Mosaiek Lydenstydgids: Jesus se vrae in lydingVoorbeeld

Mosaiek Lydenstydgids: Jesus se vrae in lyding

DAG 16 VAN 39

"So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge …"

- Lukas 24:46-48 (AFR53)

Die begeerte aan finansiële stabiliteit is 'n stryd wat baie van ons in die gesig staar – en dit kan ons soms daarna lei om keuses te maak waaroor ons later spyt is. Judas kon dalk sy optrede regverdig deur vir homself te sê dat sy diefstal tot voordeel van die groter prentjie was, of dat dit nodig was om die doelwitte te bereik waarin hy geglo het.

Alhoewel ek nie Judas se optrede goedpraat nie, dink ek dit is belangrik om die komplekse mengsel van emosies, begeertes en vrese te erken wat dalk tot sy uiteindelike verraad van Jesus bygedra het. Judas moes met sy oortuigings, begeertes en die uitdagende werklikhede van sy dag worstel.

Ons mag dalk dink dat ons nooit die Here op so ‘n manier sal verraai nie; tog vind elkeen van ons onsself op ‘n plek waar ons die Here vergeet of sy roeping vir ons lewens ignoreer. Ons is nie spioene wat in die geheim probeer om Jesus se sending te ontspoor nie. Ons word eerder soms geheime volgelinge wanneer ons uitdagings in die gesig staar. Vandag is daar ‘n uitnodiging om jammer te sê vir die klein dade en wyses waarop ons teen die Here draai. Bekering beteken om jou weer na die Here te keer en dis beide ‘n daaglikse besluit en ‘n lewenslange reis.

Terugkeer of bekering is een van die grootste woorde in die Bybel. Ons lees in die ou Testament dat die profete voortdurend mense geroep het om na God terug te keer en hulle te bekeer van die kwaad wat hulle gedoen het. Wanneer Jesus in die Nuwe Testament sy eerste boodskap bring, is bekering een van sy eerste woorde. Hy sê dat die koninkryk van God naby is – bekeer jou en glo die goeie nuus.

Die Griekse woord wat hiervoor gebruik word is metanoia. Dit beteken om weer oor ons lewens na te dink, die volkome ommekeer van ons denke, ons uitkyk op die lewe, ‘n nuwe gewilligheid om God die fokus van ons lewens te maak. Ons draai weg van die idee dat ons in beheer van ons eie lewens is. Dit is ‘n voortdurende proses, want elke dag word ek en jy of gekonfronteer deur die feit dat daar areas in ons lewens is wat nie op God gerig is nie en dan begin ons weer. Ons gee oor, ons bely, ons bekeer onsself.

Refleksie: Wat weerhou my daarvan om na God terug te keer? Is daar dalk areas in my lewe wat vir my makliker is om my na God te keer as ander? Ek praat met God daaroor.

Gebed: Ek vra om genade om van my tekortkominge bewus te raak en u vergifnis daarvoor te ontvang.

Dag 15Dag 17

Aangaande hierdie leesplan

Mosaiek Lydenstydgids: Jesus se vrae in lyding

Wat beteken ‘n lydingservaring vir jou? Hoe sou jy dit in ‘n paar woorde beskryf? Vir Jesus was dit ‘n reis van lyding en sterfte op pad na opstanding. Vir ons as gelowiges is lyding ‘n reis om Hom te ken en die krag van sy opstanding te ondervind deur te deel in sy lyding, en só aan Hom gelyk te word in sy dood. Tydens hierdie reis deur Lydenstyd, bring ons 40 dae deur met die vrae wat Jesus in die laaste dae van sy lewe gevra het.

More

Ons wil graag Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: mosaiek.com