Mosaiek Lydenstydgids: Jesus se vrae in lydingVoorbeeld
Week 3: Vir wie soek julle?
Nie
Die grootste heiliges weet dit goed:
die lang reis van die siel geskied
nie met die haas van 'n heldersien nie
maar sku oor die klippers voet vir voet.
- Sheila Cussons
“Toe Jesus hierdie woorde gespreek het, het Hy saam met sy dissipels uitgegaan oor die spruit Kedron, waar 'n tuin was, waarin Hy ingegaan het, en sy dissipels. En Judas, wat Hom verraai het, het ook die plek geken, want Jesus het dikwels saam met sy dissipels daarheen gekom. Toe Judas 'n bende manne en offisiere van die owerpriesters en Fariseërs ontvang het, het hy daarheen gekom met lanterns en fakkels en wapens. Jesus het dan, omdat Hy alles geweet het wat oor hom sou kom, uitgegaan en vir hulle gesê: Wie soek julle? Hulle antwoord hom: Jesus van Nasaret. Jesus sê vir hulle: Dit is Ek. En Judas, wat Hom verraai het, het ook by hulle gestaan. Toe Hy dan vir hulle gesê het: Dit is ek, het hulle agteruit gegaan en op die grond geval. Toe vra hy hulle weer: Wie soek julle? En hulle sê: Jesus, die Nasaret. Jesus antwoord: Ek het vir julle gesê dat dit Ek is; as julle My daarom soek, laat hulle weggaan. Sodat die woord vervul sou word wat Hy gespreek het: Van die wat U My gegee het, het ek niemand verloor nie. Toe het Simon Petrus met 'n swaard dit getrek en die dienaar van die hoëpriester geslaan en sy regteroor afgekap. Die dienaar se naam was Malgus. Toe sê Jesus vir Petrus: Steek jou swaard in die skede: die beker wat my Vader My gegee het, sal Ek dit nie drink nie? Toe het die bende en die owerste en die beamptes van die Jode Jesus geneem en Hom geboei”
- Johannes 18:1-12 (CAB23).
NT Wright skryf dat die verhaal van God en die mens begin in ’n tuin: waar God en mens in die aandwindjie stap en die mense met mekaar en die natuur in harmonie leef. Dit is hier waar Hy hulle kom soek, daar waar hulle altyd was, waar hulle tyd saam deurgebring het. God soek na hulle, maar daar is geen antwoord nie. Die mens kruip weg, want iets het gebeur. Die vriendskap is aan skerwe, daar is onheil in die lug. Die liefde, die mooiste en broosste van alle plante in die tuin, is vertrap. Dit sou duisende jare neem om weer te groei.
In hierdie tuin vind ons dat die rolle omgeruil is. Mense, gevul met teleurstelling en geweld in hulle harte, kom na ‘n tuin teen die aand, opsoek na Iemand. Soos almal van ons, is hulle opsoek na God, maar hulle weet nie hoe Hy lyk nie.
Jesus kruip nie weg nie. Hy is gereed vir die beker wat sy Vader vir Hom gegee het en Hy is gereed om dit te drink. Die nuwe "Adam" tree vorentoe om die ou Adam te ontmoet. Die Lig van die wêreld staan voor hulle met hulle blakers en fakkels. Die Lig skyn in die duisternis, en die duisternis kan dit nie blus nie.
Jesus vra: Wie soek julle? Hulle antwoord: Jesus van Nasaret. Vir hulle is Hy ’n gewone man, ’n bedreiging van wie hulle dink God is en vir wie God is. Hulle skewe beeld van wie God is, dryf hulle om hom te bedrieg, te verraai en uiteindelik te kruisig.
Jou beeld van hoe God is en hoe God “behoort” op te tree, kan jou op ’n pad van teleurstelling, ontnugtering en van wegloop neem. Kan ons van ons vooropgestelde idees laat vaar sodat ons Hom, “Ek is”, opnuut kan leer ken en ervaar?
Jesus sê as jy Hom sien, het jy die Vader gesien. Hy is die brood van die lewe, die lig van die wêreld, die opstanding en die lewe, die weg, die waarheid en die Lewe.
Gebed: Ek vra om genade om U bo alles te soek en U met vertroue en oorgawe te volg.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Wat beteken ‘n lydingservaring vir jou? Hoe sou jy dit in ‘n paar woorde beskryf? Vir Jesus was dit ‘n reis van lyding en sterfte op pad na opstanding. Vir ons as gelowiges is lyding ‘n reis om Hom te ken en die krag van sy opstanding te ondervind deur te deel in sy lyding, en só aan Hom gelyk te word in sy dood. Tydens hierdie reis deur Lydenstyd, bring ons 40 dae deur met die vrae wat Jesus in die laaste dae van sy lewe gevra het.
More
Ons wil graag Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: mosaiek.com