Mosaiek Lydenstydgids: Jesus se vrae in lydingVoorbeeld

Mosaiek Lydenstydgids: Jesus se vrae in lyding

DAG 17 VAN 39

"Wees my genadig, o God, volgens u troue liefde. Wis tog my sonde uit, op grond van u barmhartigheid. Was my skoon van my skuld. Reinig my van my sonde. Want ek ken my oortredings en my sonde is gedurig voor my. Teen U, U alleen, het ek gesondig; ek het gedoen wat vir U verkeerd is. Daarom is u uitspraak reg en u oordeel regverdig. Want ek is as sondaar gebore, en was dit toe my ma swanger geword het. Maar U verwag waarheid in die hart. U leer my om wysheid te besit. Neem weg my sonde met hisop sodat ek skoon kan wees, was my dat ek witter as sneeu kan wees. Gee my tog weer blydskap en vreugde; U het my stukkend gebreek, laat my weer vol vreugde wees. Moenie let op my sondes nie, en wis al my oortredings uit. Skep vir my ’n rein hart, o God. Gee my ’n nuwe, standvastige gees"

- Psalm 51 (AFR53)

Daar is niks moeiliker in die lewe as om verraai te word nie en hoe nader daardie mens aan ons is, hoe moeiliker is die verraad om te verwerk. Dit was deel van Jesus se reis om deur iemand na aan hom verraai te word.

Refleksie: Wat van ons? Ons almal het al vir Jesus verraai.

Dink aan ‘n onlangse gebeurtenis toe jy ‘n groot fout gemaak het – toe jy dalk iets gedoen het wat ‘n groot impak op jou lewe gehad het. Dit het dalk ander seergemaak. Dalk het jy ‘n belofte nie nagekom nie. Dalk het jy opsetlik iets gesê om iemand seer te maak. Miskien het jy 'n verhouding gehad en het jy iemand verraai aan wie jy ‘n belofte gemaak het. Miskien is jy nou midde-in so 'n verhouding. Wat was die effek van daardie ervaring op jou lewe? Op jou liggaam? Emosioneel? Sosiaal?

God bied jou nou die gawe van belydenis. Ons bely nie dat God ons moet liefhê, sodat Hy barmhartig teenoor ons moet wees nie. Hy is dit reeds. Diep in die hart van God is daar altyd 'n diepe begeerte om ons te vergewe. Dit is daardie liefde wat Jesus aarde toe gestuur het. Dit is daardie liefde wat Jesus na die kruis geneem het. Diep binne in God se hart is daar 'n begeerte om te vergewe en te genees en om ons te herstel. Belydenis maak die deur van ons lewens oop sodat ons dit kan ervaar. Dit is die geskenk van belydenis. Belydenis maak die deur van ons lewens oop sodat God se vergifnis en liefde kan inkom, sy genade, vryheid en genesing kom in. Ek verlang dat daardie deur ook vandag in jou lewe sal oopgaan.

Gebed: Ek vra om genade om van my tekortkominge bewus te raak en u vergifnis daarvoor te ontvang.

Dag 16Dag 18

Aangaande hierdie leesplan

Mosaiek Lydenstydgids: Jesus se vrae in lyding

Wat beteken ‘n lydingservaring vir jou? Hoe sou jy dit in ‘n paar woorde beskryf? Vir Jesus was dit ‘n reis van lyding en sterfte op pad na opstanding. Vir ons as gelowiges is lyding ‘n reis om Hom te ken en die krag van sy opstanding te ondervind deur te deel in sy lyding, en só aan Hom gelyk te word in sy dood. Tydens hierdie reis deur Lydenstyd, bring ons 40 dae deur met die vrae wat Jesus in die laaste dae van sy lewe gevra het.

More

Ons wil graag Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: mosaiek.com