge is, is so kosbaar vir My. Julle was bereid om deur dik en dun by My te staan"
- Lukas 22:27-28 (DB)
Henry Nouwen sê dat hy twee stemme hoor. Die een sê: “If it’s gonna be, it is up to me.” Ek sal baie moet doen om onafhanklik te kan wees, myself interessant te maak dat ander mense my bewonder sodat ek op ‘n plek kom waar ek vryheid het om te doen wat ek wil, wanneer ek wil en soos ek wil. Aan die ander kant hoor hy ‘n stem wat vir hom sê dat hy naby aan die Here moet bly, Hom moet volg en dat hy só die lewe sal vind.
Dit is ook die twee stemme wat die dissipels gehoor het. Aan die een kant was die stem van hul kulturele agtergrond wat sê dat dit van hulle afhang. Dat hulle goed moet doen om deur mense geag te word, om posisies van mag te verkry, wat hulle dan die lewe sal gee. Aan die ander kant was daar die stem van Jesus wat sê, kyk na My, volg My, vertrou My. Dit wat julle soek is iets wat julle alreeds het. Julle het aansien, julle het waarde en julle het nie nodig om daardie posisies te hê nie. Jesus wys ons hoe Hy sy koningsklere uitgetrek het deur sy soeke en behoefte na mag en aansien te laat vaar. Hy het homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem (Filippense 2). Deur sy lewe te verloor, het Hy dit teruggekry. Die Vader het Hom verhoog en Hom ‘n Naam gegee bo elke ander naam.
Refleksie: Wanneer hoor jy die twee stemme die sterkste? Watter een is jy geneig om te kies?
Gebed: Ek vra om genade vir ‘n dieper insig en oortuiging sodat my eie-ek my nie van die lewe moet ontneem nie.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Wat beteken ‘n lydingservaring vir jou? Hoe sou jy dit in ‘n paar woorde beskryf? Vir Jesus was dit ‘n reis van lyding en sterfte op pad na opstanding. Vir ons as gelowiges is lyding ‘n reis om Hom te ken en die krag van sy opstanding te ondervind deur te deel in sy lyding, en só aan Hom gelyk te word in sy dood. Tydens hierdie reis deur Lydenstyd, bring ons 40 dae deur met die vrae wat Jesus in die laaste dae van sy lewe gevra het.
More
Ons wil graag Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: mosaiek.com