Mosaiek Lydenstydgids: Jesus se vrae in lydingVoorbeeld
"En sy verraaier het vir hulle 'n teken gegee en gesê: Die een wat ek sal soen, dit is Hy, gryp Hom! En dadelik gaan hy na Jesus en sê: Gegroet, Rabbi! en hy het Hom gesoen. Maar Jesus sê vir hom: Vriend, waarvoor is jy hier? Toe kom hulle nader en slaan die hande aan Jesus en gryp Hom"
- Matteus 26:48-50 (AFR53).
Dit is moontlik dat Judas mettertyd met Jesus se plan ontnugter geraak het as gevolg van sy verwagtinge hoe die Here sy koninkryk op aarde moes vestig. Judas, soos baie ander Jode, het moontlik 'n politieke leier verwag wat Israel van Romeinse onderdrukking sou bevry en die volk tot hul vorige glorie sou herstel. Toe Jesus egter voortgaan om 'n geestelike, eerder as politieke roeping uit te leef, het Judas dalk gefrustreerd en teleurgesteld geraak. Hierdie ontnugtering kon daartoe gelei het dat hy Jesus verraai het, miskien in 'n poging om Jesus te dwing om meer beslissend op te tree in ooreenstemming met Judas se begrip van die profesieë.
Is dit nie so dat ons verwagtinge oor “hoe” die Here dinge moet doen, in ons lewens uitgedaag word nie? Ons probeer verstaan hoekom en wat die Here doen en kom dikwels op ‘n plek van ontnugtering wanneer dinge nie uitwerk soos ons dit wil hê nie. Die grootste illusie van die lewe is dat ons alles kan beheer — maar die uitnodiging is om beheer te laat vaar en aan God oor te gee. Baie van ons hou net vas en dink: “Ek weet die beste. Ek weet wat gaan vir my lewe werk.”
Dikwels nooi die Here ons uit en neem Hy ons na plekke waarheen ons nie wil gaan nie. In Johannes 21:18 sê hy vir Petrus dat hy in sy ouderdom na plekke toe geneem sal word waar hy nie wil gaan nie. Hy sal oorgelewer word, maar dit sal aan hom nuwe geleenthede bring. As jy kan leer om te wag en op die Here te vertrou, sal jy sien sy planne is altyd groter en beter as wat ons self kan maak of uitdink. Ons sien dit nie altyd so in ons onmiddellike omstandighede nie. Ek vertrou op Hom met die verwagting dat God ‘n plan het en dat God werk en dat Hy my daarmee sal verras. Iets goeds gaan uit hierdie gebeure kom. Ek weet dit: goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe. Ek kan nie wegkom daarvan af nie. As jy net kan wag. Op die derde dag is daar ‘n opstanding.
Refleksie: In watter omstandighede klou ek vas aan my eie idees van wat die beste is? Hoe kan ek dit vandag in vertroue en geloof aan die Here oorgee?
Gebed: Ek vra om genade om van my tekortkominge bewus te raak en u vergifnis daarvoor te ontvang.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Wat beteken ‘n lydingservaring vir jou? Hoe sou jy dit in ‘n paar woorde beskryf? Vir Jesus was dit ‘n reis van lyding en sterfte op pad na opstanding. Vir ons as gelowiges is lyding ‘n reis om Hom te ken en die krag van sy opstanding te ondervind deur te deel in sy lyding, en só aan Hom gelyk te word in sy dood. Tydens hierdie reis deur Lydenstyd, bring ons 40 dae deur met die vrae wat Jesus in die laaste dae van sy lewe gevra het.
More
Ons wil graag Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: mosaiek.com