Mosaiek Lydenstydgids: Jesus se vrae in lydingVoorbeeld
“Sê My, wie is die belangrikste persoon by ’n feesmaal, die eregaste of die kelners wat hulle bedien? Ja, natuurlik: die eregaste. Maar kyk net wat Ek kom doen het. Ek wat die heel belangrikste van almal is, het my koningsklere uitgetrek. Ek dien julle almal. Ek het die belangrikste plekke aan julle afgestaan. Julle wat my volgelinge is, is so kosbaar vir My. Julle was bereid om deur dik en dun by My te staan”
- Lukas 22:27-28 (DB)
Macarias, die woestynvader, was op pad na sy blyplek toe, toe die duiwel hom konfronteer en vra waar sy krag lê. Die duiwel sê toe dat hy geen mag oor Macarias kan uitoefen nie al doen hy net wat Macarias doen. Hy vas, waak, ken die Bybel en daar is geen ding waarin hy tekortskiet nie. Macarias antwoord hom toe: Dit is oor my nederigheid. Nog 'n verhaal is dié van Isak van Sirië (17de eeu). Hy was oortuig daarvan dat ‘n nederige persoon ‘n geur afgee wat mense en diere kan bespeur. Hy het gesê hierdie geur kan so kragtig wees dat gevaarlike, wilde diere daardeur bedwelm sal word en so ‘n persoon nie sal aanval nie. Hy het geglo dat ‘n nederige persoon die geur, die atmosfeer van die grond en die paradys saam met hom dra. Niemand en niks voel veroordeel by so persoon nie en almal is tot so ‘n persoon aangetrokke.
In hierdie twee verhaaltjies kry ons ou idees van hoe ‘n lewe van nederigheid lyk en wat die uitwerking daarvan is. Jesus sê vir sy dissipels dat hulle op hierdie pad van nederigheid in die Koninkryk saam met Hom sal leef. Deur nederigheid onderwerp ons onsself aan God, weerstaan ons die duiwel en hy sal van ons wegvlug (Jakobus 4:7). Ons ervaar vrede en harmonie word in verhoudings herstel, soos met die dissipels – hulle kom weer bymekaar uit en volg Hom as ‘n gemeenskap van gelowiges.
Refleksie: Leef met hierdie twee verhaaltjies en dink daaroor na. Wat is van hierdie verhaaltjies gryp jou aan? Waarmee identifiseer jy sterk en waarna het jy 'n sterk verlange? Is daar iemand met wie jy dit kan deel?
Gebed: Ek vra om genade vir ‘n dieper insig en oortuiging dat my eie-ek my nie van die lewe moet ontneem nie.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Wat beteken ‘n lydingservaring vir jou? Hoe sou jy dit in ‘n paar woorde beskryf? Vir Jesus was dit ‘n reis van lyding en sterfte op pad na opstanding. Vir ons as gelowiges is lyding ‘n reis om Hom te ken en die krag van sy opstanding te ondervind deur te deel in sy lyding, en só aan Hom gelyk te word in sy dood. Tydens hierdie reis deur Lydenstyd, bring ons 40 dae deur met die vrae wat Jesus in die laaste dae van sy lewe gevra het.
More
Ons wil graag Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: mosaiek.com