Mosaiek Lydenstydgids: Jesus se vrae in lydingVoorbeeld
"Daarna het Judas, sy verraaier, toe hy sien dat Hy veroordeel was, berou gekry en die dertig silwerstukke teruggebring na die owerpriesters en die ouderlinge en gesê: Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai"
- MATTEUS 27:3-4 (AFR53).
Mense debatteer al lank wat Judas se motief om Jesus te verraai kon wees. My versoeking tydens Lydenstyd is om Judas as ‘n skurk te veroordeel en vinnig verby hierdie moeilike deel van die verhaal te beweeg – op pad na Opstanding en die belofte van die leë graf.
Nie so haastig nie.
Ons kom nie by die opstanding uit sonder om deur hierdie moeilikste deel van die verhaal te gaan nie: die tragedie van gebrokenheid en die diep afhanklikheid van die Here se genade in elkeen van ons.
Ons weet dat Jesus vir Judas gekies het en dat Judas alles gelos het om Hom te volg. Toe Jesus gepraat het van die een wat hom sou verraai, was Judas nie 'n ooglopende verdagte nie. Hy was in Jesus se binnekring. Jesus en die ander dissipels het hom duidelik liefgehad. Dit laat my besef dat enige toegewyde volgeling van Jesus in staat is om Hom te verraai. Dit dring my om my eie gebrokenheid en my eie hart te ondersoek. Judas se optrede kan ook in my optrede voorkom.
Om Judas as ‘n skurk af te skryf, verhinder my daarvan om my eie hart te ondersoek – die dele waar ek Jesus se vergifnis en genade só nodig het. Judas, oorweldig deur skuldgevoelens en hartseer, kon uiteindelik nie die hoop en lig van die opstanding leer ken nie. Wat hy nie besef het nie, is dat ongeag die omvang van verraad, sonde of gebrokenheid, God se genade altyd seëvier.
Refleksie: Watter motiewe in my hart vermy ek om na die Here te bring?
Gebed: Ek vra om genade om van my tekortkominge bewus te raak en u vergifnis daarvoor te ontvang.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Wat beteken ‘n lydingservaring vir jou? Hoe sou jy dit in ‘n paar woorde beskryf? Vir Jesus was dit ‘n reis van lyding en sterfte op pad na opstanding. Vir ons as gelowiges is lyding ‘n reis om Hom te ken en die krag van sy opstanding te ondervind deur te deel in sy lyding, en só aan Hom gelyk te word in sy dood. Tydens hierdie reis deur Lydenstyd, bring ons 40 dae deur met die vrae wat Jesus in die laaste dae van sy lewe gevra het.
More
Ons wil graag Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: mosaiek.com